Waar ek grootgeword het, het ons ʼn telefoonlyn gedeel met ʼn paar mense. Elkeen het ʼn bepaalde luitoon gehad waarvoor jy moes uitluister ... byvoorbeeld, een korte en twee langes was vir die bure en drie kortes en twee langes was vir ons, behalwe natuurlik vir tante Kobie want sy het al die luie beskou as ʼn persoonlike uitnodiging om te hoor wat ander mense vir mekaar sê. Meer as eenmaal sou ʼn oproep dan ook begin met ʼn groet en kort daarna as jy hoor hoe iemand agter ʼn sakdoek hoes, “... en goeie middag tante Kobie ...!”
In 1973 sou Motorola vir ʼn jong elektroniese ingenieur, genaamd Marty, vra om die moontlikheid te ondersoek om ʼn foon te ontwerp wat mobiel is. Saam met ʼn span ingenieurs het Marty in plaas van om in te spring met ʼn klomp idees, stil gaan staan en ʼn belangrike vraag vir homself gevra, “Waarom is dit so dat as ons met iemand wil praat, moet ons ʼn ‘PLEK’ bel?” — hierdie belangrike vraag sou hom lei om die eerste selfoon te ontwerp. Die DynaTAC 8000X is gebore en het bekend gestaan as ‘DIE BAKSTEEN’ met ʼn battery leeftyd van 20 minute en het $4000 gekos máár dit sou ʼn revolusie tot gevolg hê in ʼn totale gedagte verandering dat as ons met iemand wil praat dan bel ons hom/haar ongeag waar hulle mag wees want die plek is nie meer belangrik nie behalwe as dit ʼn besigheid is met ʼn adres.
Dit is ʼn verstommende waarheid dat in die meeste gevalle van iets wat ontdek of ontwerp is, is dit voorafgegaan deur die regte vrae te vra. Hoeveel suksesvolle besighede sal hul sukses terug herlei na die feit dat êrens, in ʼn bepaalde oomblik, het iemand die regte vraag gevra. Soos Einstein dit op ʼn plek mooi verwoord, “If I had an hour to solve a problem and my life depended on it, I would use the first 55 minutes determining the proper question to ask, for once I know the proper question, I could solve the problem in less than five minutes.”
Op ʼn intellektuele vlak (IQ) beteken dit twee goed — PAUSE and THINK!
Albei hierdie werkwoorde het verdamp uit die moderne mens se woordeskat omrede ons nie meer weet hoe om een van die twee te doen nie. Ons gemak het roltrappe en hysbakke en self in daardie paar oomblikke van stilstaan, is ons besig met iets anders. Holderstebolder ... plekke om te gaan, dinge om te doen. Dis eers as ʼn mens jou gedagtes stilmaak dat daar perspektief en konteks kom en ʼn dieper betekenis homself openbaar. Leer om tyd te maak om alleen met jou gedagtes te wees – ai, hoeveel keer het ek al gesoebat vir meer ‘stiltetyd’ in ons geroesemoes-gehakketak-gejaagde lewe. Net ʼn 5 of 10 minute per dag vir ʼn tyd van oordenking, bepeinsing, meditasie, gebed of wat ook al vir jou werk om te herkonnekteer met jou siel (lees: God). Soos al vele kere gesê, ‘five minutes a day will change your day ... thirty minutes a day will change your life!’ – en jy kan my maar letterlik opvat.
Die woord ‘oordenking’ impliseer ‘dink’ en byname om vir jouself te dink. Ons sien onsself as Homo Sapiens wat letterlik in die Latyn vertaal met WISE MAN wat beteken dat die mens vir homself kan/moet dink. Van Sapiens (selfdenkend/wys) het nie veel oorgebly nie geen wonder dat sekere kerke vashaak by Homo nie en dan die Bybel wil gebruik om te sê wat agter dit moet staan. Maak ʼn POUSE in jou lewe en doen dit daagliks om jou intensies en inisiatiewe te laat marineer, perkoleer en prut. Let op jou gedagtes. Absorbeer dit. Luister na jouself en bly weg van emosies (reaksies).
Op ʼn emosionele vlak (EQ) beteken dit ook twee goed — EMPOWER and EMPATHY!
Emosies sal jou vertel waar jy was (goed of sleg) en jou wil voorpraat waar jy veronderstel is om te wees (reg of weg) maar emosies sukkel om in die ‘nou’ te bly. Emosies hakkel as dit kom by die taal van die hart. Ons gaan dieper en fyner moet luister na die antwoorde wat ʼn horde emosies slinger na die siel. Vrae oor betekenis en inhoud; vrae oor waarde en doel; vrae oor die seer en vrese van die lewe; vrae oor vertwyfeling en verligting. Die emansipasie vind plaas waar ons verantwoordelikheid aanvaar vir ons emosies en dit sien vir wat dit is naamlik, dat elke emosies is net ʼn reaksie van jou brein op ʼn sekere ervaring. Dis altyd tweedehands, nooit oorspronklik, meestal dominerend en voorskriftelik, en te dikwels die spreekbuis van die ego. Die sleutel van emosionele empowerment lê in die verstaan, ervaring, en toepassing van die woord empatie ... doen jouself ʼn guns en kyk na hierdie 2.5 minute video van Brené Brown om die verskil te ken tussen empatie en simpatie.
https://www.youtube.com/watch?v=1Evwgu369Jw
Op ʼn spirituele vlak (SQ) beteken dit ook twee dinge — LISTENING and LOVE!
Voor ons enige antwoorde gaan kry op ons vrae, het ons drie dinge nodig ... (i) luister, (ii) luister, en (iii) luister. Maak nie saak wat die slim boeke jou wil leer nie, maak regtig nie saak hoeveel lewenswysheid jou gurus en teachers het nie — as ons nie luister nie beteken dit alles niks. Jy kan in enige konflik situasie skree, gil, vloek, verwyt, pleit, of versoek maar as iemand jou nie hoor nie is al die adrenaline net ego-braaksel wat die liggame aftakel en ons in ʼn permanente staat van weerloosheid laat. Die mystics in al die godsdienstige tradisies het dit al eeue gelede uitgevind dat daar ʼn direkte verband is tussen sekere siektes en die intellektuele, emosionele, en spirituele kreet om gehoor te word.
En liefde ...? ... oh, well, I think we all know the answer to this! Less me, more we. Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê. Vergewe mekaar, en ʼn duisend ander herinneringe uit die boeke, films, gedigte, liedere, skilderye waarmee ons onsself omring. Boodskappe van mense wat ʼn invloed op ons lewe het en ons geheue verfris om te onthou dat wanneer al die vrae verdamp en elke antwoord beantwoord is, is en bly daar steeds net één energie wat van alles sin maak — naamlik, die Liefde.
ACIM: Kolping: 26 November @ 19h00. Stad: 30 November 19h30 — ONS JAARLIKSE AFSLUITING en ter afsluiting lees Chapter 6: The Lessons of Love — II. The Alternative to Projection — P96 Hardeband Boek
Gedagte vir die Week:
“Rarely can a response make something better. What makes something better is connection.” ― Brené Brown