Liturgie: 2_desember_2018
... en hier is ons — die laaste maand van 2018 in ʼn jaar wat soos ʼn jive op ʼn wals verby is.
Ons sê dit seker elke jaar, maar veel meer het die afgelope 12 maande gebeur as wat ons ooit op Nuwejaarsdag sou kon antisipeer. Ons het gewen en verloor, ons het gestaan en geval, ons was binne en dan weer buite. Daar was sekerheid en dan weer twyfel, daar was dae van liefde en oomblikke oorweldig deur vrees. Ons het baie gelag maar ook skemertes gehad van trane. Ons het “Hallo” gesê maar ook “Koebaai” ... nuwe mense het in ons lewe gereis en bekendes het verhuis waarvan sommiges, permanent. Elke triomf het gekom met uitdagings, elke lament met ʼn ‘hallelujah’ ... daar was geboortes en afsterwes, deure wat soms oop en soms geslote was, daar was droogtes en oorstromings — en so het ons lewensstroom deur die jaar se watervalle en stroomversnellings gevloei.
Met ʼn somervakansie voor ons deur, is dit ons almal se intensie om die jaar af te sluit met ʼn emosionele balansstaat waar die inkomstes-en-uitgawes met mekaar klop, op die intellektuele bladsy van kennis-verstaan-ervaring-wysheid-gedy, en geskryf met die spirituele ink wat sin gee aan (nog) ʼn jaar verby ... want hoe op dees aarde gaan ons 2019 tegemoet as die jaar wat verby is nie haar emosionele, intellektuele, en spirituele padkos vir ons pak nie?
Iemand het êrens geskryf, “If you hit a wall, climb over it, crawl under it, or dance on top of it.” Met dié gedagte in ons knapsak gaan ons Desember afsluit met die tema — LA DANSE DE LA VIE (die dans van die lewe) — en vir die volgende paar Sondae en Kersfees, gaan ons gesels oor die Dans wat veel meer is as om net jou lyf te beweeg op die ritme van musiek. Ons gaan verskillende dansvorme verken aan die hand van die afgelope jaar se seisoene en dit weef in die verhale wat ʼn stem gee aan ons eie stories. Hopelik teen Oujaarsaand sal ons kan dans met al die herinnering van die jaar en daarmee ʼn nuwe lied sing vir 2019 waarop ons voete hul huppel sal vind.
Wat ek die meeste admireer van ʼn danser is die feit dat jy dit nie kan oppak en huis toe vat nie, jy kan dit nie in ʼn gedig of skildery vasvang nie, en jy kan dit nie op ʼn verhoog of in ʼn museum stoor vir eendag later nie ... die dans word die danser word die dans in ʼn vlietende oomblik en vir daardie oomblik leef die dans in die danser in die dans. Elke beweging is ʼn refleksie van elke asemteug wat ʼn krag word wat in en deur jou vloei. Jou hart klop vinniger. Sweet pêrel op jou voorkop. Jy dans asof niemand kyk nie! Soms ʼn elegante wals en dan weer ʼn passievolle tango. Van ʼn sensuele samba tot ʼn ruk-en-rol wat beweeg en sweef op die maat van musiek.
Vat twee minute en sien wat ek bedoel as jy kyk na hierdie jongman wat homself afgeneem het in sy dakkamer en nooit kon droom dat 48 miljoen mense dit sou sien en geniet nie --
https://www.youtube.com/watch?v=5ueJ4-lTa1s
Die meeste van ons dans nooit meer nie, en as ons doen by ʼn troue of ander funksie is dit ʼn langarm geskommel, al in die rondte met net een doel en dit is om niemand te stamp of op iemand se tone te trap nie. Miskien, soms, sit jy die musiek aan in jou huis en begin jy te dans in wilde ekstase, arms in die lug en kop agteroor. Vir ʼn oomblik verloor jy jouself in jouself en gee nie om vir rumatiek knieë of daai pyn in die rug nie. Om die waarheid te sê, jy gee nie eers om of dié dans jou in ICU sit nie. Jy dans, en jy dans ...
... jy dans vir die dae wat jy te seer was om te dans, jy dans vir die nagte wat jy te moeg was om te dans, jy dans met almal wat nooit met jou wou dans nie, en jy dans tot elke emosie van mislukking en teleurstelling in jou oopbreek en plek maak vir die melodie van balans op maat van die Groter Ritme ... en wanneer jy moeg op die vloer neersak dan sê jy vir jouself, “C'est ma danse de la vie!” — dit is my dans van die lewe!
Hoekom in Frans? Want ons dans op wat ons nie altyd verstaan nie, ons dans al weet ons nie hoe om dit uit te spreek nie, ons dans omdat die klank ons betower, ons dans sonder om te weet hoekom ons dans. Vir sommige is dit ‘La danza de la vida’ en vir ander is dit ‘Umdanso wokuphila’ maar vir jou en my vertaal alles dieselfde: ‘die dans van die lewe’ — “Dance, when you're broken open. Dance, if you've torn the bandage off. Dance in the middle of the fighting. Dance in your blood. Dance when you're perfectly free.” het Rumi gesê.
Kom ons blaai Sondag na die dans van ʼn koning voor sy jong vrou wat hy vergeet het om lief te hê. (2 Samuel 6:16-23) Kom ons verken die dans as die lewe soms sy wrede spel met jou speel en jou skoot sluit vir ʼn wedergeboorte. Kom ons dans vir ʼn jaar wat soms sy ritme verloor het in die melodie. Kom ons dans vir ʼn jaar met al haar geskenke.
“Shall we dance?!”
GEDAGTE VIR DIE WEEK“And those who were seen dancing
were thought to be insane
by those who could not hear the music.”
― Friedrich Nietzsche ―
A COURSE IN MIRACLES
Ons hervat weer volgende jaar
na die Somervakansie
[Lees asseblief steeds
elke dag 'n stukkie uit ACIM]