Met die oog op ons Spiritualiteit Konferensie gaan ons in Julie gesels oor die tema — YOU CREATE YOUR OWN REALITY — wat is die rol van ons Spiritualiteit in die skep van ons realiteit en hoe gee dit tasbare inhoud en betekenis in ons verwesenliking?
‘A Course in Miracles’ leer ʼn belangrike beginsel deur te sê, ons leef in twee wêrelde – die een is die wêreld wat nog altyd daar was en vir altyd daar sal wees en die ander wêreld is die wêreld wat ons skep in ons koppe. In die wêreld wat bestaan in ons kop is ons die middelpunt van ons heelal ... daarin gee ons betekenis aan alles wat ons is en wat met ons gebeur. Elke oomblik is gevul deur ʼn aksie en ʼn reaksie, oorsaak en gevolg, en die doel van dié lewe is om ʼn brug te bou tussen die twee sodat die Werklikheid (‘Waarheid’ volgens ACIM) versoen kan word met die illusies (drome) in ons kop. Hierin gee die Spirituele Psigoterapie van ACIM vir ons leiding om dit enersyds te verstaan en andersyds hoe om anders te dink, anders te reageer, sodat ons as skeppers van ons realiteit ʼn sinvolle lewe kan lei wat geken word aan Spirituele Volwassenheid wat verantwoordelikheid aanvaar vir ons lewe en ons verhouding met alle lewe om ons.
Wanneer ons kinders is, is ons fantasties om onsself te wees want ons het nog nie geleer hoe om ons andersoortigheid te sluier nie. Vra vir ʼn klas vol 5-jarige seuns, “Wie is die sterkste?” en almal se hande gaan op. Op 15 wys almal na iemand wat ons ‘dink’ is die sterkste. Soos Marianne Williamson dit mooi verwoord, “Children are happy because they don't have a file in their minds called "All the Things That Could Go Wrong.” Êrens in ons opvoeding (of is dit opfoetering?) het ons net eenmaal te veel gehoor, “Jy kan, of mag, nie dit of dat doen nie” en so het ons in die geut beland wat knaend vra: Do your limits define you, or do you define your limits?
Wanneer ʼn mens aan die verkeerde kant van 50 is, raak ons (weer) eerlik met onsself want ons raak minder verdedigend, minder kompromieë maak ten koste van onsself want ons weet daar is meer somers agter ons as wat daar voor ons is. Dit is nie ʼn etiket van “eksentriek” nie maar meer “outentiek”.
Wat ʼn heuglike dag sal dit nie wees as ons êrens in ons curriculum vir ons kinders kan leer hoe om om te gaan met ons vrese; hoe verwerk ons mislukking en verwerping, en waar vind ons ons ‘TRUE MIRROR’ ... sodat ons as volwassenes dit nie net sal onthou nie maar ook ʼn voorbeeld daarvan sal wees? Dit vra eerlikheid en verantwoordelikheid met onsself. Dit vra dat ons dapper sal wees met die waarheid van onsself, vir onsself. Dit vra dat ons braaf genoeg sal wees om met integriteit eerbaar te wees in ons besluit (keuse) om skeppers van ons eie realiteit te wees. ONS besluit hoe ons op goed gaan reageer — gaan ek toelaat dat my hartseer my uitteer en my siel krepeer van ellende; gaan ek toelaat dat my of iemand naby my se siekte my roof van ʼn lewe van dankbaarheid en so die lewensles daarin mis; gaan ek toelaat dat die spanning tussen my en iemand anders oorloop in konflik, woede, verwyt, haat?
Waar ons tot die besef kom dat — YOU CREATE YOUR OWN REALITY — draai ons dapper na ‘THE TRUE MIRROR’ ... not looking AT myself, but FOR myself. Dit is waartoe ons onsself beywer by Neo-Spektrum — om mense herinner dat verandering begin in onsself deur getrou te wees aan ons Self! Om die Ware Spieël op te hou waarin ons nie net onsself herken, erken, ken nie maar ook deurleef besluite kan maak, nie vanuit EGO-denke nie maar vanuit SIEL-denke.
Ek kry so mooi briefie van iemand wat haar ervaring deel van ons Wysheidsirkel. Nie net het dié brief die tema geïnspireer vir Julie nie maar dit sê ook iets van my eie ervaring van ons geloofsgemeenskap. Sy skryf, “Dit is altyd sooooo lekker as die moontlikhede realiseer wat ek besluit het om te kies as my realiteit. Ek onthou hoe ek spesifiek 'n jaar voor dat ek by NS ingestap het vir die eerste keer aan iemand my diep wense uitgespreek het dat ek 'n holte vir my voet gesoek het - 'n plek waar ek nie so alleen voel oor die manier wat ek God ervaar nie. Toe ek daai eerste blik neem op die sirkel en die verligte kruis voor in die kapel het ek letterlik gevoel hoe my voete ingly in my skoene toe ek by die trappies afstap. Ek kon weer asemhaal in die wete dat my wense alreeds lankal vervul was.”
Waarlik, dit het tyd geword om die woord impossible te verander na i’mpossible [I am possible] ... lees ek so mooi gedig raak oor “Never Trust a Mirror” wat my die vraag laat vra het oor “THE TRUE MIRROR” want daardie SPIEËL vind ons aan die binnekant. Daar waar die hart in die boesem van ons siel loop lê. Daar waar ons ons realiteit skep vanuit ons outentieke, eerlike waarheid. Daar waar Seun van die Mens, Seun van God word en ons human consciousness oplos in ʼn Divine Consciousness.