“We are not human beings having a spiritual experience. We are spiritual beings having a human experience.”
— Pierre Teilhard de Chardin —
Ons tema dié maand gaan oor Spirituele Volwassenheid — ons het al gesels oor hoe dit ons gesindheid by die werk, verhouding met vriende en familie, ons liefde van gee en ontvang, asook ons lewe in die algemeen verryk en verdiep.
Laas week het gegaan oor die feit dat Spirituele Volwassenheid die sleutel is wat verandering in ons lewe kweek en kultiveer.
Dit beteken om doelbewus te kies vir groei. Om te kan groei, is die enigste bewys van lewe. As jy stilstaan word die water brak. As ons nie intellektueel, emosioneel, en spiritueel groei nie, stagneer ons en sal ons nooit weet wat is ons dieper betekenis nie, en sal niks vir ons vervulling bring nie.
Met Galasiërs 5:22 in die een hand, en ryk lewenservaring in die ander hand kan ek onomwonde sê —
Spiritualiteit is die een konstante in my lewe. Dis die fontein waaruit leivore van liefde vloei. Dis die ruspunt waar ons vreugde en vrede hengel. Daar vind ons geduld met myself en mense om my. Dis die inspirasie vir 'n lewe wat geken word deur kindness en om goed te doen aan ander. Dit gee ons krag om getrou en welwillend te wees in elke aspek van ons menswees. Bowenal, hou dit ons nederig en sagmoedig om met selfbeheersing keuses te maak wat ons Hoër Doel en Ware Self dien.
So sit ek gisteraand weer met DIE KLEIN PRINSIE van Antoine de Saint-Exupéry in die hand, waar dit gaan oor die profound les oor liefde, verantwoordelikheid, en wat dit beteken om om te gee vir jou “roos” — wat dit wat kosbaar is, verteenwoordig.
Deur om te gee vir jou “roos” word daar geleer om werklik lief te wees vir iemand anders. Om jou tyd, aandag, energie, en omgee vir iemand anders te gee, leer vir ons die belangrikheid en betekenis daarvan.
Dan lees ek —
“It's the time you spent on your rose that makes your rose so important.”
Die Klein Prinsie besef dat alhoewel daar baie ander “rose” in die wêreld is, is die een vir wie hy omgee die heel belangrikste want daar is ʼn spesiale band van commitment tussen hulle wat hy moet koester.
Dan lees ek verder —
“You become responsible, forever, for what you have tamed.”
Dit sê iets van die idee dat liefde en verhoudings kom met ʼn verantwoordelikheid. Deur te sorg vir jou “roos” besef die Klein Prinsie dat daar ʼn verhouding gevorm is tussen hom en sy “roos”, en met daardie konneksie kom daar ʼn lewenslange plig om vir haar te sorg en te beskerm.
Daarom het ons die laaste paar weke ons Liturgie begin met die bekende woorde uit 1 Korintiërs 13 —
“Die liefde is geduldig en liefdevol, dis nie jaloers nie, dit soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, en hou nie boek van die kwaad nie; is nie bly oor onreg nie, maar is bly oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Toe ek 'n kind was, het ek gepraat soos 'n kind, gedink soos 'n kind, geredeneer soos 'n kind. Maar noudat ek 'n man is, is ek klaar met die dinge van 'n kind.”
Spirituele Volwassenheid verstaan dit, weet dit, en leef dienooreenkomstig met hierdie geestelike waardes, want daarsonder tree ons kinderagtig op en verval ons gedurig in ʼn spiraal van negatiewe gedagtes wat soos dryfsand dit onmoontlik maak om te kan getuig dat geloof en hoop is jou twee vlerke maar dit is die liefde wat die wind onder ons vlerke is. Sonder liefde sal ons glo ons kan vlieg en hoop ons sal vlieg terwyl ons op die tak sit en wonder wat anderkant die horison lê.
Spirituele Volwassenheid vra — is die manier hoe jy dink en doen die beste wat jy kan gee vir hierdie geskenk van liefde? Kan jy die Groot Liefde in die oë kyk en met opregtheid sê, “Ek sorg vir my roos. Ek doen dit met U liefde omdat ek weet daar is geen groter geskenk om te gee nie.”
Ek hoop jy onthou dit vandag!
Met liefde soos altyd
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.