Liturgie: 26_junie_2016
Net van ʼn handvol mense kan gesê word dat hy/sy werklik die geskiedenis van die mensdom verander het. Paulus is een van hulle. Wie was hierdie man wat 14 van die 27 boeke in die Nuwe Testament geskryf het? Wat was sy aspirasies, motivering, en oortuiging? Sy Hebreeuse naam was Sha’ul ha-Tarsi of soos ons dit ken uit die Griekse Bybel, Saulus van Tarsus. As beide Jood en Romeinse burger sou hy sy dual citizenship gebruik om die evangelie (goeie nuus) van Jesus te versprei in die ganse Romeinse Ryk waarsonder ʼn mens sou kon argumenteer — die Christendom dalk nooit sy wortels so diep sou plant dat dit die geskiedenis van die Westerse beskawing sou verander het nie.
Ons leer Saulus ken in die boek Handelinge (Acts of the Apostles) en dan uiteraard in sy eie werk wat volgens die boek Handeling (geskryf deur Lukas, ʼn dissipel van Paulus) ʼn lewensverandering ervaring gehad het op pad tussen Jerusalem en Damaskus, die hoofstad van Sirië. Vreemd genoeg maak Paulus self nooit melding daarvan nie behalwe ʼn enkel sin in die brief aan die gemeente in Korintiërs waar hy praat van “Jesus het IN my verskyn om die heerlikheid van God te openbaar” — en dit van ʼn man met baie onderliggende woede teenoor die vroeër Christendom waarmee hy hulle sou vervolg omrede hulle verkondig het dat dié Jesus wat soos ʼn krimineel gekruisig is onder die aanklag van Godslastering nou verhef is tot ‘Messias’ wat die Joodse volk moes verlos, nie van onderdrukking deur die Romeinse Ryk nie, maar van sonde, skuld, en straf. Wat ons wel weet, is dat iets het gebeur met die man wat op pad was om dié ‘sekte’ te vernietig en toe self deur ʼn transformasie is. Só profound, dat hy man-alleen die Christendom sou uitbrei en gemeentes stig wat die fondasie sou wees vir die Christendom soos ons dit vandag ken. Sy spirituele blindheid wat drie-dae-en-drie-nagte sou duur, verander Saulus — from prosecutor to believer ... en gee aan hom ʼn nuwe naam, Paulus (beteken: nederig).
Hy gaan nie terug na Jerusalem nie maar na die oseaan van golwende woestyn sandduine in Arabië, oos van die Jordaanrivier. Hoe lank hy daar was, weet ons nie want Arabië was nie net ʼn plek nie maar ook die magtige koninkryk van die Nabataeans waarvan Petra die hoofstad was. ʼn Stad wat alles sou simboliseer van ʼn hoog gesofistikeerde samelewing. Hy verwys nooit na Petra in sy briewe nie maar sou hy hier dalk die eerste keer begin het om vorm en inhoud te gee aan sy ervaring met God deur Jesus die Messias? Wat ons wel weet, is dat koning Aretas van die Nabataeans hom probeer arresteer het toe hy terugkom in Damaskus en ek dink nie dit was omdat Paulus in stilte gesit en mediteer het op ʼn sandduin nie maar dat hy, soos vele kere daarna, genoeg ge-stir het dat hy vir sy lewe moes vlug. Toe die Jode in Damaskus ook teen hom draai, vat hy die pad na sy geboortedorp (Tarsus) in die Romeinse provinsie van Cilicia in die suide van vandag se Turkye, waar hy 14 jaar sou woon.
Tarsus was toe reeds 2000 jaar lank ʼn kosmopolitaanse hawestad waar immigrante skouers sou skuur en idees so maklik soos geld, sou wissel. ʼn Stad met ʼn eie universiteit wat begin is deur Alexander die Grote en ʼn intellektuele elite, ongeken vir die destydse antieke wêreld. Wat het hy gedoen in hierdie lang periode van sy lewe waarvan ons niks weet nie? Wat en wie sou hom beïnvloed vir dit wat voorlê en hoe sou die tyd wat hy weg was uit Jerusalem sy geloof vorm? Al wat ons wel weet, is dat die geloof wat hy verkondig het baie verskil het van die Christen geloof wat geglo en geleer is in Jerusalem. Die vroeë Christen gemeente in Jerusalem was Jode wat geglo het dat al die wette van Moses steeds geld vir die Christendom. Bybelkundiges argumenteer al vir eeue oor die feit hoe dit moontlik was dat Paulus wat na homself verwys as ʼn “toegewyde Jood” so radikaal kon breek met die Torah en eerder ʼn inklusiewe, universele evangelie sou verkondiging onder mense wat nooit deel van die Jode was of sou wees nie?
Tarsus was ook bekend vir sy “secret wisdom” soos na verwys word uit vele nie-Bybelse geskrifte. Die Romeinse god Mithras is hier vereer en aanbid waarvan die bekende gebed aan Mithras in die hart en op die lippe van elke inwoner was — “Spirit of Spirit, if it be your will, give me over to immortal birth so that I may be born again, and the sacred spirit may breathe in me.” Die Mithras geloof het ʼn ritueel gehad van doop; dit het geglo dat Mithras opgevaar het na die hemel en weer sou kom om te oordeel oor regverdiges en sondaars en dat Mithras die bewaker is van die sewe hemel sfere waardeur elke siel moet reis om uiteindelik deel te word van die hemel waarin God regeer.
Herhaalde kere sou Paulus die volgelinge van Jesus waarsku teen die aanbidding van pagan-gods en om getrou te wees as die God van Israel. Anders as die Joodse Christene in Jerusalem sou Paulus sy boodskap versprei onder ʼn multikulturele samelewing en tog sien ons keer op keer hoe die invloed van hierdie sogenaamde pagan-godsdienste hul pad vind in die Christendom ... byvoorbeeld: die fees van die begin van lente word die fees van Jesus se opstanding; die winter fees van Mithras se geboorte op 25 Desember word die fees van Jesus se geboorte en ons eie spirituele wedergeboorte. Kan dit wees dat Paulus se teologie beïnvloed was deur die kultus en rituele van hierdie misterie godsdiens? Die sentrale tema van Paulus se teologie gaan oor ‘dood en opstanding’ — nie as fisiese, biologiese gebeure nie maar as ʼn diep spirituele ervaring wat nie net alleen beïnvloed kon wees deur die Mithras geloof nie maar ook deel was van die Joodse Mistiek. Hoe dit ook al sy, het die boodskap van Paulus gemaklik geval op die ore van nie-Jode — enersyds deur sy onverskrokke, byna onmenslike determinasie maar andersyds ook omdat daar iets universeel versoenbaar (compatible) was met die Evangelie wat hy verkondig het en die godsienste waarmee sy gehoor vertroud was. Die tyd van Paulus, in die gebiede wat hy besoek het onder die sogenaamde Pax Romana (vrede van Rome) was die Romeinse Ryk geken deur korporatiewe misbruik waar die rykes al hoe ryker geword het en die armes al hoe armer. Die uitbreiding van dié Ryk het gepaardgegaan met duisende mense wat ontwortel is en gedwonge verplaas is na stedelike gebiede waar hulle soos slawe moes werk om ʼn familie te onderhou. Die imperialistiese uitbreiding het baas probeer speel oor alle sosiaal maatskaplike sisteme want die Romeinse Reg sou die enigste weg, waarheid, en lewe word wat tot vandag toe nog die regstelsel is wat gevolg word onder andere in Suid Afrika.
Wat ook al aanleiding daartoe gegee het, iets het Paulus oortuig dat Jesus se wederkoms (net soos Mithras) sou plaasvind in sy leeftyd en het hy geroepe gevoel om soveel as moontlik mense te ‘bekeer’ tot die Christendom. Om en by 50AC (Paulus was toe 45 jaar oud) het hy Tarsus verlaat om die boodskap van Jesus met fenomenale sukses aan soveel as moontlik mense te verkondig. Oor die volgende 10 jaar sou hy drie epiese reise aanpak na die hoofsentra van die destydse antieke wêreld. Van Antiogië in die noorde van vandag se Libanon na Ikonium in Turkye; van Patara na Efese; van Tessalonika na Atene en Korinte. ʼn Paar keer sou hy ʼn baie onwelkome terugkeer na Jerusalem hê wat hom weer sou dryf op ʼn nog verdere bestemming. Partykeer per see en oor land, soms alleen en soms met medereisigers — sover as tot in Spanje (Rom 15:24) en op die ou einde in Rome self waar hy sou sterf onder die bevel van Nero.
Hy is meer as eenkeer vervolg, gestenig, met swepe geslaan, in gevangenisse gegooi, gemartel en vir dood agtergelos maar niks, niks kon hierdie man stop om die Evangelie te verkondig nie ... waarin sy woorde aan die ouderlinge in Efese ook my eie getuienis sou word — “Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.” (Hand 20:24)
Teen hierdie agtergrond gaan ons Sondag stilstaan by die lewe en invloed van Paulus. Ons gaan aan die hand van enkele verse aan die onderskeie gemeentes kyk na die betekenis daarvan vir ons lewe vandag. Paulus se boodskap oor die liefde en genade van God moes baie gebrokenes van hart se lewe geraak het — “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.” (2 Kor 5:17). Sy laaste woorde aan die jong Timoteus som die laaste ure van sy lewe op — “Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou.” (2 Tim 4:7)
Sy visie van menslike potensiaal deur die liefde van God is vandag nog die essensiële boodskap van Christus aan die ganse mensdom!
Ons skop (voet bedoelende) weer af met ACIM na die winter skoolvakansie ... teen daardie tyd sal ek 100% mobiel wees!
Besoek ons Facebook
Gedagte vir die Week:
“En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!” — Paulus se woorde aan die gemeente van Korinte (1 Korintiërs 13:13)