Liturgie: 10_julie_2016
MES-aksie het laat weet dat die warm-goed wat hul tot dusver van ons ontvang het, maak meer as 50% van alles uit wat hul sover ontvang het vir hul Winterhoop Projek. BAIE BAIE dankie — ons doen dit nog tot einde Julie, bring gerus Sondae wat iemand ander se winter kan verwarm. Ons maak seker dat hul dit kry.
Ons het Sondag oor die basiese beginsels van LIEFDE gepraat en na die beste van ons vermoë probeer soek na sinvolle, relevante toepassings vir die tyd waarin ons leef. Oor die eeue het die mens in elke aspek van menswees verander en moes ons leer om aan te pas. Selfs in ons eie kort lewensbestek is ons nie in ʼn enkele opsig dieselfde as toe ons tiener was nie — máár een ding het dieselfde gebly deur die ganse geskiedenis van die mensdom, ons wil liefhê en liefgehê word! Miskien het ons te slim geraak vir onsself in die tyd waarin ons leef en miskien, net miskien word ons te veel gelei deur definisies en aanhalings óór die liefde in plaas daarvan om net toe te laat dat dit om en in en deur ons vloei.
Ironies genoeg, is daar in die Afrikaanse taal ʼn hulpwerkwoord as ons sê, ‘ek IS lief vir jou’ asof liefde hulp nodig het om met sekerheid die betekenis oor te dra. Straks is liefde groter as enige definisie, selfs groter as enige oortuiging. Dalk is liefde die hemel self en verdien die liefde nie die vraag ‘Wat is liefde?’ nie want die liefde is wat dit is — net liefde, liefde genoeg. Daarom ons tema vir die maand: LIEFDE IS ‘N WERKWOORD!
Kom ons staan Sondag stil by die intieme balans van liefde tussen mens tot mens: (i) liefde in verhouding tot my ewemens en (ii) liefde as ʼn verhouding in, deur, met myself. In elkeen van hierdie verhoudings moet liefde gekoester en gekultiveer word sodat dit kan floreer. Dit moenie vanselfsprekend aanvaar word nie en ons moet bewus wees daarvan dat die grondreël gebaseer is op ons gee, én ontvang vermoë binne elkeen van hierdie verhoudinge. Vermy konflik, leer om ʼn kompromie te maak, neem verantwoordelikheid in die beste, slegste en alles tussenin.
Ons weet dat ons, ek en jy, is verantwoordelik vir die manier waarop ons dink en voel. Ek is, met ander woorde, verantwoordelik vir my geluk. Ons het eenmaal ʼn hele maand gesels oor — my thoughts determine my reality — ons gedagtes is ʼn bedding vol blomme of ʼn bedding vol onkruid en dorings. Ons het die keuse of ons onsself gaan martel en verrinneweer met gedagtes wat ons stroop van liefde en/of ons onsself gaan omring met positiewe gedagtes. Dit is maklik(er) om te verval in ʼn vorm van mishandeling teenoor jouself as jou hart seergekry het maar êrens moet die interne dialoog begin verander. Solank ons dink ons is dit nie werd nie, dat my lewe ʼn teleurstelling is, dat liefde ʼn mens seermaak, en dat dit mý skuld is dat my liefdeshart ‘gebroke’ is, sal dit presies wees wat manifesteer. Liefde, soos geloof en hoop, soos geluk en vreugde, is ʼn keuse wat ons toelaat om van binne te vloei. Solank ons met die verwagting loop dat iemand anders dit vir my moet gee, sal ons ons behoeftes verwar met liefde en elke keer wat ons nie ons sin kry nie, dit eers op onsself en dan op ander projekteer.
Ek luister soms aandagtig na egpare op my bank as ons ʼn gesprek het voor hul huwelikseremonie as ek die vraag vra, “Hoekom wil julle trou?” en dan in die kaleidoskoop van antwoorde moet soek na die waarheid. Party sê, “Want dis die regte ding om te doen” — en ek wonder, volgens wie? Omdat ouers, ʼn samelewing, ʼn Binnelandse Sake verwag dat ons liefde sy/haar woord sal hou in ʼn kontrak? Party sê, “Want ek was NIKS tot ek hom/haar ontmoet het nie” — en ek wonder of dit waar is want só stelling sit ontsettend druk op die ander persoon om iets te wees wat hy of sy dalk nie is nie net om aan my ‘niks’ te voldoen en omdat hul jou nie wil teleurstel nie probeer hul als in hul vermoë om daardie gat te vul. Ander sal iets veel meer romanties sê soos, “Omdat hy/sy my kompleet maak” — en ek wonder hoe werk die proses van iemand wat jou volledig presies maak? Eintlik moet die vraag wees — waarom is LIEFDE nie genoeg nie? Waarom moet ons dit kwalifiseer en definieer; waarom moet ʼn kontrak ons hou aan ons toewyding (commitment & devotion) aan liefde; waarom nie net sê, “Want my liefde vir hierdie persoon bring die mooiste en beste in my na vore en my liefde vir hom/haar is ʼn herinnering van die beste en mooiste liefde in hom/haar” ... of is dit te soetsappig sentimenteel vir ons mensgemoed?
Die vraag is nie, wat verwag die ander persoon van my nie; wat wil die persoon hê; wat dink en beplan die persoon nie, maar eerder — hoe kan die feit dat ek vir myself lief is, iemand anders dien om die liefde in hulself raak te sien en te ontgin? Hoeveel mense ‘haat’ hulself omdat hul voel niemand is vir hul lief nie. Ons fokus gewoon te veel op hoe iemand ander moet/mag wees; wat ons kan ontvang; hoe hulle my laat voel en of hul kan gee wat ek verlang — géén verhouding kan dit volhou nie en dit het niks met liefde te make nie!
Miskien lees jy hier en wonder, ‘Waaroor het die man dit vandag?’ Miskien is jy geseënd met ʼn lang gelukkige huwelik waarvan die liefde in oorvloed, uitbundig gedy en voel jy daar word te veel oor liefde gepraat en te min gedoen. Óf dalk het jy net genoeg gehad van enige poging om ʼn huwelik te red of om ooit weer te probeer om iemand so naby aan jou toe te laat ... Die rede waarom hierdie onderwerp my so na aan die hart lê, is omrede daar by my ʼn passievolle drang is om dit enersyds self te verstaan en toe te pas en oor te dra dat — every relationship reflects our relationship to ourselves. Everything that we perceive as a ‘problem’ is a relationship problem and every solution to the problem is a healed relationship – het ACIM my geleer. Ons kan tog nie in liefde leef én in konflik nie. Ons kan nie in vrede én woede, liefde én vrees leef nie. Wat sal dit vat vir jouself om vir jou Self lief te wees (word) en binne daardie verhouding vir elke ander verhouding waarin jy is tot seën te wees?
Hier is die geur van die blom en die blom van die bedding — die liefde wat ek vir myself het, sê alles van my liefde vir my ewemens en my liefde vir my ewemens sê alles van my verhouding met God. Net soos my verhouding met God ʼn refleksie is van my verhouding met my ewemens en die verhouding met my ewemens is ʼn getuienis van my verhouding met myself. Ons kan nie praat van ons liefde vir God maar is ʼn seksis of rassis nie. Ons kan nie bely dat die liefde van God is allesinsluitend maar ly aan xenofobie of homofobie nie.
Ons gaan Sondag oor die volgende in meer detail gesels en dit het te doen met AL die manifestasies van liefde, vir jouself, by jou werk, ouer en kind, vreemdeling, en beminde --
Mag vandag ʼn oorvloed geleenthede skep om lief te hê en liefde te wys. Maak jou hart oop om liefde te ontvang en laat die Groot Liefde toe om in en deur jou te vloei. Ons stukkende wêreld kan doen met só liefde wat hoop gee en heling bring!
ACIM — ons begin weer na die skoolvakansie!
Besoek ons Facebook
Gedagte vir die Week:
“One is loved because one is loved. No reason is needed for loving.” ― Paulo Coelho, The Alchemist