“God laat die son opkom oor dit wat sleg sowel as dit wat goed is, en Hy laat dit reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.”
― Matteus 5:45 —ʼn Paar dae gelede sit ek met iemand in gesprek wat deur ʼn geloofskrisis gaan. “Wat is waar, wat moet ek glo?” word gevra. “Daar is soveel godsdienste en almal kan tog nie reg wees nie?” is nog ʼn vraag.
“Almal kan ook nie verkeerd wees nie…” is my antwoord.
Na jare se studie van veral die vyf ‘groot’ godsdienste (Hindoeïsme, Buddisme, Judaïsme, Christendom, Islam) is dit my beskeie opinie dat ons veel meer in gemeen het as wat ons verskil.
In al VYF gaan dit oor hoe ons moet omgaan met lyding; dit gaan oor medelye en medemenslikheid; dit gaan oor ‘doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê’; dit gaan oor liefde en vriendelikheid (kindness); dit gaan oor toewyding en selfbeheersing.
‘WAT’ ons glo, mag van mekaar verskil maar die ‘HOE’ is verbasend dieselfde. Miskien is dit juis die dilemma van die tradisie waarin ons grootgeword het: daar is vir ons geleer WAT ons moet sien maar nooit HOE nie; daar is vertel WAT ons mag hoor maar nie HOE om te luister nie.
“Ek weet nie meer HOE om te glo nie.” fluister my besoeker met ʼn bewoë stem.
Die teenoorgestelde van GELOOF is nie ongeloof nie, ook nie twyfel nie — maar BEHEER (control). Die verstand wil in beheer wees. Dit wil alles op ʼn rytjie sit. Die brein kan net werk met vergelykings en daarom kry alles ʼn etiket en word geliasseer in ʼn kompartement.
Maar wat verstaan die brein van liefde, uit watter laai sal die brein ʼn definisie gee sonder om ʼn idee te hê wat dit regtig beteken om iemand meer lief te hê as myself?
Wat verstaan die intellek van dood en lyding? Wat stotter die brein oor ʼn eerlike verstaan van die Goddelike, en het dit enige sinvolle verduideliking oor die begrip ‘ewigheid’?
Dit bring ons by die volgende brief van Paulus en hierdie week gaan dit oor die brief aan die gemeente in Filippense.
Filippense (Grieks: Philippoi) is ʼn stad net oor die bult van die see by Kavala wat in die Noord-Ooste van Griekeland geleë is, nie vêr van Turkye in die Ooste en Bulgarye in die Noorde nie.
Die stad, in die destydse provinsie van Macedonië, is vernoem na Phillip II wat die vader van Alexander die Grote was.
Paulus kom van Klein-Asië (vandag se Turkye) in dié stad aan saam met Silas en Timoteus. By ʼn stroom water in die dorp ontmoet hy ʼn welgestelde vrou met die naam Lydia wat dalk die eerste persoon in Europa was wat ʼn volgeling van Jesus geword het.
Die brief aan Filippense is ʼn baie kort brief en dit sal jou nie langer as 10 minute vat om dit deur te lees nie. Daar kan met redelike sekerheid gesê word dat hierdie brief wel deur Paulus geskryf is, en heel waarskynlik as ʼn gevangene in Rome.
Bybelkundiges wys daarop dat dit eintlik fragmente is van DRIE briewe wat baie later saamgevoeg is as een brief.
Ons lei dit af in die skielike skuif in toon en temas binne die teks en daar blyk ook chronologiese teenstrydighede te wees van een hoofstuk na die volgende oor Paulus se medewerker genaamd Epaphroditus.
Ook hierdie brief is ʼn reaksie op die tydgees van die DUALISME en dat in Christus is daar versoening tussen wat ons dink is reg en wat is verkeerd volgens ons mensgemaakte wette; wat is waar en wat is vals vanuit watter filosofie ook al ‘the flavour of month’ mag wees; wie is in en wie is uit volgens óns interpretasie van die Waarheid.
Hierdie brief gaan oor die waarde van GEBED en dat gebed die dissipline is waar ons laat los (surrender) aan ons beheer. Gebed is die deur na ʼn Goddelike insig en die venster na ʼn Goddelike uitsig.
Dit gaan oor DANKBAARHEID ten spyte van, desondanks, nie teen staande die omstandighede waarin ons is want onthou Paulus skryf dit as ʼn gevangene wat letterlik nie seker is of hy die dag van môre gaan sien nie.
Dit is ʼn herinnering dat ons LIGDRAERS is van ʼn nuwe lewe wat getuig dat “alles wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sal buig en elke tong sal bely: Jesus Christus is Here!” (2:10-11)
Verder is dit ʼn aansporing om GETROU te wees waartoe ons geroep is (our calling, purpose, and our vocation) ongeag die werk wat jy doen, die kultuur wat jou vorm, of tradisie waarin jy gebore is. Paulus beroep homself op die Joods en Griekse beginsel van ‘geregtigheid’ (righteousness) wat in beide Hebreeus en Grieks vertaal kan word met: to be what you ought to be!
Maar dit is die triomfantlike oproep tot ʼn Christelike LEWENSWANDEL wat deur die dualisme van ons vooropgestelde idees, agterdog, en selfgeregtigheid breek as hy skryf:
“Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”
— Filippense 4:4-7 —Jy mag dalk dink —
Ag, wie is lus vir hierdie ou kerktaal, en wie wil in 2022 nog hoor van ʼn ou man met sy doring in die vlees wat in ʼn tronk sit en preek vir ander mense…?Dan wil ek jou nooi om Sondag saam met ons te kom sit in ons Sirkel want hierdie brief is vandag nog nét so relevant, nét so van toepassing vir die tyd waarin ons leef — dis nou te sê as jy ernstig is oor jou geloof.
Met liefde en waardering
Terblanche