The Giveness of Life - Gebooie

Sondagdiens

8 September 2019

Hierdie week se liturgie: 8 September 2019

Na ʼn week waarin ons op meer as een manier geruk is deur die geweld op vroue en kinders in dié land kom ʼn mens half uitasem tot stilstand om jouself te vra — hoe moet ek sin maak van dit alles ...? ʼn Mens wil die duvet oor jou kop trek en net in die bed bly om sodoende nog ʼn berig van ʼn vermiste, verkragte, vermoorde, te mis. Dit is maklik om jou hande in jou broeksakke te druk en te sê, “Ek is nie só man nie!” en daarmee jouself te verontskuldig — maar ek voel die tyd het gekom om ʼn eerlike gesprek te hê oor die epidemiese geweld in ons land en iets daadwerklik te doen wat moet begin by en ons werk, in ons vriende en sosiale kringe, asook ons huise.

Dit is ʼn gesprek wat gaan moet skuif van ‘hulle’ na ‘ons’ en as daai gesprek jou ongemaklik maak, is dit ʼn bewys hoe nodig daardie gesprek is om te hê. Moet vir geen enkele oomblik onder die wanindruk verkeer dat dit ʼn ras of klas issue is nie. Miskien was jy al self ʼn slagoffer van misbruik en geweld, miskien was dit deur ʼn vriend, ʼn familielid, ʼn kollega. Miskien is jy elke dag blootgestel aan seksistiese op- en aanmerkings deur mans wat dit as humor beskou of dit afmaak as ‘onskuldig’ terwyl daar geen bewussyn is van hoe misoginisties ons aksies en hoe chauvinisties ons reaksies is nie.

Daar móét ʼn baie groter sensitiwiteit by ons as mans kom in die manier wat ons met en oor vroue praat. Bes moontlik die Tweet van ons regering redigeer na ʼn meer eerlike refleksie van wat aan die hand is: “Violence and abuse against women (by men) have no place in our society. Govt is calling on women (men) to speak out, and not allow themselves to become (create) victims by keeping quietWomen (Men) who speak out are able to act, effect, change and help others”
♦♦♦

Nou dat ons dít weet en gesê het, kan ons blaai na ons tema vir dié maand — THE GIVENESS OF LIFE! Ons het laas Sondag afgeskop met ʼn bespreking oor GELOOF en gesels oor wat ons glo en hoe ons dit uitleef. Ons het ʼn paar invalshoeke verken oor wat geloof is, en wat geloof nie is nie. Eerskomende Sondag gaan ons die ui probeer skil (sonder trane) as ons die onderwerp oor GEBOOIE gaan verken.

Ons het grootgeword met die TIEN GEBOOIE. Sondag na Sondag is dit voorgelees vanaf kansels wat gevolg is deur ʼn preek wat gewoonlik oor een of twee van die gebooie gaan, by name die een oor ‘wat jy Sondae mag en nie mag nie’ en die ander een oor ‘egbreek’, want die kerk was nog altyd gefikseer met mense se seksuele doen-en-late. Ons almal kon toe die tien gebooie uit ons kop opsê ... vandag sukkel ons om net ʼn handvol te noem.

Die woord ‘GEBOOIE’ word gesien as ʼn opdrag en bevel direk vanaf God wat gelees moet word as raamwerk binne die 613 wette, bepalings, voorskrifte, en regulasies wat in die eerste VYF BOEKE van die Bybel (wat bekend staan as die Torah) voorkom. Oor die eeue heen het die interpretasie van die Torah sekere ‘wette’ verhef bo ander en by name deur Christene is daar ʼn baie selektiewe voorkeur oor wat moet letterlik toegepas word en wat kan ons eenkant skuif as kultuur-histories.

Tot nog onlangs was werk op ʼn Sondag beskou as ʼn heilige sonde en daarmee ook saamwoon en egskeiding. Vandag word dit algemeen aanvaar dat Sondae alles insluit wat die res van die week bied ... en saamwoon en egskeiding? Wel, nadat genoeg dominees self geskei is, het daar ook hieroor ʼn versagting gekom. Daar word fanaties vasgeklou aan verse wat gaan oor ‘homoseksualiteit’, maar waar die Bybel sê dat ʼn “ongehoorsame kind is ʼn gruwel in die oë van God en moet gestenig word” reageer ons met sterk afkeuring oor so 'n barbaarse opdrag. Aan die eenkant word krampagtig aan seker gebooie vasgeklou soos die behandeling van vroue en dan wonder ons waar kom die geweld vandaan wanneer vroue nie gesien word as volledig, volwaardig gelyk aan die regte van mans by name binne die kerk terwyl ons aan die anderkant alle vorme van slawehandel met die minagting wat dit verdien, veroordeel.

Daar is geen twyfel — om oor die GEBOOIE te praat, gaan mure bou tussen uiteenlopende interpretasies en heinings span tussen verskillende vertolkings van presies dieselfde teks. So, hoe nou gemaak? Is daar ʼn manier om die GEBOOIE te anker binne ons soeke na rigtingwysers, aanbevelings, en voorskrifte hoe om sinvol te leef met ʼn deurleefde bewussyn van hoe om om te gaan met die lewe?

Is daar ʼn manier om die GEBOOIE in die algemeen en die TIEN GEBOOIE spesifiek te sien as — more of an invitation than an order ... more of a commitment than a commandment ... more of a devotion than indifference.

Kom ons begin by die eerste sin van Exodus 20 — “Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipte, uit die land van slawerny, bevry het ...” Daar staan nie, “As jy dié gebooie nakom sal ek jou bevry nie!” Nee, daar staan dat jy reeds bevry is en daarom is die volgende 10 punte ons belofte en verbintenis. Slegs as ons dít verstaan, kan ons afsluit met, “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.” (Lukas 10:27)

Jy en jou gesin word vriendelik uitgenooi om Sondag by ons aan te sluit vir ʼn kompas en ʼn landkaart.

Soos altyd

.

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“When you etch your moral code in stone, you have no room for editing.
You leave open the possibility that, as our ethical views evolve,
your code becomes less relevant.
You could find yourself with four of ten divine moral laws
describing how to treat God
and zero that prohibit rape or slavery.”

― David G. McAfee 
.

A COURSE IN MIRACLES

STAD: 16 September 2019 @ 19:30
KOLPING: 12 September 2019 @ 19:30

Ons lees die tweede semester van die jaar
LESSONS FROM 'A Course in Miracles'
[Lessons 168 & 169]

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights