Potgooi:
“The oasis is in our hearts,
not somewhere outside.”
― Thich Nhat Hanh —
Die laaste maand reis ons deur die emosionele en spirituele woestyne van ons lewe.
Ons beland dikwels in ʼn geestelike wildernis van onsekerheid en twyfel. In die dorre landskap van eensaamheid smag ons na die manna en water wat ons sal voed, sodat ons weer ons selfwaarde en doel vind en onthou ons is 'n geliefde seun en dogter van God.
Die woestyn word dan ʼn katedraal van afsondering (solitude) wat ons nooi om met introspeksie en selfontdekking weer ons pad te vind na die oase van die siel. Daar waar ons weer kan kniel by die altare van elke fontein.
Vir baie mense is die woestyn ʼn Godverlate plek, maar miskien moet ons net eers onsself afvra of die woestyn nie juis die plek is waar ons honger en dors ons dryf om ons afhanklikheid te erken nie, en ons God vind in tye van emosionele pyn wanneer die EGO net soveel harder skree as daardie stil stem aan die binnekant.
Die vraag waarmee ons ons tema vir die maand afsluit, is — weet ons wie se Water dit is wat in en deur ons vloei, en hoe word ons die oase en fontein vir die wêreld waarin ons leef?
Hoor wat sê Johannes 7:38 —
“Elkeen wat in My glo, soos die skrif gesê het, strome lewende water sal uit sy binneste vloei.”
Die skrywer van Johannes Evangelie haal dit aan uit —
DÍT is wie se Water in en deur ons vloei. DÍT is ons oorsprong en bron van lewe.
Waar hierdie Water troebel raak, moet ons gaan kyk wat se klippe en modder het ons in die leivore gesit. Kan dit wees dat ons so onoplettend en nalatig geword het dat ons dit vanselfsprekend aanvaar dat daar helder skoon water uit die fontein sal vloei terwyl ons met ons modder voete roekeloos deur dit trap?
As ons dan daai vuil klippe uit die fontein gehaal het, en ons is oop vir die Water om in en deur ons te vloei, HOE doen ons dit in ons interpersoonlike verhoudings?
Dit kan nie genoeg beklemtoon word nie — PRAAT MET MEKAAR! Luister om te verstaan en nie om te reageer nie. Wees eerlik met jouself, en met mekaar.
Laat hierdie Heilige Water toe om jou te voed en te versadig.
— “Almal moet gou wees om te luister, stadig om te praat en stadig om kwaad te word.” (Jakobus 1:19)
Erken mekaar se sterk punte, moedig mekaar aan om die beste weergawe van hulself te wees, en maak ‘affirmations’ deel van jou daaglikse woordeskat.
— “Liefdevolle woorde is 'n heuningkoek, soet vir die siel, en genesing vir die beendere.” (Spreuke 16:24)
Ons almal kan doen met ʼn bietjie meer geduld. Kalmte en verdraagsaamheid kweek volharding, en volharding is ʼn bewys van ons commitment teenoor mekaar.
— “Verdra mekaar en vergewe mekaar as een van julle 'n grief teen iemand het. Vergewe soos die Here jou vergewe het.” (Kolossense 3:13)
Dit is ons elkeen se verantwoordelikheid om oomblikke te skep waar ons mekaar laat oorloop van ʼn hemelse vreugde en laat veilig voel met ʼn band wat niks en niemand kan breek nie.
— “In alles wat ek gedoen het, het ek julle gewys dat ons harder werk om diegene te help wat swak is en die woorde onthou wat die Here Jesus self gesê het: ‘Dit is saliger om te gee as om te ontvang.'” (Handelinge 20:35)
Dit is fonteine wat mekaar dra en verdra, mekaar ondersteun en opbou, en vir mekaar ʼn dienskneg is — nie onderdanig nie maar in vennootskap.
— “En laat ons kyk hoe ons mekaar kan aanspoor tot liefde en goeie dade.” (Hebreërs 10:24)
Wees soos die fontein wat oorloop, nie soos ʼn dam wat net inloop nie. By so oase wil almal ʼn rusplek vind. By so 'n oase wil mense graag skuil teen die woestyn se hitte bedags en koue snags.
Ons moet ons kinders van kleins af hierdie geestelike waardes leer sodat hulle altyd sal onthou dat ons is almal fonteine vir mekaar.
Kom ons verken Sondag elkeen van hierdie punte en dan kyk ons hoe ons daardie oase in die hart vind, nie êrens buite op die puinhoop van gebroke drome en onvervulde wense nie.
Kom ons word die fontein waaruit die Water (met ʼn hoofletter) vloei — inloop, oorloop, oorgenoeg.
Met liefde soos altyd
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.