7 Augustus 2016

Liturgie: 7_augustus_2016

Stemdag in Suid Afrika. Miljoene mense sal vandag hul demokratiese reg uitoefen deur in ʼn tou te gaan staan en ʼn kruisie te maak agter ʼn naam wat hul voel sal ʼn verskil maak in ons dag-tot-dag lewe. ʼn Voorreg waarvoor bloed gestort is om vir alle mense in dié land hierdie basiese mensereg te gee. Hoe vanselfsprekend vir ons wat met stemreg grootgeword het, hoe hartseer vir hulle wat tuisbly omrede hul voel dit gaan geen verskil maak nie.

Eerskomende Saterdag het ons weer ons Spiritualiteit Konferensie met drie uitmuntende sprekers [hoop jy het al bespreek, indien nie, doen sommer nou by 071.579.45.39] en die doel van hierdie jaarlikse afspraak is om ʼn geleentheid te skep om stemme van buite ons kring ʼn geleentheid te gee om ons te inspireer wat ʼn verskil sal maak in die wêreld waarin elkeen van ons leef. Ons Konferensie is ʼn uitbouing van ons Wysheidsirkels waarin ons die ruimte skep om te ontdek, te groei, te transformeer, en dan daarop te reageer met ʼn nuwe manier van dink, ʼn ander manier van doen.

Elke maand begin met ʼn nuwe tema wat ons die volgende paar weke gaan bespreek. Van alles wat gelees word, word daar notas gemaak — of dit die boeke van die oomblik op my Kindle App, of Facebook en Instagram is — alles vorm deel uit van ʼn gesprek wat lei tot ons weeklikse epos wat van hier vloei na ons gesprekke Sondae. So lees en onderstreep ek die volgende paragraaf --
“The heavenly does not only surround us during our innocent childhood, but at any moment of our lives; we just don't know it yet or any more. Beyond the person we think we are, is a second person, whom we do not see: our real or 'higher' Self already existing before thoughts and desires took hold of us. Beyond our body of flesh and blood lives a radiant and sublime consciousness. Our true life flows in the depth of our heart and is not part of the superficial mask of the personality which we show to the world. Student on the Path, you are heir to a treasure hidden deep down in the recesses of your own nature: ‘The Kingdom of Heaven is within you.’” — From the Ancient Mystical Order called: Rosae Crucis (AMORC)

Wat sê hierdie paragraaf vir jou? Hoe verstaan jy die woord ‘heavenly’ en hoe sou jy ‘sublime consciousness’ vertaal? Waar lê jou spore as ‘Student of the Path’ en glo jy dat ‘The Kingdom of Heaven is within you’ ...? Wat beteken dit vir jou?
Op die oomblik lees ek die tweede boek van C. Joybell C. getiteld: ‘The Conversation of Venusta’ wat ʼn opvolg is op haar eerste boek, ‘The Conversation of Merachefet’ wat geskryf is in die vorm van ʼn dialoog wat sy met haarself het en daar is soveel lewens- en spirituele waarhede dat ʼn mens nie kan byhou met onderstreep en notas maak nie. Dit het my die idee gegee om Augustus se tema te maak — CONVERSATIONS WITH MYSELF — en eerskomende Sondag gaan ons begin met: ‘N TWEEGESPREK TUSSEN SIEL EN GEDAGTES. Ek dink nie daar is een van ons wat nie elke dag, elke oomblik in so dialoog betrokke is nie. Daar is gedurig ʼn interne gesprek aan die gang tussen wat ons kop sê, en dit wat ons instinktief aanvoel vanuit die stem van ons intuïsie (siel). Hierdie 'Gesprekke' is iets wat ek sien as 'n dialoog tussen siel en verstand; tussen my Hoër Self en my Alledaagse Self; tussen die Inner en Uiterlike; tussen die Spirituele en Materiële. Die wêreld van gedagtes is ons een vlerk, die wêreld van die spirituele is ons ander vlerk. Ons kan nie met net een vlerk vlieg nie. Ons het albei nodig om ons te dra bo die winde van verandering, in die wolke van onsekerheid, oor die pieke van verwondering, deur die reën van seëninge.

Van kleinsaf is ons grootgemaak met die idee dat die taal van siel is iets wat van buite af kom, dit behoort aan die Stem van God en ons sal net die Stem hoor as ons ‘reg’ lewe, die ‘goeie’ doen, ons nie besig hou met sonde nie. Sondae is ons kerk toe om daardie Stem op sy allerbeste te hoor as die dominee op die kansel staan met ʼn doek daarvoor waarop geskryf staan, “So sê die Here” — in eerbied het ons gesit en luister terwyl ek die stene teen die mure en dan die blokkies ruite in die loodglasvensters tel. Daarna is die volk huis toe waar ma die skaapboud sny terwyl pa die Sondagkoerant lees. Aan tafel is daar bespiegel oor die Dominee se preek en al wat ek kon onthou, was dat hy gesê het die Here wil graag hê dat ons almal vir die Nasionale Party sal stem, en die dominee weet wat God wil.
Later op Universiteit sou die Stem vervang word met ʼn duisend stemme in ʼn duisend woorde deur professore wat boeke voorskryf van ander professore. Ek het gesoek na dié Stem in al die lesings en vragte fotostate wat moes help deur ʼn eksamen. Ek het gesoek na dié Stem in gesprekke met dosente en klasmaats wat seker was dat wat hul glo is 100% die waarheid en daar was 100% geen twyfel dat die Stem van God word net gehoor as jy 100% toegewyd is (lees: ‘geroepe voel’). Daar was obviously iets fout met my want ek het geglo omdat ek twyfel, ek het gesoek omdat ek meer verdwaal gevoel het as gevind. As medestudente in groepies Bybelstudie gedoen het of êrens in ʼn gemeente aangemeld het vir evangelisasie werk, was ek op straat met vriende in kroeë of met ʼn meisiemens op ʼn dansvloer want daar het ek onthou wie ek is en wie ek is, is die ou wat wou vlieg. [Geen wonder dat ek dit later letterlik sou gaan doen nie!] Maar toe word ek leraar in ʼn gemeente en is ek die ou wat op die kansel met die lappie en daar besef ek toe dié waarheid: die Stem van God kom van die binnekant, dis ʼn stem wat jy hoor as jy stil raak, dis ʼn stem wat jy hoor as jy leer om te luister, dis ʼn stem wat die beste en mooiste praat wanneer jy op jou knieë gaan, en dis ʼn stem wat niks te doen het met teologie of dogma of kerkordes nie maar alles te doen het met jou hart en jou lyf en jou gedagtes.
Die Bybel was, en is, my basis dokument. ʼn Vertrekpunt as jy wil. Daaruit sou ʼn duisend ander boeke vir my die Stem van God word waaronder die boeke wat ek op die oomblik lees. Die Bybel is nie langer letterlik die ‘Woord van God’ nie maar ʼn versameling van boeke waarin ek die Stem van God hoor. Dit stimuleer, motiveer, inspireer elke sintuig om oop te wees vir daardie Stem wat gedurig in ʼn gesprek is tussen siel en gedagtes. God het nie verander nie, ons het. Die God van Abraham, Isak, en Jakob is steeds dieselfde God wat ons vandag aanbid maar ons is nie Abraham en familie nie. Ons leef in ʼn gans ander wêreld. Die kennis, wysheid, en vaardigheid van ʼn 21ste eeu kan nie eers vergelyk word met ʼn wêreld 200 jaar terug nie wat nog te sê 2000 jaar voor Christus.

As ek kon time-travel sou ek teruggaan na die moedswillige eerstejaar teologie student en vir hom dít sê — leer om ʼn gesprek te hê met jou siel ... hou op kwaad wees omdat jy dom is; stop die gekerm en doen iets daaromtrent; swaarkry is soms goed want dit hou jou nederig; wees dankbaar en hou dagboek sodat jy sin kan maak uit jou gedagtes; hou op worry oor wat ander mense van jou dink; integriteit is belangriker lojaliteit want baie is lojaal aan ʼn saak of iemand ten koste van hul siele; leer elke dag iets nuut en doen gereeld iets vir die eerste keer in jou lewe; rus voor jy moeg raak; gee sonder om iets terug te verwag; bly weg van die blame-game en in Godsnaam hou op om in truspieëltjie te leef; lag kop agteroor vir jouself en moenie so damn serious wees oor alles nie!

Dan, en slegs dan, sal die gesprek tussen SIEL en GEDAGTES in harmonie met mekaar dans. In die tussentyd hou ek vas aan my geloof, deel ek in die hoop wat daar is in die God wat ons nét ken en kan ervaar ons liefhê. The ‘heavenly’ voice not only from our innocent childhood, but at any moment of our lives. Beyond our body of flesh but as a radiant and sublime consciousness that reminds us that we are heir to a treasure hidden deep down in the recesses of our own nature: The Kingdom of Heaven is within you!

Kom reis saam met ons die volgende maand in GESPREKKE MET ONSSELF as ons gesels oor die Stem aan die Binnekant en al die maniere waarop ons onsself kan instem (mooi woord!) om op noot saam te sing.

🌺 ACIM — 4 Augustus: Kolping 19h30 en 8 Augustus: Stad 19h30

👣 6 Augustus — 9am tot 1pm — Ons Spiritualiteit Konferensie by die Sanlam Ouditorium met uitmuntende sprekers. Maak ʼn aantekening daarvan en nooi vriende en familie saam. Bespreek by lourita@mweb.co.za 💐

Besoek ons Facebook ​​

Gedagte vir die Week:
“Conversation. What is it? A Mystery! It's the art of never seeming bored, of touching everything with interest, of pleasing with trifles, of being fascinating with nothing at all.” ― Guy de Maupassant

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights