Sondagdiens
26 Januarie 2020

Hierdie week se liturgie: 26 Januarie 2020
Ons jaar het begin met ʼn voorneme om 2020 anders te doen en ʼn paar goed te verander sodat hierdie jaar ons sal seën met gemoedsrus en geestesgesondheid wat die vrugte van liefde, vreugde, en vrede sal dra. Met hierdie intensies gesels ons al vir ʼn maand lank oor KEUSES EN BESLUITE. Elke Sondag het ons ʼn handvol sade in ons beddings geplant en eerskomende Sondag sluit ons die maand af met nóg vyf stegies van wat ons kan doen om teen die einde van 2020 te sê: hierdie jaar was goed — KYK! Ons beddings is vol blomme en ons sit in die skaduwee van ons boom.
Die mantra van die laaste vier weke is — our lives are shaped by the actions that we take — en ons sluit die laaste Sondag van die eerste maand af met die volgende vyf broodjies:
- Keep People Who Care Close to Your Heart — mense kom en gaan ... sommige vir ʼn leeftyd en ander net vir ʼn seisoen. Soos ek ouer word, het die kring kleiner geword, maar diegene in my binnekring deel ʼn onvoorwaardelike liefde en aanvaarding. Daar word die waarheid van myself vir ʼn ander gesê sonder vrees vir verwerping en hier kan hulle wat omgee jou teregwys en vermaan sonder vrees vir vernedering. Sulke verhoudinge vra toewyding en gebeur nie net vanself nie. Dit waarna Spreuke 17:17 verwys as dit sê: “ʼn Vriend se liefde is vir altyd. ʼn Broer (en suster) word gebore vir tye van teenspoed.”
Sulke mense gee meer as wat hulle neem en hul emosionele, intellektuele, en spirituele bydrae is van onskatbare waarde. Waar sommige verhoudinge jou nie langer dien met liefde, vreugde, vrede, respek, en menswaardigheid nie laat ons dit gaan sonder skuldgevoel of verwyt. Maar hulle wat jou dien met integriteit, lojaliteit en medemenslikheid — hou ons na aan die hart.
- In Service of Love — soos 1 Johannes 4:7 se herinnering, “Liewe vriende, laat ons mekaar liefhê want liefde kom van God. Wie ook al liefhet, is ʼn kind van God en KEN God.” — moet dit nooit vergeet nie ... ons staan in diens van Liefde!
Liefde is nie iets wat jy doen, of maak, of gee, of verloor nie — LIEFDE is wat jy toelaat om deur jou te gebeur. Die liefde vir jou vrou/man, vir jou kind, vir ʼn kollega, vir ʼn vreemdeling is een en dieselfde Liefde. Jy het nie ʼn 'ander' liefde vir jou kind as vir jou beminde nie. JA, ons manifesteer dit anders teenoor ons kind as teenoor jou vrou ... ons demonstreer dit anders teenoor jou ouers as teenoor ʼn vreemdeling, maar Liefde is liefde is LIEFDE is God.
In die Boeddhisme word geleer dat elke verhouding (by name die verhouding met jou beminde/geliefde) staan op vier pilare wat ons Sondag kan verken: [1] Maitri = Kindness [2] Karuna = Compassion [3] Mudita = Joy [4] Upeksha = Freedom
- Disagree with Dignity — “There is one who speaks rashly like the thrusts of a sword, But the tongue of the wise brings healing.” (Spreuke 12:18) Gereeld sal ek pasgetroudes daaraan herinner dat die manier waarop ons konflik oplos, gaan maak of dié verhouding (huwelik) gaan hou of nie. Daar is ʼn paar reëls as dit kom by konflik-hantering — as daar meningsverskil is, moenie mekaar verneder nie; bly by die saak op hande en moenie ou koeie hengel nie; as jy nie regverdig of billik kan wees in die oomblik nie, maak ʼn afspraak vir ʼn dag of twee later om dit sonder wrewel of woede te bespreek en hou by jou afspraak, al voel jy dit is nie langer belangrik nie; los jou ego en trots by die voordeur en bring jou hart na die gesprek. Leer om ʼn manier van kommunikasie te vind waar die ander persoon jou hoor, want jou geskree en gevloek gaan NIKS bereik nie.
Onthou die goue reël — doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê.
Onthou die beginsel — “Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.” (1 Korintiërs 13:4-7)
- Grass is Greener Where You Water It — soms kyk ons jaloers na mense om ons se lewe ... hulle voorspoed, hul oënskynlike suksesse, hulle waarskynlike geluk en dan sê ons vir onsself, “life isn’t fair!” Luister mooi: die lewe is nie regverdig nie, want die lewe is nie onregverdig nie. Die lewe is nie goed nie, want die lewe is nie sleg nie. Die lewe is wat die lewe is. Die verantwoordelikheid lê by my hoe ek daarop gaan reageer. Ek, en net ek, is verantwoordelik vir my emosies (reaksies) en hoe gouer ek ophou om die blame-game en victim-mentality te speel, hoe gouer gaan ek besef dat die gras is groener waar ek dit water gee — nie die gras aan die anderkant van die heining nie, maar die gras onder my voete.
Kyk met deernis, empatie, en sensitiwiteit na jóú bedding. Versorg jóú tuin. Paulus skryf aan ʼn gemeente wat jaloers na ander gemeentes kyk, “Verder, geliefdes, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.” (Filippense 4:8)
- Count Your Blessings — altyd ... ALTYD. Nie net wanneer jy jou sin kry nie. Nie net as dit goed gaan en alles effortlessly effortless in jou skoot val nie. Daar sal altyd iets anders, iets beters wees wat jy dink dat as jy net DÍT het, sal jy gelukkig wees tot jy dit het en dan is dit ook nie meer goed genoeg nie. Leer om te weet wanneer is genoeg, genoeg ... en wees tevrede met wat jy het, want die meeste is meestal nie genoeg nie. Wees die beste weergawe van jouself en omring jou met mense wat dit koester en kultiveer.
Gee ʼn tree of twee terug en leer die heilige drie-eenheid van ʼn gelukkig lewe naamlik: thankfulness, appreciation, gratitude. Gee iets terug van die oorvloed wat jy het en jy sal verbaas wees hoe dit die tafel van geloof, hoop, en liefde dek waar selfs hulle wat nie van jou hou nie kan aansit om uit die beker van seëninge te drink.
Dit is genoeg vir vandag.
Mag die laaste paar dae van Januarie vir jou leivore bring na die siel, na die hart, en hande van gee en omgee.
Hoop om jou en jou vriende en familie eerskomende Sondag in ons Sirkel te verwelkom.
Met liefde
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
.
GEDAGTE VIR DIE WEEK
“... swaarkry kweek volharding,
en volharding kweek egtheid van geloof,
en egtheid van geloof kweek hoop;
en dié hoop beskaam nie,
want God het sy liefde in ons harte uitgestort ...”
― Romeine 5:3b-5 ―
.
A COURSE IN MIRACLES
Ons lees hierdie jaar die wonderlike boek
'Rising Strong' van Brené Brown
Stad: Maandag 27 Januarie @ 19h30
Kolping: Donderdag 23 Januarie @ 19h30