“Your life does not get better by chance, it gets better by change.”
— Jim Rohn —
Ons gesels hierdie maand oor ‘Spirituele Volwassenheid’ — dit is die vermoë om met die lewe om te gaan op ʼn betekenisvolle manier, waarin ons ons aksies en reaksies belyn met spirituele waardes soos liefdevolheid, deernis, respek, en menswaardigheid om elke verhouding waarin ons staan met groter begrip, wysheid, en empatie te kultiveer, sodat ons sal onthou wie ons werklik is.
Wie is ons werklik? Ons is geskape na die beeld en gelykenis van God. Ons asem die Asem van God. Ons is geliefde seuns en dogters van God in wie God ʼn welbehae het.
Hoe kan enige iets ooit weer dieselfde wees as ons dít weet? As ons die vlerke van ʼn arend gegee is, waarom kwaak ons rond asof ons eende in ʼn dam is — en boonop ʼn ou klein dammetjie vol vrese, sinisme, en selfgeregtigheid?
Spirituele Volwassenheid vra net drie dinge: discipline, devotion, and dedication.
Hoe gaan ons enige iets in die lewe bereik sonder hierdie drie hoekstene? Waarom spandeer ons SÓVEEL tyd, geld, en energie aan alles behalwe om harmonie te vind tussen body — mind — and soul? Daar móét tog balans wees.
Soos laas week gesê — Spirituele Volwassenheid verdiep ons begrip om veilig om die slaggate van die lewe te navigeer; dit verbreed ons verstaan van wat ons dink en voel en hoekom ons op ʼn sekere manier reageer, dit versterk ons onderskeidingsvermoë om te weet wat is goed en reg en wat voeg waarde toe, en dit verfyn ons geestelike waardes om met meer integriteit te leef.
Spirituele Volwassenheid lig ons uit ons ego-denke na ʼn lewe van siel-denke. Ons is nie langer vasgevang in ʼn gefragmenteerde wêreld van projeksies nie, maar ervaar in alles wat ons is en doen ʼn eenheid waar ons refleksies is van die Lig, Lewe, en Liefde.
Niks gaan verander voor ons dit nie WIL nie. Ons sal gevangenes bly van ons basiese instink wat net gaan oor oorlewing. Weer en weer sal ons pendel tussen ʼn fight/flight response terwyl ons vashou aan die hoop dat iets van buite sal gebeur om ons uit die dryfsand van wanhoop te lig en vir ons lewensvreugde sal bring.
Spirituele Volwassenheid is die fondasie waarop ons enige VERANDERING bou. Dit is die kompas na ons Ware Noord, en die landkaart na ʼn lewe van vervulling.
Almal soek verandering. Niemand wil verander nie. Ons is gewoon te bang om uit ons dam te klim en ons vlerke te sprei vir iets groter en meer betekenisvol. Daarbenewens het ons so swak selfbeeld dat ons nie weet hoe om die ego se stem te stil wat sê jy is nie goed-genoeg om enige iets beter te verwag nie.
Elke dag is ʼn geleentheid om dinge anders te doen. Om te verander en te vernuwe en deur dit alles te groei na die beste weergawe van myself.
Ja, ons intellektuele intelligensie (IQ) is belangrik om die tapisserie van ons lewe te weef, vir seker ook ons emosionele intelligensie (EQ) om ons eie en ander se emosies te verstaan, maar sonder spirituele intelligensie (SQ) gaan die eersgenoemde twee jou net leer van swem. Vlieg sal altyd net ʼn droom bly.
“The measure of intelligence is the ability to change.” — Albert Einstein
As ons vasklou aan net dit wat maklik en gerieflik is, sal daar nooit enige groei wees nie. As ʼn mens nie jou common-sense kan gebruik om jou te wys wat móét verander nie, dan stagneer ʼn mens en leef jy in ʼn geut — net goed genoeg om die water van die dak na die drein te vat.
Dan kom daar tye wat die lewe jou druk in ʼn rigting van verandering. Dit kan wees as gevolg van siekte, om te moet verhuis, finansiële druk, of egskeiding. Dit is gewoonlik hier waar ons EQ en SQ die duidelikste sigbaar word.
“It is not the strongest of the species that survives, nor the most intelligent, but the one most adaptable to change.” — Charles Darwin
Spirituele Volwassenheid wys ons hoe om aanpasbaar te wees as dit voel alles kantel om ons. Dit gee uithou- en deursettingsvermoë. Dit kweek resilience. HOEKOM? — want ons is geanker is iets groter as onsself! Daardie dieper verhouding bring vir ons insig (i.e. om in ons waarheid te kan staan), en waar daar insig is, het ons altyd ʼn groter uitsig (i.e. wysheid om dinge in perspektief te sien).
Dit gee vir ons die spirituele oë om anders na mekaar te kyk. Ons sien goed in konteks, en konteks bring ʼn nugterheid om die regte besluite te maak. Dit maak ons meer verdraagsaam want as die boompie nie kan buig nie, breek dit.
Spirituele Volwassenheid is nie iets wat op sy eie bestaan nie. Daar is ʼn interafhanklikheid met mense om ons. Dit is nie iets wat jy op jou eie beoefen nie, maar kan net blom waar ons bereid is om ons tuin met ander te deel.
Dit is juis hulle wat die naaste aan ons is wat die vere in ons vlerke sit om te kan vlieg. Ons omring onsself tog nie met mense wat ons vere pluk nie? Ons vlieg saam met hulle wat die moed het om nuwe horisonne te verken.
Kom ons kyk Sondag na VIER maniere om met Spirituele Volwassenheid op te tree as ons deur verandering gaan, hetsy omdat ons na iets beter verlang, of weens omstandighede wat ons dwing om te verander.
Ek is nie een van daai wat glo ʼn mens kan NUUT begin nie. Ons is waar ons is, maar ek kan begin om van hier af vorentoe my lewensverhaal te verander en iets nuut te ervaar.
JUST DO IT!
Met liefde
Soos altyd
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.