Dek die Tafel vir Ander - Week 1

Sondagdiens

14 Julie 2019

Hierdie week se liturgie: 14 Julie 2019

Dit is Julie, my geboortemaand. ʼn Verjaarsdag gaan altyd gepaard met introspeksie wat gevleg word in dankbaarheid en waardering.

Aandagtig lees ek hierdie artikel van prof. Jonathan Jansen op Vrye Weekblad getiteld: “Hou op kla, SA, en kry kreatiewe oplossings vir ons probleme!” — hy skryf, “Ons maak ’n gewoonte van kla. Daar is nie genoeg swart bestuurders in wit maatskappye nie, nie genoeg swart spelers in rugby nie, nie genoeg swart kinders in die wit elite-skole nie; nie genoeg vroue in die ingenieurswese nie. Dis alles waar, en protes en klagtes is belangrik in ’n demokrasie. Maar wat dan? Jy kan kla tot die perde horings kry, maar as jy nie iets omtrent die saak doen nie, wat is die punt daarvan? Brand motorbande. Gooi vuurbomme in vragmotors. Trek standbeelde om.”

My oog vang ʼn artikel in TIME-tydskrif met die opskrif, “More Millennials Are Dying 'Deaths of Despair,' as Overdose and Suicide Rates Climb” — en ek wonder, wat is die rede hiervoor? Is dit omrede ons (meer as ooit) leef in ʼn tyd waar individualiteit verhef is tot god van my mishoop ... die koning wat in sy eie gaatjie ronddraai ... en verstik aan ekkigheid? Is daar ʼn verband tussen ons gemor, gekla, gemurmureer, gemoun (sic, ‘moan’) en die feit dat ons in ʼn samelewing leef wat oor alles aanstoot neem? Alles wentel om MÝ gevoelens, MÝ belangrikheid, MÝ idee van reg-en-verkeerd, goed-en-sleg ... en my fyn-sieligheid moet ten alle koste beskerm en in watte toegedraai word sodat die illusie dat ek die eienaar van die waarheid is en alle waarheid moet tot my voordeel wees, tog net nie 'n kneusplek opdoen nie.

Ons hipersensitiwiteit het ons gees (spirit) geamputeer, tot so ʼn mate dat ons geen kritiek meer kan aanvaar nie — ons voel tog só gou aangestoot en dan wip ons ons gat en trek ons stert in ʼn krul terwyl ons hygend mopper oor als wat verkeerd is in die wêreld, in ons land, in my buurt, in my familie, in my gesin ... en dit terwyl ons in ons warm huise, op warmkomberse, die kanale op my ultra-HD TV verander.

Selfs ons taal het verander dat niemand gekrenk moet voel nie — ons praat van ‘hearing impaired’ want die woord ‘doof’ verkleineer; ons praat van ‘partially sighted’, want ‘blind’ is blykbaar vernederend; ons verwys na iemand wat onaantreklik is as those with severe appearance deficit’ en ons kan nie meer vir iemand sê, ‘hy is stupid nie want hy het glo ‘learning disorders’ ... goeie genugtig, selfs vir die woord ‘konstipasie’ is vervang met ‘occasional irregularity’ — I mean, REALLY? Want my hele wêreld gaan in duie stort as iemand vir my sê, “jy is so dom soos ʼn sak hamers!?” Of lag daaroor, want iemand wat so iets kwytraak, ly verseker aan hardlywigheid.

Die Vlaamse professor in Psigiatrie by Leuven Universiteit, Dirck De Wachter beskryf dit mooi — “Ons hou mekaar steriel op ʼn afstand, want ons is bang vir mekaar se kwesbaarheid ... die moderne mens kan gewoon nie meer met onsekerheid leef nie. Ons kyk mekaar nie meer in die oë nie. Ons raak nie aan mekaar nie. Ons praat nie meer met mekaar nie.”

Iemand vra gister, “So Terblanche, wat doen 'n dominee nou eintlik?” en ek lag beskeie met ʼn antwoord, “Ek is teoloog, filosoof, en advokaat! As progressiewe Teoloog is ek altyd op soek na ʼn moderne, gesofistikeerde verstaan en ervaar van geloof. As Filosoof dink en besin ek oor die sin van die lewe ... wat gee die lewe inhoud en betekenis, wat bring hoop? En dan is ek Advokaat wat instaan vir hulle wat nie ʼn stem het nie. Wat met liefde en deernis vir hulle wat verwond en verneder teen die grensdraad van die samelewing vas gewaai het te inspireer met moed en moontlikhede.”

En dit doen ons met ʼn leërskare van mense om ons wat hand bysit met beplanning, leiding, organisering, en kontrole. Ons doen dit in ons Sondag-Sirkel waar ons ons klagtes op 'n altaar lê en dit omskep in idees, en idees in aksies. Because my dearest, it’s not ME, but WE ... and only a WE will change the world !!

Daarom is ons tema vir dié maand — DEK DIE TAFEL VIR ANDER — want waar ek moed verloor, waar ek voel ek moet brom-brom, grom-grom oor als wat volgens my anders moet wees, volgens my nie-werk-nie, volgens my die rede is waarom die wêreld lyk soos dit lyk — dit alles kry ʼn verbasende flinke stap vooruit as ek my gemoun verruil vir hoop-gee. Gaan raak betrokke êrens waar jy ʼn verskil maak. Gaan maak ʼn verskil waar niemand betrokke wil raak nie. Gaan gee hoop. Wees ʼn HOOP-gewer. Gaan dek die tafel vir ʼn ander!

Kom reis die maand saam met ons as ons dié tema verken.

Kom geniet ook Sondag saam met my ietsie soet en ietsie sout (vir balans) ná die diens om dankie te sê vir ʼn gesonde jaar verby en die wens vir 'n geseënde jaar vooruit.

-o0o-
— EN DAN —
Ons Spiritualiteitkonferensie dié jaar gaan oor Spiritualiteit van Tieners en Jongmense as ons saam met drie kundiges gaan gesels oor
TEGNOLOGIE en KONNEKSIE,
INTIMITEIT en KONNEKSIE,
SPIRITUALITEIT en KONNEKSIE.

DATUM: 3 Augustus 2019
TYD: 9:00 tot 1:00
PLEK: SANLAM Hoofkantoor (Bellville) se Ouditorium
BESPREEKbookings@neospektrum.co.za
NAVRAE: Lourita (071.579.45.39) of Edward (082.788.18.24)
PRYS: R200 pp en R350 vir couples. Alle skoliere en studente is R50

SPREKERS:
Hugo Theron - Kliniese Sielkundige, gaan die kompas wees wat gesels oor Konneksie en Tegnologie. Die invloed van 'tegnologie' op ons kinders en jongmense en waarom dit 'n ligtoring is wat óf waarsku teen skerp rotspunte, óf 'n rigtingwyser om nuwe lande te ontdek. As begeleider en terapeut van jongmense kom hy met 'n rykdom van ervaring oor die tendense, uitdagings, inspirasies, en verwysingswêreld van kinders, tieners, en adolessente.

 

 

Delene van Dyk is 'n seksualiteitsopvoeder en terapeut van beroep en bearbei haarself die afgelope 25 jaar, in Afrika en internasionaal, in die veld van geestes- en seksuele gesondheid, en onderrig. As seksuoloog gaan sy gesels oor Konneksie en Intimiteit. In die sessie gaan Delene fokus op intimiteit as 'n emosionele voertuig en hoe om individuele "versnellers" en "remme" te herken, om sodoende kwesbaarheid, die kern van intimiteit, beter te verstaan.

 

 

Selina Palm - Senior Navorser by Universiteit Stellenbosch, gaan haar ervaring deel as Teoloog en jarelange navorsing op die gebied van Jeug-Spiritualiteit veral rondom onderwerpe soos sosiale geregtigheid, versoening, identiteit, asook vrae oor kerkleer, dogma, teologie en spiritualiteit. Sy gaan ons hand vat om die reis aan te pak na ons TRUE NORTH as sy gesels oor Konneksie en Spiritualiteit.

 

 

Uiteraard wil ons soveel as moontlik jongmense na die oggend uitnooi. Ons sal graag ook na HULLE wil luister en hulle stemme kans gee om gehoor te word. Wil jy nie asseblief dié nota aan vriende, familie, kollegas, en vriende van tieners en jong volwassenes stuur nie?

Mag die liefde en vreugde, vrede en goedheid van 'n lewe in oorvloed jou week oorweldig met 'n glimlag.

Soos altyd

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“I cannot change the world
but I can change the way
that I think about the world.
And when I change the way
that I think about the world,
then suddenly the world changes.”

― A Course in Miracles 

 

A COURSE IN MIRACLES

STAD: 22 Julie 2019 @ 19:30
KOLPING: 11 Julie 2019 @ 19:30

Ons lees hierdie jaar Rob Bell se boek:
"What We Talk About When We Talk About God"
[bring steeds jou ACIM-boek saam]

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights