ʼn Nuwe Jaar — met die geleentheid om nuut te begin en wat ook al laas jaar gehakkel en geskaaf het op ʼn andermanier te doen en anders te reageer op die uitdagings van ʼn nuwe jaar sodat 2019 vir ons die beste en mooiste sal bring!
Gister word ek wakker op ʼn wynplaas net buite Tulbagh tussen die wingerde en die Winterhoekberge. ʼn Paar ‘missed calls’ van ʼn vreemde +26 nommer slaan my wind uit en laat my hart op die grond val ... my seun en sy vriendin is op pad van Windhoek met haar motor na die Kaap waar sy kom studeer en hulle was in ʼn motorongeluk. Dit vat etlike ure om uit te vind waar hulle is en na watter hospitaal die ambulans hul geneem het. Uiteindelik spoor ek hulle op in Mariental se hospitaal. Die verligting, die onbeskryflike dankbaarheid om my seun se stem te hoor. Alhoewel hulle vol snye, af velle en vol kneusplekke is, is beide okay. Sy vriendin moes klomp steke kry en was ʼn hele ruk bewusteloos terwyl my seun gesukkel het om haar uit die wrak te kry omdat hy bang was die motor slaan aan die brand. Later gister is hul in hospitaal in Windhoek waar hul weer deeglik ondersoek is met die nodige x-strale en toe na haar ouers net buite Windhoek. Weereens verligting en dankbaarheid! Met agting vir almal wat gister meegedoen het om die twee so gou moontlik by hospitale te kry ... en bowenal, die intense bewussyn van God se teenwoordigheid dat ons kinders se lewe gespaar is.
Later gisteraand sit ek op my stoep met iets veel sterker as koffie en bedink die dag se gebeure. My hart klop weer terug in my borskas en ek wonder wat om van als te maak as jou jaar so begin. In sulke oomblikke van skok en spanning is die vraag altyd of ons na die spens van ons ervaring kan gaan om die kalmte van gees, geloof en hoop, liefde en vrede te gaan haal wat jou deur die dag sal kry? Wonder ek altyd: hoe doen mense dit sonder ʼn geestelike fondasie of spirituele anker?
Met dit als gesê, gaan ons die jaar afskop met die tema: VAN STEENKOOL NA DIAMANTE -- om daarmee iets te sê van die geologiese feit — a diamond is a chunk of coal that did well under pressure … en dit dan van toepassing te maak op ons spirituele reis deur die nuwe jaar.
Iemand het êrens gesê, “There are three things that are extremely hard: steel, diamonds, and to know yourself ...” and boy-oh-boy do you get to know yourself when you are under pressure!?
Ons skop die jaar af eerskomende Sondag en vat ʼn paar stukkies steenkool in die een hand en sien hoe God dit vir ons verander in diamante:
From Confusion to Connectedness
From Restlessness to Synchronicity
From Push-and-Pull to Authenticity
From Darkness to Consciousness
From Fear to Unconditional Love
Kom ons gesels hierdie maand oor die verwarring as ons nie ʼn kompas het nie, en nie die kennis en ervaring het om te weet hoe om seile te span as die wind van voor af waai nie. Kom ons gesels oor die frustrasie as ʼn mens nie weet wat om te doen nie, en besluite moet neem sonder keuses. Kom ons gesels oor die deurmekaar gevoel tussen slaap en wakker en hoe om te onderskei tussen drome en wakker. Kom ons gesels Januarie 2019 oor hoe om geduld en uithoudingsvermoë te hê tussen ʼn sonsondergang en sonsopkoms, en hoe politoer ons die swart van steenkool tot ons die reënboog van kleure sien in die refleksie van ʼn diamant?
Die uitdaging van 2019 gaan wees om te kan onderskei tussen rivierklippe en ongeslypte diamante in ons lewensstroom. Dit gaan vra dat ons met toewyding in die komende jaar veel meer moeite gaan moet doen om die lig te laat val op wat ons beskou as tekortkominge, foute, vlekke of een of ander gebrek. Om met liefde en toewyding die toets te deurstaan wat ons ervaar as spanning, onsekerheid, tweestryd, en druk.
Maak dit hierdie jaar deel van jou ‘getuienis’ om mense saam te bring na ons Sondag Sirkel. Ons wil graag vir baie wat nie meer na tradisionele kerke gaan ʼn plek word van geestelike groei en spirituele verdieping.
ʼn Allermooiste en geseënde 2019 word vir julle almal toegebid.
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
Laai hierdie Sondag se liturgie af: 6_Januarie_2019
.
GEDAGTE VIR DIE WEEK
“Every diamond has the ability to shine
when there is someone to recognise
its good facets and inhibit its flaws.”
― Wes Fesler ―
.
A COURSE IN MIRACLES
Ons hervat weer volgende jaar
na die Somervakansie
[Lees asseblief steeds
elke dag 'n stukkie uit ACIM]