Potgooi:
“It's a funny thing about life,
once you begin to take note of the things you are grateful for, you begin to lose sight of the things that you lack.” — Germany Kent —Die jaar loop na sy einde toe en voor ons nog kon sê, “twee-duisend-drie-en-twintig” is ons in Desember.
So aan die einde van die jaar kyk ʼn mens gewoonlik terug met dankbaarheid en waardering vir die lesse wat geleer is, en alles wat die jaar sin en betekenis gegee het.
Kom ons gesels hierdie maand oor ‘Die Skatte en Geskenke van 2023’ — want glo my, daar is meer as twee hande vol as ons vir ʼn oomblik daaroor dink:
Vir seker was dit ʼn jaar wat ons GEDULD geleer het om te verstaan alles gebeur nie altyd op die tyd wat ons dit wou hê, en nog minder hoe ons dit wou gehad het nie. Ons het die krag van KWESBAARHEID geleer en weereens besef dat weerloosheid (vulnerability) is nie swakheid nie maar ʼn bron van sterkte omdat dit ons fokus op dit wat regtig belangrik is, en waarsonder ons nie sou besef het wat ons moet verander nie.
Dit was ʼn jaar wat ons weereens gewys het hoe om DANKBAAR te wees, om selfs die kleinste dingetjie te waardeer, en niks vanselfsprekend te aanvaar nie.
Ons het meer as eenkeer voor die deur van MEDELYE en DEERNIS gestaan om iemand met begrip en empatie te hanteer wat seer het.
Ons het geleer om meer BEWUSTELIK te leef en om teenwoordig te wees in elke oomblik waar die lewe vir ons strikkies maak om te onthou hoe om anders te dink en te reageer.
Dit was ook ʼn jaar van SELF-REFLEKSIE en om tyd te maak om dinge beter te verstaan en ook te besef dat elke aksie en reaksie begin met ʼn gedagte. As ons ons gedagtes verander, verander ons perspektief van die wêreld om ons.
In meer as een opsig was dit ook ʼn jaar wat vir ons die les wou leer om te LAAT GAAN aan dit wat ons nie meer dien nie. Daarmee saam het die les van DAPPERHEID ook deur ons voordeur gestap om ons te leer hoe om ons vrese te tem en die moed te hê om (soms) uit ons gemaksone te tree.
Dit was ook ʼn jaar wat ons geleer het om met meer GRASIE op te tree en om nederig te wees in ons suksesse en teleurstellings. Om meer sag te wees met onsself (gracious and kind) sodat ons daardie INNERLIKE VREDE kan ervaar wat alle verstand te bowe gaan.
MAAR — twee van die grootste lesse van 2023 was gewees: veerkragtigheid (resilience), en daarmee saam aanpasbaarheid (adaptability).
Ons het verandering omarm en maniere gevind om te floreer selfs in tye van onsekerheid. Ons het uitdagings oorkom en geleer hoe om deur die storms te navigeer.
Twee skepe seil uit die hawe — die een seil Oos en die ander een Wes. Dit is nie die rigting van die wind wat sal bepaal of hulle hul bestemming bereik nie, maar die manier hoe hulle hul seile span.
Vandag kyk ons terug na die jaar wat verby is in verwondering! Ons het gegroei en geskep. Ons het geval en opgestaan, én gevlieg. Daar was dae wat ons vergeet het en dan weer dae van onthou wat ons doel en plig is. Ons het soms verdwaal maar dan het ʼn duisend engele op ʼn duisend plekke in ʼn duisend stemme ons weer herinner waar ons Ware Noord is.
Oor en oor die laaste jaar het ek ook gesien hoe mense se ‘rock bottom’ die fondasie geword het om ʼn lewe te herbou wat mooier en sterker is as vantevore.
“The oak fought the wind and was broken, the willow bent when it must and survived.”
― Robert Jordan
Niks in die lewe is staties nie. Alles verander die hele tyd. Die vraag is of ons emosioneel, intellektueel, en spiritueel soepel genoeg is om deur hierdie seisoene van verandering te gaan? Kon ons iets leer en verbeter op dit wat was? Is ons buigsaam wanneer die lewe sy uitdagings na ons slinger, of weet ons net van breek?
Mense met ʼn houding van ‘my-way-or-the-highway’ leef in ʼn geut op die beste van tye en in ʼn loopgraaf op die slegste van tye, wat die hele tyd tuimel tussen ʼn veg-of-vlug reaksie.
Wat baat dit jou? Wat bring dit jou in die sak? Hoe gaan dit jou help om die wêreld beter agter te los as wat jy dit gekry het?
Maak geen fout nie — ek is terdeë bewus daarvan dat vir baie mense was dit ʼn jaar met baie slegte herinneringe: baie mense is deur ernstige finansiële krisisse, ander het geliefdes aan die dood afgestaan, en sommige is verniel deur 'n morsige egskeiding.
Ek maak nie hierdie seermaak-goed af as onbelangrik nie want dit het beslis ʼn enorme invloed op ons menswees gehad. HOE ons op hierdie emosionele pyn reageer, bring buigsaamheid en gee aanpasbaarheid. Dit bring ʼn insig (wysheid) wat niemand van jou kan wegvat nie, en gee jou die KNOW HOW hoe om in die toekoms op die pyn en seer van die lewe te reageer.
“Ons word van alle kante onder druk gesit, maar nie oorweldig nie; [ons is] verward, maar nie in wanhoop nie; [ons word] vervolg, maar nie in die steek gelaat nie; ons word platgeslaan, maar nie vernietig nie.”
— 2 Korintiërs 4:8-9
Kom ons gesels Sondag oor hierdie waardevolle twee lesse en dan kyk ons na die volgende:
— Hoe dit ons leer om ons voete op die grond te hou, emosionele krag te hengel, en te fokus op dit wat waarde toevoeg;
— Hoe dit selfvertroue kweek om elke uitdaging te sien vir wat dit is en dan met wysheid en begrip dit op te los en deur te sien;
— Hoe hierdie twee vaardighede ons geloof, hoop, en liefde verdiep, ons help in besluitneming, en hoe om 'n betekenisvolle lewe te skep;
— Hoe dit ons geestelike lewe voed en dan oorloop na wat ons dink en voel sodat dit sal dien as 'n inspirasie vir ander;
— Hoe dit ons help om meer geduldig met onsself te wees, meer liefdevol, minder oorweldig sodat ons nugter besluite kan neem.
Gaan maak jou lys van alles wat die laaste jaar ʼn geskenk was, wat jy geleer het, en wat om saam te vat as die Nuwe Jaar ons hand skud.
Soos altyd
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.