27 September 2015

Vir die laaste maand het ons gesels oor DIE MISTERIE VAN LEWE en reeds gesels oor --
·        Die misterie van lewe in die algemeen en my lewe spesifiek.
·        Die misterie van geboorte en dood.
·        Die misterie van God se liefde en genade.
En eerskomende Sondag gaan ons ons gesprek afsluit en gesels oor ...
·        Die misterie van ewigheid (hemel en hel).
Van alles wat die moderne mens verstaan oor ons plek in die heelal, makro- en mikrokosmos, die natuur- en lewenswetenskappe, ekonomiese- en politiekesisteme, en alles wat eindig met ʼn –isme en ʼn –logie, is dit verstommend hoe die meeste Westerse mense steeds vashou aan ʼn premoderne, Middeleeuse geloof oor ‘hemel en hel’ as dimensionele plekke waarnatoe jy gaan as jy sterf. Nog meer verstommend is die oordeel wat mens op jouself bring as jy krities is oor hierdie dogma en hoe maklik bordjies van veroordeling gehang word om mense wat nie glo dat hierdie fundamentalistiese God-, mens-, en wêreldbeskouing nog plek het in ons Christelike Spiritualiteit nie. In my beskeie mening, het die hele idee oor ʼn ‘hemel en ʼn hel’ net meer skade gedoen aan mense se geestesdenke as goed. Die bekende aanhaling van Mary Doria Russell uit haar boek ‘The Sparrow’ verwoord my eie gevoel hieroor, “I really resent the idea that the only reason someone might be good or moral is because they're religious. I do what I do, without hope of reward or fear of punishment. I do not require heaven or hell to bribe or scare me into acting decently...” In sy antwoord op die Christendom het Krishnamurti onder andere gesê, “Heaven and hell are words to frighten you to right action.”

Asof die samelewing nie reeds verstik aan skuldgevoel en vrees nie, het die kerk, met alle respek gesê, die hele idee oor ‘hemel en hel’ geannekseer om mense in nog verdere skuldgevoelens en vrees te dompel. Miskien is dit al te veel gesê en word daarom nie meer gehoor nie — die psigologiese implikasies en konsekwensies van ons gevangenskap tussen gister (skuldgevoelens) en môre (vrees) het ʼn direkte invloed hoe ons oor onsself, mense om ons, en God dink. Vir die meeste van ons is ons lewe ʼn weghardloop van gister en ʼn vrees oor môre en het ons godsdiens ʼn brug geword tussen die twee met geen uitkoms dat ons enige iets aan VANDAG kan doen nie — asof die mens se brein verlore raak in die teenswoordige tyd.

As dit gaan oor ‘hel’ is dit altyd iemand anders se skuld en as dit gaan oor ‘hemel’ is dit altyd êrens anders. Nie een van die twee het te doen met my óf die nou nie. Vir te lank reeds praat die Teologie oor hemel as in ʼn ander tyd, op ʼn ander plek — nooit hier en nou nie miskien omdat dominees te bang is om te praat oor die hemel is VANDAG want niemand is reg daarvoor nie. “You grow to heaven. You don’t go to heaven” het Edgar Cayce gesê. Jesus praat oor-en-oor daaroor hoe ons slawe van ons begeertes, verwagtinge, en behoeftes geword het en waarsku dat as ons ʼn slaaf daarvan is, het dit ernstige psigologiese, emosionele, intellektuele, en spirituele gevolge. Daarom sy vermanende opdrag, “Soek eers die Koninkryk van God” (Matteus 6:33) want as ons die Koninkryk van God eerste kies, maak dit geen verskil wat ons daarna kies nie – ons sal ons balans en harmonie met onsself, ons ewemens, en God behou ... en DÍT is hemel.

Ons preek van kansels af dat hemel is ʼn EEN-MET-GOD en as iemand sterf gaan sy/hy HUIS TOE want, word daar geglo, hemel is ʼn eksistensie van ons lewe hier op aarde. Máár — jy moet jou sake in orde kry, ʼn beter outjie wees, die regte goed doen sodat jy iets het om te wys vir jou lewe, en eers iets word (verkieslik Christen) voor jy aanvaarbaar is vir God. Kultuur-histories kan ons verklaar waar die oorsprong van ‘hemel’ lê in ons tribal religions. Ons verstaan die invloed van die Griekse drie-verdieping-heelal op die Christendom; ons erken die invloed van die Romeinse Mithras godsdiens op die vroeë Christen kerke; en hoe die spore van Elysium (beloning) en Tartarus (oordeel) teruggevolg kan word tot in die oerbeskawings van Egipte en Babilonië.

Dit is duidelik uit die leringe van Jesus dat hy verstaan het dat hemel moet IN my wees voor ek in die hemel kan wees. Dat ons onlosmaaklik deel/een is met God en dat die krag wat in en deur ons vloei nie van ons is nie want hemel (koninkryk van God) lê in die spirituele domein en is nie ʼn fisiese plek nie. As Jesus praat van die Lewende Water dan reën dit uit ha-shamajim (die hemel) as die plek waar God die waters hou. Vir Jesus is God nie los van die skepping nie, God IS die skepping! God staan nie buite ons verhoudings nie, God IS ons verhoudinge! God is soos die danser wat één is met die Dans ... jy kan nie die danser van die Dans skei nie ... as jy die Dans verstaan, verstaan jy die danser.

Preek na preek, gelykenis na gelykenis, vermaning na teregwysing, wys Jesus daarop dat om lief te hê, is hemel. Wat se aardse pyn of sorge is daar wat hemel (liefde) nie kan heel nie? In sy voorbeeld en getuienis wys Jesus dat daar net één pad is na die hemel en op aarde noem ons dit ‘LIEFHÊ’ ... die pearly gates lê in die siel-denke wat nie vra hoekom jy nie ʼn Ghandi, moeder Teresa, of Mandela was nie maar vra, “hoekom was jy nie JY [op jou naam] nie en hoekom het jy gesettle vir so min as ek vir jou soveel gegee het?” Die hemel word beërwe deur elkeen wat die hemel (liefde) in sy/haar siel dra.

Hel daarteenoor is ʼn plek (hier op aarde), ʼn tyd, ʼn bewussyn waar daar geen liefde is nie. Waarlik, God het die hemele en aarde geskape en die mens die hel. Die grootste aanklag teen die mens is die feit dat die geskiedenisboeke daarvan oorloop hoe godsdiens deur kerk en staat (mis)gebruik word om ʼn hel te skep op aarde. Beide is in die besigheid om BESKERMING te verkoop deur ʼn verwagting te skep. Beide is in die besigheid om VEILIGHEID te verkoop deur ʼn verwydering te skep wat die volgende oorlog, inkwisisie en jihad moet finansier. Na 4500 jaar van georganiseerde godsdiens word daar steeds ʼn hel geskep deur die bose (evil) goed wat ons doen in die naam van Godsdiens. In die naam van kapitalisme het ons ʼn welvaartsisteem geskep waar 99% van die wêreld se rykdom aan 1% van die mensdom behoort en terwyl die werkersklas uitgebuit word, is daar geen toerekeningsvatbaarheid by maatskappye wat hierdie ideologie promoveer nie. In die naam van demokrasie het ons ons menswaardigheid op ʼn silwer skinkbord weggegee en verontskuldig nóg staat nóg kerk homself om verantwoordelikheid te neem vir mense se emosionele, finansiële, intellektuele, en spirituele dors en honger nie. Geen wonder dat Nietzsche gesê het, “Man is the cruellest animal. At tragedies, bullfights, and crucifixions he has so far felt best on earth; and when he invented hell for himself, behold, that was his very heaven.”

Hemel is, en sal altyd wees, die oomblik waarin ons God sien — daar waar ʼn koekmakranka plantjie deur die harde aardkors beur na die eerste reën in die Karoo; die soen van ʼn pa op die ma van sy kind se voorkop pas nadat hul die nuweling in haar arms gelê het; ʼn vreemdeling wat vir die bergie ʼn brood gee deur sy vensterruit;  ʼn polisieman wat stilhou om ʼn bejaarde vrou oor die pad help; die onverwagse klapsoen van my kind; ʼn verpleegster wat vir ʼn pasiënt ʼn gebed doen; daardie stilte in ons kapel as ons ons oë sluit sodat ons die hemel sien wat in en om ons is. So word die misterie van hemel ontsluit in elke gebed wat vra, “Laat U koninkryk kom, op aarde soos in die hemel” want vandag is ewigheid in ʼn oomblik, hemel in die nou!

Kom ons gesels Sondag oor die Misterie van Ewigheid in elke oomblik waar ons bewus word van die Liefde wat in en deur ons klop.

ACIM: Kolping: 1 Oktober 19h00. Stad: 28 September 19h30 — Chapter 6: The Lessons of Love — P91 Hardeband Boek

Besoek ons Facebook

Gedagte vir die Week:
“God's project is not to snatch people away from earth to heaven but to colonize earth with the life of heaven. That, after all, is what the Lord's Prayer is about.” ― N.T. Wright, Surprised by Hope 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights