“When you come out of the storm, you won’t be the same person who walked in. That’s what the storm is all about.”
— Haruki Murakami —
Ons gesels vandag verder oor die lewenslesse wat die Winter ons leer.
Dit is my vermoede dat baie mense voel trietsig en mismoedig in die Winter, nie omdat dit koud en nat is nie maar omdat die Winter ons dwing om goed rustiger te vat en min mense weet hoe om met stiltes om te gaan. Ons is só besig met allerlei goed en dan word die dae korter en kouer en skielik weet ons nie wat om met onsself te doen nie.
Vir my is daar geen twyfel dat dit juis die Winter is wat ons karakter vorm en die beste in ons uitbring. Dit is die tyd waar ons ‘slow down’ en veronderstel is om te rus met vertroue dat dié seisoen ons sal lei na vernuwing en groei — soos die res van die natuur dit doen.
“Winter is a season of recovery and preparation.” — Paul Theroux
Metafories wil die Winter ook vir ons kom sê dat soms is die lewe so bietjie koud, soms is daar meer donkerte as die lig, soms reën ons nat en sit met winter-griep.
As ʼn mens bang is vir die stilte en ‘doing no-thing’ dan maak die Winter jou angstig. As jy voel jy kan net wees as jy die hele tyd iets DOEN, dan word die Winter stresvol want hoe gaan ʼn mens om met die Winter wat jou na ʼn plek aan die binnekant vat waar die stilte jou vra wat regtig in jou kop en hart aangaan?
Trek jy terug, hardloop jy weg, of leef jy in ontkenning as die lewensstorms jou pad verspoel en alles waarvan jy altyd so seker van is tot in sy fondasie skud?
Kom ons kyk na die belangrike lesse oor VERTROUE en hoe die winter ons kennis en wysheid verdiep en vergroot:
1. GEDULD in onsekerheid
Die Winter se lang, donker nagte in die sluimerende natuur leer ons om die siklus van die seisoene te vertrou. Net soos ons geduldig wag vir die Lente, moet ons leer om met vertroue te weet die dae word reeds stadig maar seker langer.
Vertroue vra geduld, veral in onsekere tye. Vertroue vra om eerlik met jouself te wees oor wat jy kan en vir seker oor dit wat jy NIE kan nie. Die vuur van ons geloof word die kaggel wat ons verwarm.
2. LETTING GO of Control
In die Winter laat die bome hul blare gaan. Selfs die kleinste van die diere gaan soek skuiling teen die koue want hulle weet dat hul nie in beheer is van wat met hul gebeur nie. Hul kan net kies hoe om daarop te reageer.
Vertroue laat gaan aan ons obsessies om alles te wil beheer en te bestuur. Dit weet hoe om stil te gaan staan en ons krag te hernu om nugter na situasies te kyk.
3. GELOOF in Hernuwing
Ons is gelukkig in die Kaap dat dit so mooi is in die Winter. Dit is nie so barre landskap waar alles vaal is soos in die binneland nie. Tog het ons dit wel ingemeen dat ons weet die bloeisels kom weer.
Vertroue glo in die potensiaal van hernuwing en groei, selfs wanneer dit nie altyd sigbaar is nie.
4. Om WEERLOOSHEID te Omarm
Die Winter se nat, koue, donker toestande bring ons dikwels na ʼn plek van weerloosheid waar ons herinner word dat ons soveel sterker is as wat ons vermoed. Onthou dit. Weet dit. Leef dit.
Vertroue beteken om onsself toe te laat om kwesbaar te voel, wetende hoe essensieel dit is vir dieper konneksies.
5. HOOP in Duisternis
Die donkerste dae van Winter is ʼn prelude vir die lig van Lente wat gaan oorloop in die Somer. Duisternis bestaan nie en is net die afwesigheid van lig. As jy die deur oopmaak van ʼn kamer met lig na ʼn kamer wat donker is dan gaan die lig in die donker vertrek.
Duisternis het geen krag of mag nie en daarom kan ons met vertroue weet dat ons hoop leef in die oorvloed van LIG… en wat is hoop: hoop is om te wag met ʼn doel. (Hope is to wait with a purpose!)
Onthou dat ‘the darkest hour’ het net sestig minute. Dit is nooit permanent nie. Ten midde van die grootste storm van jou lewe lê daar altyd ʼn geleentheid om te groei en ʼn aspek van jou menswees te ontgin wat dalk al vir jare lank in die kelder begrawe lê.
Ons gaan Sondag hierdie vyf aspekte in ons een hand sit, en in die ander hand kyk na ons vertroue in ons interpersoonlike verhoudings, ons vertroue in die regte tyd op die regte plek, ons vertroue in die vrede wat stilte bring, vertroue in ons innerlike krag, en vertroue in die aanvaarding van die seisoen waarin ons is.
Hoop om jou Sondag in ons Kapel te sien.
Met liefde
Soos altyd
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.