Potgooi:
“The secret of abundance is not in needing more but in being more.”
— Alan Cohen —
Volgens statistiek wat in 2021 gepubliseer is, is jy deel van die top 2% van ons land se bevolking as jy die volgende VIER goed het: lopende water in jou huis, 'n spoeltoilet, 'n motor, en 'n privaat mediese fonds.
Elke jaar het ek één woord wat die hartklop van die jaar word, en hierdie jaar is dit die woord, ‘ABUNDANCE’ — van die Latynse woord ‘abundaria’ (ab = van, unda = golf) wat letterlik beteken: die oorloop van 'n golf. Met ander woorde, iets wat vrylik vloei en nie beperk of bevat kan word nie.
Waarna verwys ons as ons praat van ‘abundance’ — ons praat van die oorvloed van voorsiening, die genoegsaamheid van als wat voldoende is, en die volheid van emosionele en geestelike rykdom.
Daar is ʼn Franse spreuk wat sê: “La vraie abondance naît de la gratitude et du contentement.” (True abundance is born from gratitude and contentment.)
In die maand waar ons gesels oor ‘Geseënd om tot Seën te wees’ kan ons vandag stilstaan by die inhoud en invloed van ʼn lewensingesteldheid wat vloei en floreer in die ‘oorvloed’ van alles wat mooi, en goed, en lief is.
Die grootste rede waarom ons sukkel om die oorloop – oorvloed – oorgenoeg van die lewe te herken en te ervaar, is vanweë ʼn gesindheid dat ons tekortskiet. Ons skaarsheidsdenke maak dat ons dink ons ly gebrek en het te min.
Ons wil altyd méér, en nóg. Die meeste is nie genoeg nie, en ons vergeet dat in die volheid van die hart, leef werklike rykdom.
Maar as ons onsself die hele tyd met ander vergelyk, en nie tevrede is met wat ons het en is nie, dan raak ons bitter. Kort voor lank loop ons dankbaarheid leeg, en neem ons onvergenoegdheid als vanselfsprekend.
Natuurlik is daar niks fout om te werk en te droom vir iets wat jy graag wil hê nie solank ons steeds weet dat ons selfwaarde hang nie af van ons materiële genoegens nie, maar om die vreugde van vervulling te vind in dankbaarheid vir die oorvloed wat ons het, en wie ons is as mens.
As ek dink aan ʼn die goed waarvan ons ʼn oorvloed het, dan onthou ek die lug wat ons asem, die lig wat lewe gee, woorde en taal om te kan sê wat ons dink, souvenirs en herinneringe van als wat ons siele voed, geleenthede en keuses om die beste weergawe van onsself te wees, toegang tot informasie en kennis, die skoonheid van die natuur, idees en kreatiwiteit, verhoudings wat waarde toevoeg, en elke keer wat ons nog ʼn kans kry om te sien hoe ons verras word deur seëninge so milddadig.
Om DÍT te sien, te voel, te ervaar, is ʼn keuse!
Daar is ʼn paar goed wat ons kan doen om hierdie gesindheid van oorvloed te kweek, koester, en te kultiveer —
Intellektuele Oorvloed
Stel belang in dit wat jou laat dink, en jou verwysingsraamwerk vergroot. Lees meer en behou altyd ʼn gees van nuuskierigheid.
Vat tyd om na te dink oor dit wat jy geleer het. Moenie net informasie verorber nie, maar gebruik dit om groter insigte vir jouself te ontsluit.
Wees oop vir betekenisvolle gesprekke. Omring jou met mense wat waarde toevoeg tot jou lewe en jou inspireer. Deel jou wysheid vrymoedig met ander.
Hou dagboek van jou insigte, soek na antwoorde op jou vrae, en doen meer self-refleksie oor dit wat jy anders en beter kan doen.
Emosionele Oorvloed
‘Self-Awareness’ beteken om bewus te wees van jou aksies en reaksies, asook die gevoelens van ander, want dit lei tot emosionele intelligensie.
‘Self-Compassion’ is om sagter met ons eie foute (wonde) om te gaan, moeite te doen om daaraan te werk, want slegs dan sal ons liefdevol met ander omgaan.
Om bewustelik en oplettend te leef, help om teenwoordig te wees in elke oomblik. Ons sit ons skuldgevoelens oor gister en vrese oor môre neer en maak plek om die oorvloed van hier en nou te waardeer.
Wat ons laat oorloop, is vriendskappe waar dit veilig is om jouself te wees, wat saam met jou elke groot of klein mylpaal seëvier, en by jou kan sit in dae van hartseer en onsekerheid.
Materiële Oorvloed
Die gawe om gereeld te ‘declutter’ leer ons om met waardering te leef, en tevrede te wees met die ‘genoeg’ wat ons het.
As ons bewus is van ons materiële oorvloed, dan kweek dit ʼn gesindheid waar ons meer gee as wat ons vat. Ons gee en gee om uit ons volheid, wat maak dat my seëninge ook JOU seëninge word… en dit bring dubbel vreugde.
Spirituele Oorvloed
Dit vra om daagliks dankbaarheid te kultiveer. Dit is die dissipline om vir ʼn paar minute stil te word om weer te onthou dat ‘abundance’ is nie net dit wat jy in jou hande vashou nie, maar veral wat jy in jou hart dra.
Om met geestelike oorvloed te leef, is om vrylik te gee, diep lief te hê, en om “DANKIE” te kan sê.
Daar is nie by my ʼn behoefte om meer goeters te hê nie, wel meer betekenis. Skryf ek gisteraand in my dagboek: Blessings are grace in motion. Dit maak ek my fokus vir my nuwe lewensjaar.
Voorwaar —
“The secret of abundance is not in needing more but in being more.” — Alan Cohen
Met liefde soos altyd
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.