Niki Lauda (1949-2019) ... “He combined heroism, humanity, and honesty inside and outside the cockpit.” — Toto Wolff (Team Principle: MercedesAMG F1)
Min mense kan — REBOOT YOUR LIFE — ʼn groter betekenis gee as Niki Lauda. Ná ʼn verpletterende ongeluk in 1976 waar hul hom uit ʼn brandende motor moes sleep, met brandwonde hoofsaaklik aan sy kop en in sy gesig, het hy 40 dae later weer in ʼn renmotor gesit om te jaag na sy volgende wêreldkampioenskap. As entrepreneur sou hy met toewyding en harde werk vele suksesvolle besighede vestig waaronder sy instrumentele rol om Mercedes terug te bring na Formule1 om die laaste 5 jaar totaal die sport te oorheers en besig is om alle rekords van die verlede te herskryf.
Die laaste paar weke was ʼn inspirerende reis oor hoe ʼn mens kan ‘RESET, REBOOT, RENEW ...’ met praktiese wenke om die proses te begin en deur te sien met goeie resultate. Al wat dit regtig vra, is dat jy WIL. Die keuse, die besluit is eenvoudig: WIL jy die goed wat knaag en skaaf en soos gewigte om jou enkels hang, laat los en ʼn verandering maak om anders te dink, anders te reageer, en anders te beleef?
Ons sluit ons maand af met die laaste drie treë uit die doolhof van dit wat ons glo die redes (verskonings) is waarom dit voel ons is ‘STUCK’ en hoe ons daad by die woord kan voeg om weer/meer sin en inhoud te gee aan ons lewe ... ongeag, nieteenstaande, desondanks ons omstandighede.
1. GESONDE VERHOUDINGE
Ons staan in sewe basiese verhoudings — dit begin met ons verhouding met onsself; met ons ewemens (familie, vriende, kollegas) wat verskil van ons verhouding met ons man/vrou; dan is daar ons verhouding met die struktuur (sosiale kringe, politieke sisteme, organisasies); met die kultuur (godsdiens, taal, opvoeding), met die natuur, en natuurlik is daar ons verhouding met God. Soos ʼn voëltjie met ʼn af-vlerk, het ons nodig om ons gebroke verhoudings te heel. Ons kan begin deur te besef dat ʼn mens nie in ʼn verhouding is om iets te KRY nie, maar om iets te SKEP. [GROOT verskil!] Die meeste mense is in een of ander vorm van verhouding om geluk, aanvaarding, liefde, vreugde, of wat ook al te kry in plaas daarvan om in verhoudings te wees waar ons geluk, liefde, en vreugde SKEP.
Ons almal was al in verhoudings, (hetsy huwelik of tussen vriende/familie, of by die werk) waar ʼn mens voor jou heilige siel weet dat dié verhouding is ongesond op sy beste en onhigiënies op sy ergste. Verhoudings wat oorlaai word met verwagtinge en verpligtinge. Ons interpersoonlike verhoudings word heel as ons eerlik is oor ons intensies in elkeen van hierdie verhoudinge en wat ek bring na hierdie verhouding sodat dit optimaal vir alle partye tot seën kan wees. Daarvoor het jy nie ʼn graad of geld in die bank nodig nie ... net die WIL om elke verhouding te koester as die beste weergawe van myself. Dis so eenvoudig soos: sê ‘asseblief’, sê ‘dankie’, sê ‘goeiemôre’ en sê ‘goeienag’ — nie te moeilik nie nè?
Verhoudings gaan oor gee, oor deel, oor konneksie, oor samesyn. As ons mekaar sien as vennote en kan optree soos volwassenes, sal 80% van ons spanning en emosionele pyn verdwyn, en as ons daar vir mekaar kan wees, sal die ander 20% moeilik plek kry om in te meng.
“That is how love relationship is meant to work, each partner transforming the other. The strength and power of each is untangled, shared. He gives her the heart drum. She gives him knowledge of the most complicated rhythms and emotions imaginable. Who knows what they’ll hunt together? We only know that they will be nourished to the end of their days.” — Clarissa Pinkola Estes
► Jy kan dit noem: my-connection-correction-reboot
2. VERGIFFENIS
Hoeveel keer al oor hierdie woord se inhoud en betekenis gepraat is? Dit is die essensie van Jesus se instruksie en vorm die basis van ‘A Course in Miracles’ ... en as jy die woord ‘Forgiveness’ in GOOGLE tik, bring dit 440 miljoen hits in 0.5 sekondes. Die woord is gelaai met krag en intensiteit. Tog is dit een van die spirituele terme wat só verkeerd verstaan word — enersyds omdat ons dink dat as ons iemand vergewe dan wen hulle en maak dit wat hulle gedoen het reg of aanvaarbaar en andersyds omdat ons vergiffenis vashaak in die ou cliché, ‘vergewe maar nie vergeet nie!’ Geen wonder ons is so verlore as dit kom by hierdie Goddelike gawe/geskenk nie.
Natuurlik is dit so dat ons ten eerste iemand/iets vergewe vir wat ons voel die oorsaak is van ons seer, maar die belangrikste is die vergiffenis van wat ek DINK oor wat gebeur het en wie die skuld moet kry. Ons moet leer om ons aksies en reaksies te vergewe, ons het nodig om die feit dat ons iemand anders die mag gee om te bepaal hoe ons gaan reageer, te vergewe. Vergiffenis het ALLES te doen met my keuse van my reaksies. As ons reageer met woede, verwyt, spyt, vrees, en wraak dan bly ons gevange in die martelgange van ons kop. As ons vergiffenis kom vanuit ʼn plek van ontknoop, vrymaking, heling, en herstel dan word ons gesond en maak ons gebroke verhoudinge heel.
“To me, forgiveness is the cornerstone of healing.” — Sylvia Fraser
► Jy kan dit noem: my-let-it-go-reboot
3. SÊ ‘HALLO’ VIR ‘N NUWE BEGIN
Belê in gesonde, opbouende verhoudinge wat waarde toevoeg. Weet wanneer om te gaan regmaak en wanneer om te laat gaan sodat ons ‘wonde’ gesond kan word. As ek aan Niki Lauda se ‘ultimate comeback’ dink dan weet ek dit is nie maklik nie, maar dit is verseker moontlik. Dit vra innerlike sterkte, moed, self-waarde en self-liefde, uithouvermoë, geloof, en selfvertroue. Dit vat tyd om hierdie gawes te kweek en te kultiveer en daarvoor het ʼn mens GEDULD nodig. Geduld met jouself en hulle wat jou lewensreis met jou deel. Dit vra vir geduld wat geskoei is in medemenslikheid en menswaardigheid. Om jouself en ander om jou te behandel met liefde, aanvaarding, respek, lojaliteit, en oorloop seëninge.
EMBRACE CHANGE — moenie vir alles bang wees nie, wees dapper genoeg om uit te vind wat is jou waarheid en om dit met vrymoedigheid te deel met ander sodat ons die wêreld beter agter los as wat ons dit gekry het.
REBOOT YOUR LIFE — los die beheptheid oor gister en obsessies oor môre, leef in die NOU ... wat beteken: laat los die skuldgevoelens (gisters) en vrees (môres). Leef met dankbaarheid en waardering in jou hart sodat jou mond, hande, ore, en oë sal oorloop daarvan.
► Jy kan dit noem: my-hallo-and-goodbye-reboot
Kom word Sondag saam met ons stil vir ʼn uur en dan vat ons dié maand se 12 stappe na veranderinge saam onder ʼn blou kruis.
ʼn Allermooiste week verder.
Terblanche
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
Liturgie: 26 Mei 2019
Opsomming: HOW TO REBOOT YOUR LIFE
.
“Be the author,
not the reader,
of your own life.”
― Paul Gibbons ―
STAD: 27 Mei 2019 @ 19:30
KOLPING: 23 Mei 2019 @ 19:30
Ons lees hierdie jaar Rob Bell se boek:
"What We Talk About When We Talk About God"
[bring steeds jou ACIM boek saam]