Ons is steeds besig met ons tema oor — ‘ONS SKEP ONS EIE REALITEIT’ — twee Sondae gelede sou ons verder gesels het oor die invloed van ons emosies op dit wat ons ervaar as realiteit maar ʼn pes van ʼn virus het ʼn ander ‘realiteit’ geskep ... eerskomende Sondag gaan ons egter die gesprek voortsit.
Die afgelope jaar is soveel mense oorlede wat ek goed geken het wat ʼn mens met ʼn groter sensitiwiteit laat vra, “Wat is relevant en hoe gee ons sin aan ons lewe?” Ons hardloop holderstebolder deur die lewe en voor ons ons oë knip, is nog ʼn jaar verby. Vanweë die beroep wat my gekies het, was ek in ʼn situasie waar ek voor die ouderdom van 30 meer mense sien sterf het as wat die meeste mense in ʼn leeftyd sal ervaar. Uiteraard het dit ʼn realiteit van ‘sterflikheid’ by my geskep wat tot gevolg gehad het dat ek nog altyd gesien is as ‘intens’ en ‘ernstig’ ... maar, as ek vandag daarna terugkyk, besef ek dat die grootste lewenslesse het ek geleer by mense wat sterwend was. Gesprekke wat onverdun die waarheid van iemand deel wat niks het om te verloor nie.
Die rou, eerlike realiteit van iemand wat terminaal siek en sterwend is, het ʼn enorme invloed in my uitkyk en verstaan van my eie realiteit gehad. Van hulle het ek geleer — om met vurige passie my drome na te volg; om lief te hê sonder verskonings; om te vergewe sonder verwyte; om uit ons oorvloed te deel met ander; om dapper genoeg te wees om ʼn kans te vat; om my foute te aanvaar; om humor te vind in al my geite en nukke; minder stres en meer drukkies; minder ‘moenies’ en meer ‘moontlikhede’; en om dankbaar in die NOU te leef. Hoe dikwels moes ek al dié waarheid aan myself erken — we talk ourselves out of living; we talk ourselves out of chasing dreams! — en blameer ons omstandighede of ander mense se doen en late vir ons realiteit.
Niks het ʼn groter invloed op ons realiteit as ons intensies, gedagtes, en emosies oor goed wat ons dink/glo ons NIE het nie. NIE genoeg tyd; nie genoeg sekuriteit; nie genoeg intimiteit; nie genoeg wysheid; nie genoeg vrede; nie genoeg erkenning; nie genoeg waardering nie. Ons klou krampagtig vas aan al ons genoegens en glo dit sal ons gelukkig maak tot ons op ʼn dag voor die laaste deur van ons lewe staan dan val al ons lysies weg en roep ons na dit wat die werklikheid (waarheid) is ... dit wat werklik waarde het ... en besef dit was al die tyd daar, ons het dit net vergeet.
Dikwels gee óf ontvang ons die advies van “LET IT GO!” en dit is eers nou onlangs dat ek besef het wat dit regtig beteken: dit is nie “Letting go ...” aan ʼn persoon of situasie nie maar aan die ‘labels’ wat ons hang om mense en omstandighede. Die oomblik as ek my ‘labels’ oor goeters en mense laat los dan sorteer die werklikheid mý realiteit vanself uit. Ons leef in ʼn storie wat ons vir onsself vertel. Elke dag maak ons ʼn nuwe bladsy oop en dan begin ons dag se verhaal. Ons besluit wie is in ons storie en nog meer belangrik – ons besluit hoe ons gaan reageer op ander mense se stories wat ons in ons eie storie inkorporeer. Maak nie saak wat gebeur in ons lewe nie, die mag/krag is in ons hande hoe ons daarop gaan reageer — en ons reaksies (emosies) bepaal ons realiteit. So simpel soos dit!
As ek die hero is van my storie dan sien ek geleenthede en voel waardering, is ek geïnspireer en emosioneel sterk, fisies onverbiddelik en spiritueel onwrikbaar. Is jy die hero van jou storie ...? Indien nie, mis jy die hele punt van jou bestaan en bydrae tot jou milieu. Solank as wat ons soek na ʼn hero wat my lewe sal kom regruk en betekenis gee, dobber ons rond op die oseaan tot ons die dag besef, ék is die hero van my storie – ék is die outeur en regisseur van my verhaal (realiteit)! Ons speel te veel die victim-versus-villain drama en krabbel oor en oor dieselfde storie wat ons in gisters gevange hou of toe te laat dat mense keer op keer met hul drama-karakters ons môres se geluk bepaal. Soms laat ons selfs toe dat ander mense ons storie skryf en is dan hoogsontsteld oor hul misgissing van wie ons werklik is.
Vandag is ʼn nuwe dag — tel jou pen op en verander jou storie. Word/wees weer die hero van jou verhaal en sien hoe jou drome materialiseer en jy skynbaar onoplosbare situasies met nuwe oë en energie oplos. Die werklikheid is verbasend simpel en eenvoudig ... dit is ons wat met ons selfopgelegde ballingskap en verwronge realiteit dit vir onsself moeilik maak. Jou lewe gaan verander die dag wanneer jy gaan begin verantwoordelikheid aanvaar vir dit!
Kom ons gesels eerskomende Sondag oor die VYF goed wat ek altyd met ouers deel wat vra vir ʼn Ritueel van Seëning vir hul kind sodat ons as volwassenes dit sal onthou --
DÍT is die sirkel waarin ons ons realiteit skep — liefde, aanvaarding, respek, medemenslikheid, seëninge — om sodoende in ‘equilibrium’ is te wees met die Werklikheid (Waarheid).
ʼn Geseënde week vir elkeen van julle.
ACIM: Kolping — 13 Augustus 19h00. Stad 24 Augustus 19h30 — Chapter 17: Forgiveness and the Holy Relationship, Section V ‘The Healed Relationship’ en verdere gedeeltes P362 Hardeband Boek
Besoek ons Facebook
Gedagte vir die Week:
“What are you waiting for? How long will you keep waiting? Don’t sit back and wait for life to happen to you. Have a plan and take the needed steps to create what you want.” — Steve Marabouli