Liturgie: 4_desember_2016
Die laaste maand van 2016 — hoe sal ons dié jaar opsom? Of dit halfleeg of halfvol is, het dit soos elke ander jaar gependel tussen ontmoet en groet, tussen hallo en koebaai, tussen vreugde en spanning ... maak nie saak wat die jaar vir jou gegee en beteken het nie, een ding is verseker — lesse is geleer, keuses is gemaak, besluite is geneem, verantwoordelikheid is gedra. Ek dink nie mens moet dit weeg in net ʼn ‘goed’ of ‘sleg’ jaar nie want beide het iets om saam te vat. Maak nie saak wat die jaar gebring het nie, daar is iets goed in elke situasie en nieteenstaande die omstandighede was daar ʼn geleentheid om te groei en ʼn tree of twee te gee in ʼn beter verstaan van wie ons is, waar ons vandaan kom, waarheen ons op pad is en in hoe ʼn mate ons die wêreld ʼn klein bietjie ‘beter’ agterlaat as wat ons hom ontvang het in die begin van die jaar.
Dit is nou maar eenmaal so dat ons net vreugde ervaar vanuit ons dankbaarheid (only through our gratitude do we experience joy). ‘Dankbaarheid’ (soos met liefde en vrede) is altyd ʼn refleksie van ʼn diep, outentieke spiritualiteit. Maak nie saak hoe ons probeer om woord-gimnastiek daar rondom te doen nie; maak nog minder saak of ons vir daardie spiritualiteit ʼn vorm of definisie wil gee nie want miskien is dit nie veronderstel om vorm en definisie te hê nie. Solank daar ʼn bewussyn is van die Lewe wat in en deur ons asem, ʼn Liefde wat in en deur ons klop, ʼn Lig wat in en deur ons reflekteer, en solank ons weet dat dié Lewe, Liefde, Lig is nie van ons nie. Vir ons in die Christelike tradisie, is Jesus die verpersoonliking van daardie bewussyn (consciousness, awareness, presence). Dit is nie net ʼn intellektuele verstaan of emosionele gebeurtenis nie maar baie beslis ʼn tasbare, praktiese, deurleefde ervaring waar ons vrede kies bo konflik, liefde kies bo vrees, elke vorm van verwydering vervang met versoening, en ons ganse Godsbeeld van ʼn God wat straf en oordeel, verwerp en kwaad word vervang met ʼn liefdevolle ervaring van die Goddelike wat heel maak en harmonie bewerkstellig en altyd die mens herinner aan die beste en edelste potensiaal. Dié God wat altyd die een is wat ons uit die hel ruk terug na die hemel. Hemel wat die geestestoestand is waar ons dit weet, glo, ervaar dat ons volkome één is met God en waar daar ʼn balans is tussen kop, hart, lyf en siel.
Soos die jaar uitspoel, is dit ook tyd om voorraadopname te doen ... ʼn oomblik se introspeksie oor waar ís ons ten opsigte van ons voornemens, drome, wense, verlange, beplanning, en hoop waarmee ons die jaar begin het? Ons het die jaar begin met ʼn gebed en belydenis van ʼn ‘NUWE BEGIN’ en hoe het dit ontvou deur die jaar? Wat was die hoogtepunte; wat het ons geleer; wat neem ons saam vir 2017 en die mees belangrikste, hoe het dit ons verander om anders na die wêreld om ons te kyk, anders te reageer op wat gebeur? Kom ons sluit die jaar af en gesels ons laaste maand oor — WAAR DIE HART VAN VOL IS ...!
In die Klein Prinsie is een van my gunsteling aanhalings, “And now here is my secret, a very simple secret: It is only with the heart that one can see rightly; what is essential is invisible to the eye.” Kersfees is inderdaad ʼn maand waarin ʼn mens se lyf roep na rus na ʼn vermoeiende jaar maar terselfdertyd is dit ook die seisoen van hart oopmaak (gee en omgee). Vir die meeste mense is dit tyd vir hul jaarlikse verlof en die seisoen om saam met vriende en familie te spandeer waarvoor daar nie veel tyd was deur die jaar nie. Tog hartseer hoe die betekenis van Kersfees (birth & rebirth) ongesiens by die meeste van ons verbygaan. Ons vier Kersfees met die verhaal wat ons goed ken — Bethlehem, herders, ʼn stal, engele wat sing “Vrede op Aarde” terwyl ons geskenke toedraai. Maar wat beteken dit? Wat maak dié jaar anders? Laat dit ons hart warm klop vir ʼn maand en dan bêre ons dit saam met die Kersfeesboom?
Kom ons verken Sondag weer die betekenis van die twee Hebreeuse woorde wat met ‘hart’ vertaal word. Die een is ‘leib’ [inner man; mind; will; understanding; heart] en die ander een is ‘tiferet’ [divine quality of devotion; integrated love; beauty, splendour, glory and compassion] waarvan beide woorde die naelstring is wat die aardse en Goddelike bymekaar uitbring. Die woord ‘leib’ is net so geleen uit die Egiptiese taal waarvan die hiëroglief ʼn kruik is. ‘Tiferet’ is ʼn term uit die Kabbalah wat korrespondeer met die hart as die sentrum van die mens se bestaan, die kruik van alle gevoelens en emosies, die punt waardeur al die ander energie lyne vloei. Wat sou Esegiël bedoel as hy in hoofstuk 11:19-20 skryf, “Ek sal hulle één hart gee en ʼn heelgemaakte gees in hulle gee. En ek sal die hart van klip uit hul liggaam verwyder en hulle ʼn hart van vlees gee. Dan sal hulle wandel in my voorskrifte en my bepalings nakom en daarvolgens optree. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees.” [direk vertaal]
ʼn Hart van klip is ongeduldig met geen deursettingsvermoë. ʼn Hart van klip is vergeetagtig met geen uitsig (wysheid) of insig (waarheid) nie, maar die hart wat God gee, is ʼn onverdeelde hart. As die hart nie in harmonie is nie, is die hele lyf van balans af. As die hart seer is, is die hele lyf seer. As die bloed nie deur die hart vloei nie, vloei dit nêrens heen nie. Sonder ʼn hart is ons net ʼn sak bene met ʼn vel om.
Waarna verwys die skrywer van Spreuke 3:5-6 as hy sê, “Vertrou in die Here met jou hele hart, moenie staatmaak op jou eie kennis/insig nie. In al jou weë, ken Hom en Hy sal jou paaie gelykmaak.” En later in 16:9 — “The heart/mind [leib] of man plans his way, but the Lord directs his steps.” Dit is daarom nie vreemd dat die Hebreeus én Griekse woord vir ‘bekering’ beteken ‘change of mind/heart’ — want waarvan die hart vol is, loop die mond van oor ... waar jou hart is, daar sal jou skat ook wees. Waarvan die hart vol is, word sigbaar in ons handel en wandel ... waarvan die hart vol is, beïnvloed ons aksies en reaksies.
Miskien is dit tyd vir ʼn Spirituele EKG aan die einde van die jaar — ʼn seisoen om onsself te ondersoek na nog ʼn lewensjaar sodat die-Selfde God met ʼn ander my-Self kan wandel. Die laaste woord behoort aan Nadia Bolz-Weber: “It is next to impossible in isolation to manufacture the beautiful, radical grace that flows from the heart of God to God’s broken and blessed humanity. We cannot create for ourselves God’s word of grace. We must tell it to each other. It’s a terribly inconvenient and oftentimes uncomfortable way for things to happen. Were we able to receive the word of God through pious, private devotion — through quiet personal time with God — the Christian life would be far less messy.”
Mag Kersfees 2016, in ʼn duisend klein gebare, die vorm van my hart verander en mag ons antwoord daarop wees, “My hart is beskikbaar!” Kom vier Sondag saam met ons die Heilige Nagmaal as ons dankie sê vir ʼn nuwe seisoen en ʼn geseënde jaar wat verby is.
In die gees van ‘WAAR DIE HART VAN VOL IS ...!’ stuur ons môre ‘n epos uit oor ons Somer-Sak Projek vir MES met al die goed wat benodig word.
Hoop om almal Sondag by die Kapel te sien.
🌺 ACIM — Maandag 5 Desember Stad: 19h30 — Donderdag 1 Desember Kolping 19h30 — Manual for Teachers 4. What are the Characteristics of God’s Teachers? [p9 agter in die boek]
Besoek ons Facebook
Gedagte vir die Week:
“The heart is an arrow. It demands aim to land true.” ― Leigh Bardugo