Gesprekke met God I

3 Junie 2018

LITURGIE: 3_junie_2018

In die proses om so bietjie skoon te maak in my studeerkamer kom ek op ʼn pak fotostate af. Dit is Neale Donald Walsch se boek, ‘Conversations With God’ wat ʼn vriendin van my in Engeland vir my gestuur het omdat die boek toe nog nie in Suid Afrika beskikbaar was nie. In haar handskrif, ʼn kort nota met ʼn datum: 25 Mei 1998. Twintig jaar later, met die boek op my rak, flenters gelees en herlees en onderstreep, sit ek met die pak papiere in my hand en verwonder my oor die kantaantekeninge. Verstom oor my eie spirituele reis die laaste 20 jaar.

Teoloë sal enorme moeite met die boek hê maar vir my was dit ʼn vars bries van ʼn nuwe manier van dink oor God en God se verhouding met ons. ‘Gesprekke met God’ breek deur die heinings wat 2000 jaar se Christelike dogma om die mens gespan en ʼn Godsverduistering tot gevolg gehad het. Oor en oor in die boek is dit Walsch se versoek dat ons ons eie gesprekke met God sal hê om sodoende inhoud en betekenis te gee aan ons eie verhouding met God. ʼn Lewende ervaring wat verby vorm, definisie, en dimensies sal breek. Twintig jaar later weet ek dat die mens van die 21ste eeu meer as ooit honger en dors na ʼn gesprek oor/met God wat sinvol, modern, gesofistikeerd en relevant sal wees. Trouens, ek glo die voortbestaan van die Christendom hang hiervan af. Die tyd van napraters is verby. Soos die skrywers van die Nuwe Testament gaan ons moedig genoeg moet wees om ons eie Goeie Nuus te ontgin in die Waarheid wat vir ons die Lig gestuur het sodat ons dapper genoeg sal wees om ons eie spore te trap sodat ons voetpaadjies sal maak vir hulle wat verlore, verdwaal soek na die allesinsluitende Liefde.

In die Goddelike sinchronisiteit, wat ek Divine Appointments noem, sit ek elke dag met Henri Nouwen in die hand met dagstukkies uit sy boek, You Are The Beloved — Daily Meditations for Spiritual Living, wat die laaste vyf maande ʼn reisgenoot geword het in my daaglikse wandeling met God. Met Neale Donald Walsch in die een hand en Henri Nouwen in die ander hand lees ek sy gebed vir vandag:
Dear God,
I am so afraid to open my clenched fists!
What will I be when I have nothing left to hold on to?
Who will I be when I stand before you with empty hands?
Please help me to gradually open my hands
And to discover that I am not what I own,
But what you want to give me.
And what you want to give me is love --
Unconditional, everlasting love.
Amen
Na só gebed raak ons stil. Mense weet nie meer wat is ‘stiltetyd’ nie en sommiges kan glad nie stilbly nie. Te bang vir die stilte word elke oomblik van die dag gevul met die geklank van hul eie stem. En as dit nie die blah-blah van ʼn gesprek is nie dan is dit fah-fah op ʼn foonskerm. Hoe gaan ons ooit ʼn Gesprek Met God hê as ons nie weet van stilblynie, as ons vergeet het wat beteken luister, as ons bang geword het vir stilte? Elke oomblik van die dag, in elke situasie, in wie se teenwoordigheid jy ook al is, is ʼn gebed — ʼn Gesprek met God. God is nie net daar as ons iets nodig het nie, wanneer ons iets wil hê, as ons bang is en die vrees ons oorweldig nie.

God is nie ʼn stoplap net wanneer ek tyd het, wanneer dit geleë is, as ek niks anders het om te doen nie. Goddank werk God nie met ons op so manier nie! Daarom het ons al dikwels gesê: as dit met ons spiritualiteit (verhouding met God) moes gaan soos met ons besigheid met dieselfde moeite wat ons insit om van ons besigheid ʼn sukses te maak, sou ons tot groot seën vir die wêreld wees en daadwerklik ʼn verskil maak in die milieu waarin ons leef. Máár, as dit met ons besigheid moes gaan soos met ons spirituele verhouding, sou ons seker vrek van die honger en lankal, oorweldig deur moedeloosheid en teleurstelling, die see in gestap het.

Kom ons gesels in Junie oor — GESPREKKE MET GOD -- en dan skop ons eerskomende Sondag af met ʼn gesprek oor LUISTER NA DIE STEM VAN LIEFDE.

Vir vandag is dít die Stem wat vir my hart fluister: Gee meer as wat jy neem, en wat jy ontvang moet jy nie vanselfsprekend aanvaar nie. Wees altyd dankbaar, en wys jou waardering. Vermy middelmatigheid en louheid. Wees nugter en verstandig en kweek ʼn goeie oordeelsvermoë sodat ons kan onderskei tussen wat sinvol en wat onsin is. Wees bereid om te leer sodat jy ʼn leermeester kan wees vir hulle wat doof geword vir God se stem. Maak elke oomblik van die dag ʼn fontein van liefde. Laat elke gedagte daarop gerig wees om die wêreld ʼn beter plek te maak. Wees lief vir jouself en behandel jouself met aanvaarding, respek, en menswaardigheid. Slegs dan sal ons dit regkry om ander as ewemens te behandel. Leef in vrede en laat vergiffenis jou vrymaak van verwyt en spyt. Bring jou wonde na die lig en gee dit lug want so word wonde gesond. Eer elke ander persoon se waarheid en behandel elkeen se ervaring en verhouding met God met deernis en respek. Moenie oordeel nie. Deel jou vreugde. Beskerm en versorg hulle wat weerloos is. Omring jou met mense wat waarde toevoeg. Leef in liefde, want God is liefde.

Gaan koop ʼn dagboek en begin elke dag ʼn Gesprek met God. Skryf neer wat op jou hart is en gee dit tyd totdat jy voel daar is iets te sê. Skryf die antwoord in ʼn ander kleur. Wees stil en luister. Skryf wat in jou gedagtes woorde vind. Luister dan weer!

GEDAGTE VIR DIE WEEK
“You cannot take responsibility for how well another accepts your truth;
you can only ensure how well it is communicated.
And by how well, I don't mean merely how clearly; I mean how lovingly,
how compassionately, how sensitively, how courageously, and how completely.” 

―  Neale Donald Walsch, ‘Conversations with God’ (Book 1) ―


A COURSE IN MIRACLES

Stad 4 Junie (19h30)  — en -- Kolping 31 Mei (19h30)
— Lessons 60-62 --

[Lees asseblief elke dag 'n stukkie uit ACIM]

 

 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights