In ons laaste gesprek oor die maand se tema — THE SPIRITUALITY OF IMPERFECTION — gaan ons eerskomende Sondag afsluit en gesels oor ‘VRYE WIL’ ... is ons regtig vry om te maak wat ons wil?
Die Teologie het homself nog altyd in ʼn hoek geverf as dit aan die eenkant sê dat God het in sy almag alles vooraf bepaal (die sogenaamde predestinasie leer) en ons as mens is ʼn trein op ʼn spoor waarvan die stasie van oorsprong en stasie van bestemming lank voor my geboorte bepaal is. Aan die anderkant is dit teoloë se verweer dat die sleg, skuld en sonde van die mens, is uit ‘vrye wil’ — nou watter een van die twee is dit meneer dominee?
Reeds as ʼn student het ek altyd die moedswillige vraag gevra, “Is God almagtig, alwetend, alomteenwoordig?” en dan is die antwoord ʼn versekerde “Ja!” ... waarop dan die teenvraag, “Kan God iets ‘wil’ en dit nie kry/hê nie, soos byvoorbeeld Petrus se woorde, “God wil nie dat enige iemand verlore sal gaan nie maar almal tot inkeer sal kom.” Dan kom die bokspring dat God se ‘toelaatbare wil’ gee ons “vrye wil” om te kies en te besluit soos ons wil solank die mens weet dat God rekenskap gaan vra. Miskien het ek nog net nie die gawe van geloof in dié leerstelling ontvang nie of miskien is ek te onnosel — want dit maak glad nie sin nie.
Wat sê die filosofie? Vir eeue lank boei die vraag oor ‘VRYE WIL’ die filosowe en die konklusie is: die mens het geen vrye wil nie al sou dit voel ons is vry om te wil wat ons wil. Elke wilsbesluit word vooraf gegaan deur ʼn string aksies en reaksies en wat ons dink is keuses, word bepaal deur die milieu waarin ons leef. Selfs die keuses wat ons maak, word beïnvloed deur ons omstandighede, opvoeding, temperament, en omgewing. Wat sê die sielkunde? Freud verwys na ‘unconscious conflicts’ en Skinner na ‘environmental contingencies’ want wat ons ervaar as ‘vrye wil om te kies’ is eintlik net ʼn komplekse sisteem van impulse (desires + beliefs) waar alles ʼn oorsaak het, en nie (vrye) keuse nie. Wat sê die fisiologie? Die neuroscientists bewys dat die brein net so min vry is om ʼn kies as wat die lewer of jou niere ʼn keuse het hoe dit wil reageer. Elke respons wat deur die brein gaan, is ʼn resultaat van biologie. Iemand met ʼn spesifieke oxytocinreseptor voel gouer ‘alleen’ tussen mense en ervaar mense as judgemental terwyl mense sonder hierdie gene ander mense ervaar as inklusief en hulpvaardig. Nog meer fassinerend is dat neuroloë vandag met die hulp van moderne tegnologie kan bewys dat die brein neem ʼn besluit nog voor ons daarvan bewus is.
Waar laat dit ons regstelsel as ons iemand tot verantwoordelikheid roep vir sy/haar aksies? Hoe gemaak met die student wat sy eksamens nie deurkom nie want sy/hy het nie voorberei nie? Waar laat dit die kerk met sy Tien Gebooie en slegs Christene in die hemel?
Wat sê die spirituele psigoterapie van dit alles? Dit gaan van die veronderstelling uit dat regdenkende mense, gegewe alles wat die filosofie, sielkunde, sosiologie, fisiologie en teologie ons leer, ʼn keuse het hoe ons gaan reageer op die aksies en reaksies wat elke oomblik presenteer. Dat die meeste mense (nie almal nie want bogenoemde speel beslis ʼn rol) met dissipline en toewyding sekere gedragsvorme kan verander mits daar ʼn sameloop van omstandighede is soos familie ondersteuning, sosio-ekonomiese bemiddeling, asook emosionele, spirituele, en intellektuele vaardigheid.
A Course in Miracles (ACIM) leer dat daar geen dualisme in God is nie. God wil nie een ding en die mens ʼn ander ding nie, om die waarheid te sê, God het geen ‘wil’ nie want in die Goddelike is alles perfek, volledig. God is die alles en selfs nog meer as die alles. Dit kom niks kort nie en is van niks geskei (verwyder) nie. Die EGO sien onsself as ʼn afsonderlike entiteit wat nodig het om in beheer te wees en alles wil verdedig en verduidelik. Vir die EGO is ons aspirasies, invloed, betekenis, intensies apart van die res. ACIM sê, “There’s no separate self with an autonomous existence from the whole, and the Universe (i.e. God).” In die hemel, wat nie ʼn plek is nie maar ʼn toestand van volkome eenheid met God, is daar nie ‘vrye wil’ nie want hoe kan ons iets anders wil as daar niks is om van te kies nie? Dié geestesgesteldheid WIL niks nie want dit IS volledig deel van die geheel (i.e. God).
DUS — ten spyte van ons imperfeksies is ons presies waar ons moet wees; desondanks ons wonde en gebreke is ons volledig deel van Lewe; nieteenstaande ons verlede en die kronkel paadjies van verdwaal en vertwyfeling IS ons deel van die Ek-Is-Wie-Ek-Is. Die proses van keuses kan tog net werk met ʼn subjek-objek ervaring maar waar liefde die oorsaak is van liefde en liefde die gevolg van liefde is, vind ons God in die tussenin. Ervaar ons God in die intermezzo tussen WIL en IS, en so vind ons ons pad terug na waar ons vandaan kom en onlosmaaklik deel van is.
My lewe is nie tussen vier mure nie, nog minder op ʼn voorafbepaalde spoor. My lewe is nie ʼn liasseerkabinet met lêers en dossiere nie. Soms is ek ʼn vuur en soms die stortreën wat die vuur blus; soms ʼn Judas en dan weer ʼn Johannes. Ek beheer nie die storms nie, en is nie verlore in die storm nie want ek IS die storm! Ek dra my kruis en hardloop die wedren met oorgawe, my longe brand en my hart klop braak en onbedwingbaar — I’m living life alive!
Wie weet, miskien WIL jy vandag êrens vir ʼn minuut of sewe stil word en bewus word van God se teenwoordigheid. Miskien WIL jy Sondag vir ʼn uur deel wees van ons Sirkel en jou week se minute van ontwakings in ons fontein laat loop. Dit het niks te doen met vryheid nie en alles te doen met verantwoordelikheid — en dít my liewe vriende is die enigste ding wat ons as mens onderskei van dier en plant. <Sela>
🌺 ACIM — Kolping: 30 November @ 19h30 en Stad het reeds vir die jaar afgesluit — Lessons 41-48 (Lees asseblief hierdie 8 lesse voor die tyd want dit is só die moeite werd!)
Besoek ons Facebook
Gedagte vir die Week:
It matters not how strait the gate,
How charged with punishments the scroll,
I am the master of my fate,
I am the captain of my soul.
— William Ernest Henley --