Hierdie week se liturgie: 11_augustus_2013
“Wat is die siel?” vra mense dikwels, wat anders as deurleefde denke. Die siel wil aanhou droom en nie omskryf word nie. ʼn Sielvolle persoon word beskryf met attributes soos: opreg, openhartig (wat ʼn mooi woord: oop hart), eerlik en iemand wat herinneringe los wat liefdevol diep in ons geheue lê. Ons staan hierdie maand stil by die GOUE REËL — doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê. Alle godsdienste leer dit. Alle tradisies binne die Christendom eer dit as ʼn heilige opdrag van Jesus. So, waarom al ons vooroordele (prejudice)? Waarvoor is ons só bang dat ons iets gaan verloor as ons hierdie eenvoudige leefreël tot op die letter uitleef? Kom ons praat eerskomende Sondag oor – Watter kerk gaan hemel toe? – en dan vind ons ʼn manier waarop ons ons verskeidenheid en verskille versoen sonder om mekaar te verguis met ʼn selfgeregtigheid ... want dit ís moontlik om hier leefreël uitleef sonder dat iemand die eienaar van die waarheid hoef te wees.
Ons leef in ʼn 21ste eeu. God stap met ons in ʼn moderne wêreld. Dit is ʼn wêreld waar die ware betekenis van “wedergeboorte” nie sê: wees kinderlik kinderagtig nie maar eerder — please grow up! Die redding van Jesus is nie soseer ʼn redding van sonde nie maar ʼn redding van onbereidwilligheid om ʼn menslikheid in my te ontdek en te kweek waarvan ek die potensiaal van ʼn groter Lewe sal begryp en deel. Niemand stook die vuur in die hel harder as ʼn kerk wat dink die Waarheid van God kan vasgevang word in kategismus, ʼn dogma, ʼn teologie, ʼn geloofsbelydenis nie — al hierdie goed is net rigtingwysers na ʼn groter, dieper misterie van wat dit is om in die teenwoordigheid van God te wandel. Daardie teenwoordigheid wat ons menslikheid wil uitlig en omkring en onderstreep eerder as om ons daarvan te wil probeer red.
Een van die tekortkominge van postmoderne teologie (asook die sielkunde) is ʼn benadering dat as ons selfversekerd is, met inbors ons punt kan stel, ambisie het (wat ons verwar met finansiële sekuriteit), dan is ons ʼn beter mens. Daar word soveel klem gelê dat as ons ons omstandighede verander sal ons gelukkig wees. Natuurlik is dit in ʼn groot mate waar, maar geluk lê dieper, wyer, verder as net omstandighede. Om God te soek in omstandighede en strukture is om van God ʼn karikatuur te maak. Toe my seun klein was, het hy eendag gevra: “Pappa, waar is God?” en die enigste antwoord waaraan ek kon dink, was – “Oral waar jy hom inbring my kind”
God is nie ʼn Christen nie! God is nie ʼn Jood nie! God is nie ʼn Moslem of ʼn Boeddhis nie — dis alles mensgemaakte sisteme, flitsligte vir mense in die donker wat soek na die gordyne om oop te trek en vensters om oop te maak sodat die ware lig in ons lewe kan deurbreek. Die woord godsdiens kom nie eers voor in die Joodse woordeskat nie want God is gesien as ʼn lewende inwonende teenwoordigheid en nie ʼn struktuur of geloofsisteem nie. Ons moet verby die beperkinge van religie beweeg. Religio in Latyn beteken: to restrain, tie back.
Verseker sê dit tog nie iets van ons verhouding met God nie? Ons is méér as dit ... daarom kan die kerk nie net ʼn veilige vesting wees waar ons bly ontvlug van die werklikheid nie. Die kerk (godsdiens), staan in die wêreld en behoort meer organisme as organisasie te wees. Plooibaar en soepel om die wêreld waarin ons leef te omarm. Daarom is dit so hartseer dat elke keer wat ‘religion’ die nuus haal, is dit negatief. Of dit ʼn suicide bomber is, of ʼn kind wat deur die kop geskiet word omdat sy pleit dat meisies skoolgaan; of dit een of ander fundamentalistiese groep wat wil voorskryf binne wat se verhouding seksualiteit geëer en respekteer moet word; of dit ʼn patriargale institusie is wat vir vroue wil voorskryf wat hul rol en plek in die kerk is, en of dit kerkamptenare is wat hul skuldig maak aan kindermolestering ... die nuus is onafwendbaar negatief. Paulus skryf in Efesiërs 4:2-3 “Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.”
In die Christengeloof is daar vandag twee duidelike strome: aan die eenkant is daar ʼn groei in die evangeliese fundamentalisme as ʼn soort van premoderne (histeriese) ideologie, maar aan die anderkant (en selfs nog groter as die eerste) is daar hulle wat leef in geestelike ballingskap. Hulle draai nie hulle rug op God nie maar wel op godsdiens. Hulle is nie meer deel van ʼn kerk (gemeente) nie want hul vind God in die alledaagse lewe en ʼn ervaring met God sonder dogma. As ʼn geestelike nomade, het ek myself nog altyd in dié groep bevind. Soms mis ek my doel, raak soms verdwaal maar dis juis in daardie oomblikke waar ek keer op keer God se teenwoordigheid raakloop. Soos ek ouer word, besef ek meer en meer dat die meeste mense ʼn behoefte het om êrens te aanbid. ʼn Plek waar ons stil word. ʼn Plek waar dit veilig is om ons twyfel te verwoord. ʼn Plek om dankie te sê. ʼn Plek wat ons herinner wie ons werklik is. ʼn Klein kapel in die Noordelike Voorstede het vir ons daardie ruimte geword en op ʼn vreemde manier voel ons onsself deel van ʼn groter geheel van kerk-wees. Daar bring ons God in.
Daar is nie ʼn manier hoe ek ooit kan dink dat ek God kan verstaan of verklaar nie. Dis so goed jy vra vir ʼn dolfyn om vir jou te beskryf wat dit is om mens te wees. Waar ons as mens aan die idee kom dat ons vir ander kan voorskryf wie en wat God is en wat God wil hê, gaan my verstand te bowe. God is ʼn misterie waarin ons wandel, dis ʼn ervaring van wat dit is om ten volle mens te wees in die volle kapasiteit van ons medemenslikheid en hierin ervaar ons hoe hierdie groot misterie ons omvou en geheel en al deel word van ons dag tot dag lewe en verstaan van wat dit is om ten volle mens te wees. Ek kan bloot artikuleer wat my ervaring met God is, maar oor God is daar by my ʼn diep nederige stilte wat met ontsag, eerbied, en aanbidding gevul is. En dit manifesteer deur ons liefhê! Niks meer of minder as dit nie.
Jesus was ʼn ‘grensbreker’ wat mense uitgedaag het om dit te waag om ʼn eie unieke ervaring met God te hê. Sy uitdaging was nie ʼn kerk van klip en sement nie maar van vlees en bloed. Presence in the essence of life. The source of life that we experience through love and in our loving, God becomes our source of love. Dis vir ons om hierdie liefde te reflekteer. Ek glo met my hele hart dat elke kerk streef om dit te doen en om mens met God te versoen. Daar is nie ʼn regte of verkeerde kerk nie ... daar is net jý en jou ervaring (verhouding) met God. Waar laat jy dit gedy? Wil jy nie Sondag ʼn uur opsysit om dit saam ons te vier nie? Wees die kerk vir jou ewemens vandag sodat ons opnuut onthou wat dit is om te sê: ek sal die Here God liefhê met my hele hart, my hele siel en verstand, en my naaste soos myself!
ACIM leeswerk -- Marianne Williamson se boek “The Gift of Change” – Chapter One: Crossing the Bridge – from fear to love.
Besoek ons FACEBOOK: http://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.
Gedagte vir die Week:
Humility in the artist is his frank acceptance of all experience, just as love in the artist is simply that sense of beauty that reveals to the world its body and soul. — Oscar Wilde
