Liturgie: 19_februarie_2017
Evelyn Glennie is gebore in 1965 in Skotland. Haar pa was ʼn trekklavierspeler in ʼn groep op die dorp wat gereeld bymekaar gekom het om tradisionele musiek te speel. Hy het haar as ʼn klein dogtertjie geleer om mondfluitjie en klarinet te speel. Haar liefde en belangstelling in musiek sou haar vat na die dromme en vandag is sy bekend as een van die beste slaginstrument spelers in die wêreld. Sy het studeer aan die Ellon Academy en later by The Royal Academy of Music. Die merkwaardigste van dié talent is die feit — Evelyn Glennie is doof.
Haar eerste musiekonderwyser het gesê dat hy nie weet hoe hy haar gaan leer nie want musiek gaan alles oor ‘luister’ ... “Hoe luister jy?” het sy hom gevra. “Met my ore” het hy geantwoord. “Ek ook,” was haar reaksie “maar ek luister ook met my oë en my hande, met my maag en my voete.” En so het hul reis begin deurdat sy haar handjies teen ʼn instrument gesit het om te ‘voel’ as hy speel. Die vibrasies, die frekwensies, die eggo’s, die timbre (klankkleur) het sy ervaar met elke grein van haar menswees. Die note en melodieë het in haar kom lê soos ʼn embrio wat baba word. Keer op keer sou sy geboorte gee aan ʼn interpretasie van musiek wat baie ander percussionist in skaamte agterlaat ... want Evelyn Glennie luister eers, en dán hoor sy!
Die vraag is, hoekom hoor ons wat ore het nie meer ʼn noot van die instrumente langs ons nie? Kan wees dat ons nie meer die dissipline het om ʼn musiekblad te bestudeer nie en alles ‘op gehoor’ wil speel en nie eers meer die verskil ken tussen ʼn wals of ʼn tango, die allegro of adagio nie. En soos ons hardhorend begin raak het vir ander se stemme om ons (want daar is gewoon te veel) het ons toenemend meer en meer begin doof raak vir die stem van die Groot Simfonie.
Simon & Garfunkel se ‘Sound of Silence’ sing — People talking without speaking, people hearing without listening ... wat nie net waar is van ons gesprekke met mekaar nie maar ook vir die intieme, interne gesprekke tussen ons en God. As God nie praat in vokale en konsonante nie maak dit nie sin nie. As dit nie in Afrikaans is nie het ons moeite. Vir die meeste Christene word God se stem uitsluitlik gevind in die Bybel en in besonder die gebooie — al die moets en moenies wat die God van die Heelal verwag van die mens op dié planeet en wie se ‘stem’ ons moet gehoorsaam anders is die uitkoms ʼn vuur waarin ons vir ewig gaan brand. God daarenteen, glo ons, hoor net ons stemme as ons bid, vra, smeek, soebat, sing, loof, en eer. In besonder as dit vanuit ʼn kerk en verkieslik ʼn Christenkerk kom.
Van die ± 4200 godsdienste op dié planeet glo elkeen dat hulle die ‘stem van God’ die beste hoor en roem elkeen daarop om die eienaars van die waarheid te wees. Hoe is dit moontlik dat die ‘stem van God’ uitsluitlik tot die kader van religie behoort en begrens kan word tot ʼn spesifieke geloof? Die ‘stem van God’ is tog metafories want God is geen mens met ʼn alfabet nie. Al sou ons soms die ‘stem van God’ vind in die ou sitate en boekrolle van die Bybel en dit hoor in rites en sien in die simbole van ons spesifieke godsdiens, is dit tog veel wyer/dieper as dit. So, wat en wie is hierdie stem? Waarna luister ons as ons sê ons luister na die stem van God?
Miskien was dit die klein seuntjie in sy maroelaboom in verre Noord-Transvaal, of die kind wat op sy maag op die watertenk gelê en kyk het na die Modjadji berg ten spyte daarvan dat hy ten sterkste verbied was om op die watertenk te klim. Dalk was dit die tiener wat gerebelleer het teen silly stupid reëls op skool oor hare se lengte en hoe laat jy mag stort en op watter rak jou onderklere mag lê in jou koshuiskas. Vermoedelik die student met ʼn duisend vrae oor ʼn God wat nie gehoor of gespel kan word nie en net gevoel en ervaar kan word. Toe ek 25 jaar gelede van ʼn kansel af sê dat God se stem word in al die godsdienste gehoor en dat die Christendom nie eksklusief is nie moes ek my saak voor die ‘Ring’ gaan verdedig en weggekom met ʼn ernstige vermaning om my New Age gedagtes vir myself te hou en by die kerkleer te hou. Wel, 25 jaar later is ek meer as ooit oortuig dat die Bybel nie die eerste en laaste woorde van God aan die mens is nie. Dat God se stem gehoor word in die stemme uit ons verlede soos Martin Luther King, Mahatma Gandhi, Bonhoeffer, Oscar Romero, Thomas Merton, Rumi, Beyers Naude ... maar ook stemme uit ons hede soos Eckardt Tolle, Marianne Williamson, Neale Donald Walsch, en Thomas Berry.
Dat God se stem gehoor word uit die ganse skepping wat die wêreld van wetenskap en wiskunde insluit. Dat God gehoor word in die stem van ons intuïsie (taal van consciousness), die stem van gedagtes (taal van awareness), die stem van woorde (taal van presence), die stem van ervaring (taal van awakening), en die stem van ons aksies/doen (taal van rebirth). Dat die alomteenwoordigheid van God net so duidelik hoorbaar is in kwantum-fisika as die non op haar knieë in die Alcobaça Klooster in Portugal. Dis my beskeie opinie dat ons nie die ‘stem van God’ hoor nie want ons luister nie — omdat ons te besig is, te vol van onsself, en God gerantsoeneer het tot iets opsioneel wanneer dit ons pas, waar dit ons pas, hoe dit ons pas.
Scott Peck skryf op ʼn plek, “True listening requires a setting aside of oneself” — die stem van God wat ALTYD daar is in ALLES vir ALMAL. Ons religieuse taal is op beste ʼn menslike poging om daarop te antwoord. Hoe hartseer is dit dat die kerk ʼn wolk van akademiese jargon geskuif het tussen God en mens met ʼn taal wat nóg mens nóg God verstaan. Niemand moet namens God wil praat nie en as ons (as kerk) werklik ʼn moderne, gesofistikeerde stem wil hê in die wêreld vandag sal dit ʼn stem wees wat hom/haar uitspreek teen onbillike ekonomiese praktyke; sosiaal maatskaplike kondisies wat ondraaglik is; en ʼn harde stem oor die rooi ligte wat brand in die natuur wat verguis word deur die mens en afstuur op ʼn katastrofe. Dat die relevansie van die kerk nie afhang van sy d(r)ogmas nie maar in die mate wat ons as Christen gelowiges die stem vir God word in ʼn wêreld wat smag na — expanded understanding; enlarged perspective; extended meaning; as an engaged and inspired voice FOR God.
In die maand waarin ons gesels oor — RESET OUR EARS -- kan ons Sondag gesels wat dit beteken om OOP te wees om die Stem te hoor en OOP om daarop te reageer. Die hemele is oop vir mense wat oop is. Waar ons oop is kan die Heilige Gees (the voice FOR God) beweeg deur ons sensitief te maak om mekaar se stemme te hoor, ons bemiddel om ʼn geloofwaardige stem te ontwikkel wat ʼn groter weergawe van God sal ontdek as die een wat met vokale en konsonante bevat kan word.
🌺 ACIM — Stad 27 Februarie 19h30; Kolping 16 Februarie 19h30 — Chapter 12: The Holy Spirit’s Curriculum (p215)
Besoek ons Facebook
Gedagte vir die Week:
“...most people in the world don't really use their brains to think. And people who don't think are the ones who don't listen to others.” ― Haruki Murakami