Vandag is my verjaarsdag ... en op meer as een manier is dit ʼn verjaarsdag soos geen ander jaar nie. In hierdie bisarre seisoen groet ons mekaar agter maskers; hou ons ons afstand; moet ons saans voor 9 tuis wees en as jy êrens anders is, moet jy daar bly tot 4am; jy mag dobbel en veilings hou, maar kan nie by jou ouers gaan kuier nie; ons mag ʼn taxi vol pak maar nie wyn koop nie ... wat ʼn gekke tyd!
Ten midde van dit alles, staan ek met dankbaarheid vanoggend op — dankbaar vir ʼn jaar van gesondheid en in feitlik alle opsigte ʼn jaar van vreugde, vrede, en voorspoed. Dankbaar vir ʼn jaar van vriendskappe koester en die waarde van ‘verhoudinge’ opnuut weer ontgin en kultiveer. Dit was ʼn jaar van ʼn veel groter bewussyn om met dankbaarheid en waardering te leef.
Dit was ook ʼn jaar om weer na my eie ‘tuin’ te kyk en vir myself te vra: waar moet nuwe beddings kom, wat het nodig om gesnoei te word, waar het ons meer blomme en minder skaduwee nodig? Heinings is vervang met leivore en die los klippe het ʼn geplaveide wandelpad geword. Bome wat nie vrug dra nie is uitgekap, en struike wat als wil oorheers en net dorings saai, is vervang met grasperke waar mens tafels kan dek en kinders bollemakiesies kan maak.
Mý tuin kry sy water van ʼn fontein waar mense van uiteenlopende agtergronde ook van drink. Hierdie fontein se naam is Neo-Spektrum ...
My dankbaarheid en waardering vir dié fontein kan nie in woorde omskryf word nie — al wat ek weet, is dat sonder hierdie fontein sou ek omkom van honger en dors. Sonder hierdie fontein sou my tuin nie floreer nie. Sonder hierdie fontein sou ek in ʼn geestelike woestyn geleef het.
Die laaste 10 jaar is hierdie fontein my bron van inspirasie asook my put van emosionele, intellektuele, en spirituele groei. Die laaste 20 jaar moes ek tweemaal van vooraf begin. Eers met Kruiskerk en tien jaar later met Neo-Spektrum. Met tye was daar dae, maande, waar ek nie geweet het hoe ek my verpligtinge die einde van die maand gaan nakom nie. BAIE mense het gewaarsku dat daar geen manier is dat nóg ʼn gemeente, los van georganiseerde kerk, ooit sal oorleef nie — nie in hierdie tyd wat al hoe minder mense ʼn behoefte het om deel te wees van ʼn kerk nie ...
Al wat ek gehad het, en steeds het, is ʼn onwrikbare geloof in God en dat God se liefde plek het vir almal — selfs vir my. Daar was en is ʼn deurleefde ervaring dat almal, ALMAL, ʼn behoefte het om te behoort ... en al sou mense hul rug op die kerk draai, draai hulle nie ʼn rug op God nie. Dit sou by my ʼn noodroep word om vir hulle, soos ek, wat teen die grensdrade van georganiseerde godsdiens vasgewaai is, ʼn tuiste te skep waar ALMAL welkom is.
Vandag is hierdie fontein ʼn bron van geloof, hoop, en liefde vir baie selfs ver buite ons kring. As NGO doen ons ʼn reuse werk in ons gemeenskap — insluitende ons aktiewe betrokkenheid by Attie van Wyk-plaasskool, by MES se werk onder haweloses, asook Huis Jabes wat ʼn ‘safe-house’ is vir vroue wat slagoffers is van huishoudelike geweld.
Niks hiervan sou moontlik gewees het as dit nie vir ʼn sterk Leierspan is nie. Aanvanklik onder leiding van Riaan Neethling en tans onder die voorsitterskap van Desmond Smith, het ons manne en vroue op ons Uitvoerende Komitee wat saam beplan, lei, organiseer, en kontrole toepas. Julle is die mense wat hierdie skip stuur, seile span, en weet hoe om te anker waar dit moet.
Maar dan is daar ons lede — hulle wat elke Sondag van die Strand en Stellenbosch, van Blouberg en Vishoek ry ... en elkeen wat betrokke is by ons projekte, funksies, werkswinkels, boekgroepe, en ondersteuningsgroepe. Elkeen wat weekliks hierdie e-posse ontvang, en positief reageer op die inhoud en betekenis vir dit waarvoor Neo-Spektrum staan. Almal wat my nooi na hul huise om iets saam te eet en ons ons verhale met mekaar te kan deel. Elkeen wat ʼn afspraak maak om met my jou hart se verlange en verdriet te kom deel en dan vertrek en my eie seer kom heel maak het.
Laastens, maar nie die minste nie — my opregte dank teenoor my ouers wat ten spyte van ʼn baie moeilike paar jaar en ʼn besonderse moeilike 2020 steeds volgehoue my oorrompel met hulle liefde en toewyding, hulle volgehoue gebede en onbaatsugtige omgee. My dank teenoor my seun wat my geleer het om met my hart buite my lyf te leef en dat jou spontane vriendelikheid en sagte hart teenoor almal vir my ʼn voorbeeld is.
Vir ALMAL van julle sê ek vandag dankie.
Hierdie jaar se verjaarsdag dra ek op aan elkeen van julle!
Met liefde Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
Soos altyd
“Gratitude makes sense of our past,
brings peace for today,
and creates a vision for tomorrow.”
― Melody Beattie ―
Ons begin weer Sondag 12 Julie @ 10vm met ons Sirkel-Dienste.
Kontak Ronel (083.631.14.68) vir meer inligting en om te bespreek.