Skatte en Geskenke van 2023 IV

Potgooi:

“Maybe Christmas (he thought)doesn’t come from a store.Maybe Christmas perhapsmeans a little bit more.”— Dr Seuss —

Kersfees is 'n tyd wat nuwe lewe in ons siele blaas, 'n seisoen van insig en betekenis wat die doel van ons lewe verlig. Dis 'n tyd waarin ons die geboorte van Jesus vier, en hoe dit ʼn boodskap van HOOP en VREDE resoneer – 'n seisoen wat die feestelikhede oortref om vir ons ‘profound’ lesse te leer oor wie ons IS as mens en wat regtig belangrik is.

Na ʼn jaar met al sy oppe en affe is dit ook ʼn seisoen waar ons weer die klein dingetjie van die lewe waardeer — die warmte van 'n glimlag, die bemoediging van 'n vriend se nabyheid, die vriendelikheid van 'n vreemdeling, en 'n gebaar van welwillendheid van iemand van wie jy dit glad nie verwag het nie.

Saam met die gemoedelikheid wat met ʼn vakansie gepaardgaan, kry ons weer kans om na te dink oor al die oomblikke die afgelope jaar waar ons die buitengewone in die gewonigheid van elke dag gevind het — om met kerslig te eet en kuier, veral as die krag aangaan na loadshedding; 'n warm bad na 'n lang dag se werk; 'n soen van jou kind as hy of sy 'n ruk weg was; daardie ‘iets anders’ wat jy probeer het in 'n restaurant en hoe dit dae later steeds jou mond laat water.

Dink aan die liefde, vergifnis en vrygewigheid wat Kersfees vergestalt. Hierdie deugde strek verder as die vakansieseisoen — dit vorm die klei van ons bestaan. Die krag van vergifnis genees wonde, liefde bind ons saam, en vrygewigheid bring blydskap, nie net vir die ontvanger nie maar ook die gewer.

Dan besef ons weer dat Kersfees is — a state of mind, and a way of life!

Vir ʼn oomblik langs ʼn kersfeesboom onthou ons dat ons met liefde gemaak is, in liefde ontvang en gebore is, met liefde grootgemaak is sodat ons ʼn refleksie van God se liefde kan wees.

Elke geskenkie wat ons oopmaak, is ʼn herinnering dat LIEFDE die essensie van alles is, en die naelstring tussen ons en God. Hiersonder het ons niks. Daarsonder is ons niks.

DÍT is waaroor Kersfees werklik gaan — die liefde van God vir die wêreld (nie net Christene of Jode of Moslems of watewwer nie) maar die WÊRELD, en hoe God ons in die lewe van Jesus kom wys het wat dit beteken om in God gebore te wees sodat ons sal leef as geliefde seuns en dogters van God.

Kersfees is ʼn uitnodiging om die liefdevolle-goedheid (grace) van God te ervaar en te ken as ʼn testament van God se onvoorwaardelike liefde, en ʼn uitnodiging om ʼn geskenk te wees wat vrees vervang met liefde, skuldgevoelens met vergiffenis, en verwerping met versoening.

So, kom ons vat hierdie jaar se lesse saam eerskomende Sondag en dan gesels ons oor die geduld en volharding wat ons geleer het. Kom ons gesels oor hoe ons weer en nog ʼn keer geleer het om buigsaam en aanpasbaar te wees.

Kom ons dink vir ʼn oomblik na oor elke geleentheid wat ons gehad het om met self-refleksie weer te onthou wat die waarde van deernis en empatie is, veral in die tyd van soveel onsekerheid waarin ons leef.

Ons kan ook dink aan die vriendskappe wat die laaste jaar die mooiste en beste in ons uitgebring, en wat dit beteken om getrou en betroubaar te wees. Hoe hierdie lesse bygedra het in ons persoonlike groei, en hoe ons geleer het om uitdagings die hoof te bied deur bloot net anders te dink en anders te reageer.

Dan breek ons saam brood — brood wat ons herinner aan ons eenheid met mekaar, en dan deel ons die wyn — wyn wat ons herinner aan ons eenheid met God, want soos Sheila Cussons skyf, “Waar brood en speeksel meng, maak U verbasend sin.”

Maandag is ons Kersdiens om 9am in die Kapel en dan gaan ons stilstaan by dié vers —

“Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” — Matteus 6:21

“Die hart weet waar jou skat is, en voor jy dit nie gevind het nie sal niks sin maak nie,” het Paulo Coelho êrens geskryf.

Ons geheue sal vervaag oor die geskenke wat ons dié jaar ontvang het maar wat blywend is, is hoe jou hart gevoel het — die liefde wat gegee en ontvang is.

Maak jou hart oop hierdie Kersfees. Gee iets van jouself, want as ons die dag weg is, is ons weg. Maar die goed wat ons aan ander gedoen het, sal bly en onthou word.

Daarom bid ons: Liefdevolle God, lei ons om die skatte van ons harte te verstaan en hoe dit ons lewens inhoud en betekenis gee. Skenk ons die wysheid om te onderskei wat werklik waardevol is en gee ons die toewyding om dit uit te leef.

Ek wens vir jou en jou geliefdes 'n baie geseënde Kersfees. Mag die geskenke van liefde julle harte en gedagtes vul.

Soos altyd

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“The best and most beautiful things in the world cannot be seen or even touched - they must be felt with the heart.”― Helen Keller 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights