Liturgie: 19_maart_2017
Ons is in die Lydenstyd van die Kerklike jaar. Elke jaar, vir 46 dae, staan die Christenkerk stil by die herdenking van Jesus se lyding, sterwe, en ‘opstanding’ as ʼn tyd van introspeksie, oordenking, en toewyding. Ons probeer vir onsself die inhoud en betekenis van hierdie gebeure, 2000 jaar gelede, te verwoord om daarin die sin en waarde te vind van ons eie geloof, hoop, en liefde. Hoe hartseer is dit nie dat vir so baie Christene in dié land gaan dit ongesiens verby. As ʼn mens verduidelik dit begin met die Woordfees en eindig met KKNK sal ʼn paar seker ʼn verwysingraamwerk hê maar waarom dit dié belangrikste tyd van die Kerklike jaar is, is vir die meeste sonder invloed. Daarom die relevante vraag vir dié maand — WAAROM NOEM ONS ONSSELF CHRISTENE?
Dit was êrens op Hoërskool toe ʼn man, wie se naam ek vergeet het, ons skool besoek het om te vertel dat as ons ons plate agteruit speel, sal ons die ‘demoniese’ boodskappe hoor. Ek weet nie hoeveel platespeler-naalde ek gebreek het in ʼn poging om desperaat te hoor wat die duiwel deur die musiek agteruit fluister nie. Hy het ook namens God gevra dat ons al hierdie plate sal breek en verbrand om die demoniese band te breek. Baie kinders het daardie dag vorentoe gegaan om hul harte vir Jesus te gee. Miskien was dit die rebel in my maar ek het nie kans gesien vir een van die twee nie ... as die duiwel iets te sê het, kan hy dit in my gesig sê.
Daar sou baie sulke praatjies volg deur my tienerjare. Manne in ʼn uniform wat sou kom praat oor die Kommuniste; dominees in swartpakke wat sou kom waarsku teen die Katolieke; en onderwysers wat jou sou bangpraat oor die swartes (die ander woord wat met ʼn ‘K’ begin) en so sou die Afrikaner sy eie KKK (Ku Klux Klan) hê wat die God van liefde sou wring in die geut van vrees, agterdog, opinies, wette en selfgeregtigheid. Onnodig om te sê hoe ironies ek dit vind dat Paasnaweek dan ook oorskadu word deur KK(N)K.
Selfs as teologiese student was daar by my die indruk dat om Christen te wees, is alles wat boring is. Jy mag nie dans nie, mag nie drink nie, geen wêreldse plesier of genot want Christenskap gaan oor gehoorsaamheid aan al die reëls en regulasies. Die ‘Woord van God’ is voorgehou as die instruksies van hoe ons moet aantrek, wat ons mag eet, hoe ons die Sabbat moet vier, wat van priesters en predikante verwag word, en hoe diegene wat die ‘wet’ oortree, gestraf moet word. ʼn Hele teologie is ontwikkel rondom ‘skuldgevoel’ en ‘vrees’ wat onhoudbaar geword het. Te veel moes ek my Christenskap verdedig vir die wat honger en dors na ʼn liefdevolle God wat ons verdwaal en bang verstaan. Net eenkeer te veel moes ek aan tafels sit of voor ʼn gehoor staan waar die Christendom onder verdenking geplaas word oor wat (sogenaamde) Christene doen! Ek moes vir myself dit afvra: waarom wil ek myself nog ʼn Christen noem?
Vir agt-en-dertig jaar het ek dit volgehou (of is dit voorgehou?) om die ‘spel’ te speel — intellektueel kon ek identifiseer met Christen-wees; emosioneel was ek in ʼn geestelike nomade; spiritueel het my hart en siel geweet dat daar ʼn groter Waarheid is om te ontdek en te ontgin. Die meeste van die tyd sou ek my bes doen om die weirdos se verwaande “ons sal vir jou bid” en “jy moet net glo” te vermy. Daar was ʼn reuse disconnect tussen die Jesus waarin ek glo en die ‘volgelinge’ wat met verpligtinge en verwagtinge my óf wil bangpraat met ʼn hel, óf wil omkoop met ʼn hemel.
Christenskap, vir my, gaan oor ʼn verhouding met God. Hierdie verhouding word in die Christen tradisie herken, erken, geken deur ʼn verhouding met Jesus wat in sy lewe, leer, lyding, sterwe, en wedergeboorte vir ons kom wys en verduidelik het wat dit beteken om seun en dogter van God genoem te word. Die ‘barrier-breaker’ wat Jesus was, het ʼn totale ander perspektief gebring oor die moets-en-moenies van sy tradisie en milieu. Die hele Nuwe Testament staan geskryf in die lig van dit wat ons vandag noem ‘Christ Consciousness’ waar God net sigbaar word in die liefde wat ons het vir die ‘Wêreld van God’ — nie meer beheer vanuit die buitekant nie maar verander aan die binnekant ... nie meer onderworpe aan wette en dogmas van mense nie, maar ten diepste beïnvloed deur ʼn liefde wat in en deur ons vloei maar nie van ons is nie. Om Christen te wees, vir my, beteken om in die Lig van Liefde te wandel sodat die Lewe sy/haar pad sal vind in al ons handel en wandel. Daarom is Jesus vir my die visie van God waarin/deur ons sien hoe wyd en hoe ver, hoe hoog en hoe diep die liefde van God strek (Efesiërs 3:18) en dat niks en niemand ons ooit van die liefde van God kan skei nie (Romeine 8:31).
Ek hou van Jesus. Vir my is dit iemand wat ʼn voorbeeld gestel het van compassion & kindness wat nie net ʼn inspirasie is nie maar ook ʼn motivering om te doen wat ek doen. Ek hou van die feit dat hy gemeng het met die mense wat verstote teen die grensdraad van die kerk vasgewaai het. Die Jesus wat ek leer ken het die laaste 17 jaar het niks wat lyk en ruik soos die status quo nie. Die geloof, hoop, en liefde wat in my hart brand vir hierdie rabbi het niks te doen met die ‘as’ van georganiseerde godsdiens nie ... as jy dit en dat doen sal jy hemel toe gaan en as jy sus en so optree gaan jy hel toe. Die ‘ons en hulle’ illusie het nie bestaan vir Jesus nie. Die idee dat daar ʼn ‘separation’ is tussen ons en God, is deur hom vervang met ʼn versoening. Skuld en straf is vervang deur vergiffenis, en die ewige kanker van vrees, is vir eens en vir altyd verlos deur liefde. Trouens, as hy nou hier langs my moes sit, het ek ʼn idee dat hy die kritiek van Millennials sal verstaan wat na Christene verwys as judgmental, bigoted, and hypocritical. MÁÁR hy sou getrou aan sy ‘visie van God’ ons oproep en aanmoedig om sy voorbeeld en getuienis te volg — BE THE HOPE OF HUMANITY! Gee ʼn stem en ʼn plek van aanbidding vir hulle wat voel die lewe maak geen sin nie, wie se lewe kantel tussen issues &tissues, en wat twyfel of hulle ooit goed-genoeg sal wees vir God. Oor en oor hoor ek Jesus fluister — BE THE AWARENESS OF THE PRESENCE OF GOD! Waar ek teleurstelling en mislukking sien, sien Jesus ʼn geleentheid vir transformasie en groei. Waar mense gekneus en verwaarloos langs die pad vergeet is, is sy roepstem aan elkeen van ons om wonde te versorg; gebrokenheid te spalk; trane te droog; blindes te laat sien en dooies op te wek uit die dood — mits ons dit op ʼn diep emosionele en spirituele manier verstaan!
Dit alles omdat Jesus die teenwoordigheid van God versimboliseer en waar ons soos Jesus die weg, waarheid, en lewe word vir hulle wat saam en om ons woon, daar sal die koninkryk van God kom. Daar word die wêreld ʼn klein bietjie meer heel. Daar seëvier die waarheid, daar maak die waarheid ons vry, en word Paulus se verklaring my belydenis — “Want alhoewel ek my lewe kosbaar ag, reken ek dit van geen belang nie, solank ek my lewenstaak kan afsluit en die dienswerk wat ek van Jesus ontvang het, kan voltooi: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.”(Handelinge 20:24)
Kom ons gesels Sondag oor die begrip: GETUIENIS ... en wat Jesus bedoel het met “Jerusalem, Judea en Samaria, en die uithoeke van die wêreld.” (Handelinge 1:8) Wat sê ons getuienis oor die geloof, hoop, en liefde wat ons verkondig?
{ ACIM — Stad 20 Maart 19h30; Kolping 16 Maart 19h30 — Chapter 12: The Holy Spirit’s Curriculum (p215)
Besoek ons Facebook
Gedagte vir die Week:
“The greatest way to witness is through the life you live. Let the radiance of your Christian life be such that it will make [others] ask questions about your faith.” ― Billy Graham