Woordfees, FirstThursdays, Argus ... net in dié week — en dan is daar ons eie Neo-Spektrum besoek aan die Planetarium op Woensdag 20 Maart @ 18:00 (6pm) — so much to do, so little time!
Dis net die goed op dié week se spyskaart saam met vele ander sosiale verpligtinge: ʼn ete hier en ʼn vinnige glasie wyn daar om nie te praat van ons kinders se program wat ook ʼn prioriteit is nie; dan is daar manlief/vroulief se móét-doene wat aandag vra; ʼn dokter/tandarts-afspraak; onthou om die kar vol te maak voor Woensdag en die motorlisensie verval die einde van die maand; drie vergaderings met lang agendas; onthou om by die apteek en Woolies uit te kom. O ja — en moenie vergeet om tussenin slaap in te kry nie.
Klink dit soos ʼn week in jou lewe?
“God? Spiritualiteit, sieltyd, harttyd, stiltetyd? Geestelike sinvolheid, behoort, betrokkenheid, betekenisvolle aksies-en-reaksies? Wat op aarde praat jy van, Terblanche!? Ons het nie tyd om ʼn ‘draai’ te loop nie wat nog te sê om aan dié goed te sit en dink!”
Waarom voel mense dit is altyd die een of die ander? Waarom altyd ʼn spanning skep, ʼn dualisme gom, ʼn paradoks vleg? Waarom is daar ʼn God-kompartement wat geheel en al losstaan van die res van ons lewe en waarom verdien dit ons tyd, plek, energie, en toewyding net wanneer dit nodig is of nêrens anders het om te gaan nie? Waarom die dramatiese skuif in ons prioriteite as ons skielik siek word en/of waarom word siel-denke en God-soeke die belangrikste komponent van ons lewe as iemand naby ons iets oorkom? Wat sê dit van ons as mens in ons verhouding met dit wat ons ervaar as God?
Miskien (en dit is maar my persoonlike gevoel) is dit omdat ons nie meer weet WAT ʼn deurleefde ervaring met God in al die fasette van menswees is nie en ook nie weet HOE om oor God te praat sonder om versigtig te moet wees en nie aanstoot te gee nie. Dikwels sal ek hoor iemand sê, “Ek is nie godsdienstig nie, maar hoop dat om ʼn goeie mens te wees, is goed genoeg.” Waarop ek altyd wonder, “goed genoeg vir wat ...?” — ‘goed genoeg’ om nie in die ewige vuur van ʼn denkbeeldige hel te brand nie, of goed genoeg om die engelekoor van ʼn fantasie hemel te geniet? Of is dit ‘goed genoeg’ vir ʼn God wat in die ‘reward and punishment’-besigheid is sodat ons en hulle vir wie ons lief is, gespaar sal wees van fisiese en emosionele pyn?
Groot woorde soos ‘sekularisme’ word gebruik om oor die afname in kerkbywoning te praat of die blaam te lê by demografie en bevolkingsgroei terwyl die eerlikheid ontbreek om te vra: waarom praat die kerk nie naastenby soveel oor ‘vergiffenis’ as wat Jesus gedoen het nie ... of is dit die dichotomie van religie om jou sleg oor jouself te laat voel en dan dieselfde religie nodig het om jou weer goed oor jouself te laat voel? Meer as ooit het ons as kerk nodig om meer oor die woord GRACE te praat as oor alles wat God wil hê, verwag, eis, en beveel. Ek gebruik doelbewus die Engelse woord ‘GRACE’ want die Afrikaanse woord 'genade' trek nader na MERCY as na GRACE ... wat impliseer ons verdien God se straf en behoort in ʼn hel te brand maar gelukkig (Goddank) is daar begenadiging soos vir ʼn gevange. Die woord GRACE (‘garies’ in Grieks en ‘gein’ in Hebreeus) beteken: barmhartigheid, erbarming (compassion), guns, seën, ontferming, goedertierenheid, of soos Merriam-Webster dit vertaal — unmerited Divine assistance given for our regeneration and fulfilment!
Wat ons bring by ons tema van die maand — WINDE VAN VERANDERING -- wat gaan oor ʼn Progressiewe Christelike Herlewing. Laas Sondag is afgeskop met ‘AN OPEN MIND’ en eerskomende Sondag gaan stilstaan by ‘AN OPEN HEART’ en om dit te doen gaan ons kyk na die 12 STAPPE van die AA (Alcoholics Anonymous) PROGRAM.
Vervang die woord ‘alkohol’ met enige van die goed waaraan ons verslaaf is — geld, mag, seks, sukses, geweld, of status. Ons almal ly aan een of ander vorm van ongesonde afhanklikheid waarvan die kokaïne selfs godsdienstigheid kan wees soos vir Nikodemus waarvan Johannes 3 vertel, maar vir feitlik almal van ons is die grootste dwelm van ons verknogtheid en verslawing niks anders as die EGO nie. Ons wil reg wees, ons wil in beheer wees, ons wil ons sin kry, ons wil god wees van ons piepklein koninkryk — ons is slawe van die EGO.
Kom ons stap die 12 tree ...
Fr Richard Rohr verwys hierna as hy sê, “The Twelve-Step program makes spirituality more palatable for many who have not had good experiences with religion. It avoids all the metaphysical, super religious language and just describes the journey itself. It could be called a rather clear and simple phenomenology of the process of transformation. If you’ve done the first step, if grace and God have been able to lead you to a place where you admit you’re powerless, then your spiritual journey has begun.”
Dit is my opregte gebed dat ons elkeen tyd en plek sal vind om vandag en môre en die dag daarna deur hierdie 12 stappe te werk met dieselfde dissipline en toewyding as ʼn nuweling by ʼn AA-Sirkel wat die besluit geneem het, die keuse gemaak het om die EGO oor te gee vir ʼn radikaal ander, nuwe lewe deur die liefdevolle ontferming van God.
Tot Sondag, wens ek vir elkeen ʼn geseënde week.
Soos altyd
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
“And now here is my secret,
a very simple secret:
It is only with the heart that one can see rightly;
what is essential is invisible to the eye.”
― Antoine de Saint-Exupéry, 'The Little Prince' ―
STAD: 11 Maart 2019 @ 19h30
KOLPING: 7 Maart 2019 @ 19h30
Ons lees hierdie jaar Rob Bell se boek:
"What We Talk About When We Talk About God"
[bring steeds jou ACIM boek saam]
Laai Sondag se liturgie hier af: 10 Maart 2019