Hierdie week se liturgie: 30_junie_2013
Ek het so bietjie tred verloor met al die datums en nie laas week gesien dat dit eerskomende Sondag die laaste Sondag van Junie is en derhalwe eet ons weer heerlik saam op 7 Julie na die diens.
Ons het hierdie maand gereis met die tema Selfwaarde en Selfrespek as Spirituele dissipline! Ons het begin met ʼn gesprek oor die bekende “Onse Vader ...” gebed en gehoor hoe dié gebed ons gedagtes en intensies fokus op ons selfwaarde; daarna het ons gesels oor verantwoordelikheid, integriteit en medemenslikheid; toe het ons stilgestaan by vrae wat ons almal van tyd tot tyd vra: hoe hanteer ʼn mens emosionele pyn (verwerping en vernedering; konflik en teleurstelling) en hoe ʼn mens jou selfwaarde en selfrespek in sulke troebel tye onthou.
Laas Sondag het ons oor die aangryplike verhaal van Rut gesels en eerskomende Sondag gaan ons gesels oor die boek Ester.
Almal ken die naam, Ester (beteken: ster), maar min mense het al die verhaal gelees. Hierdie ‘onbekende boek’ met sy betowerende verhaal is die enigste boek in die Bybel waar die woord ‘God’ nie eenkeer voorkom nie, trouens daar is nie ʼn enkele gebed, ritueel, wonder of meditasie nie. Daar is ook twee weergawes van die boek, die Hebreeuse en ʼn meer uitgebreide Griekse weergawe. Die enigste rede waarom die boek deel van die Hebreeuse Bybel is, is omdat dit die oorsprong van Joodsefees ‘Purin’ vertel.
Opgesom gaan die verhaal oor die magtig Persiese koning Achashverosh (Afr: Ahasveros) wie se ryk gestrek het van Etiopië tot by Indië. Een aand na ʼn gesellige kuier met oorvloed wyn en invloedryke vriende van die stad Susa, besluit hy om sy mooi vrou, Vashti, na die fees te nooi sodat almal haar skoonheid kan bewonder. Vashti weier om te kom wat hom in die verleentheid stel. Hoe kan ʼn koning se vrou “Nee” sê vir haar man? Die ontstelde koning maak toe ʼn wet dat alle vroue hul mans onderdanig moet wees – en dít is die wet van Mede en Perse (ons het ook so Afrikaanse uitdrukking wat beteken dit staan in klip gekap en is vas en verseker). In so patriargale samelewing sou elke man die koning wees van sy huis ...
Vashti word verban en die koning soek vir hom ʼn nuwe pronkstuk. Die keuse val op Hadasah (die Joodse naam vir Ester), die niggie van ʼn Joodse man met die naam Mordegai wat haar grootgemaak het nadat haar ouers gesterf het. Dit blyk dat haar Joodse identiteit onbekend was aan die koning. ʼn Rukkie daarna het die eunugs van die paleis saamgesweer om die koning te onttroon maar die plan word deur Mordegai ontdek wat die koning gaan waarsku. Die eunugs word gehang en Mordegai word bevorder tot ‘hoof van sekuriteit’ wat die koning moes waarsku teen gevaar. Intussen stel die koning ʼn ou met die naam Haman aan as hoof van sy administrasie. Haman, dronk van sy nuwe outoriteit en mag, beveel dat almal ook voor hom moes buig wat almal doen behalwe Mordegai. As Jood buig hy sy hoof voor geen mens nie wat vir Haman rasend van woede het. Hy laat ʼn galg bou waaraan hy Mordegai wil ophang en vaardig ʼn dekreet uit om alle Jode om die lewe te bring. Mordegai vra vir Ester om vir hom in te tree by die koning, wetende dat sy as Joodse meisie die gevaar staan om self om die lewe gebring te word.
Still smitten by her charms, besluit Achashverosh om haar versoek te hoor maar sy sê sy wil graag ʼn ete hou met vooraanstaande mense waarvan Haman deel moes wees en dan sal sy vir hom sê wat sy graag wil hê. Tydens die ete sê sy dat sy nóg ʼn ete wil hê maar hierdie keer moet dit nét Haman en die koning wees. Haman, gevlei deur sy ego dat hy genooi word na hierdie etes, is verder besig om te fantaseer oor sy mag en invloed. Maar die aand voor die ete is die koning rusteloos en terwyl hy wakker is, lees hy weer uit sy dagboek (The Book of Memorable Deeds) hoe Mordegai sy lewe gered het. Hy vra die volgende dag vir Haman wat hy dink hoe die koning ʼn man moet vereer wat sy lewe gered het? Haman neem net aan die koning praat van hom en in die fynste detail beskryf hy ʼn lang lys van al die eer en lof en beloning wat so man moet ontvang. Tot sy skok moet hy hoor die koning praat van Mordegai en word hy gevra om dit alles vir/aan/met Mordegai te doen wat natuurlik sy blinde woede laat ontplof. Asof dit nie genoeg is nie moet hy by die ete hoor dat haar versoek is dat sy wet om die Jode te vermoor tot niet verklaar word en dat Haman aan die galg wat hy vir Mordegai gebou het, opgehang moet word. Die koning staan haar versoek toe en die Jode word van volksuitwissing gered deur Ester en Haman word gehang.
Wat hartseer is, is die feit dat die Jode (nou ʼn vry volk) toe gegaan het en 500 mense vermoor het wat hul gesien het as deel van die komplot teen hulle, insluitende die tien seuns van Haman. Mens sal nouliks na dit verwys as die ‘Woord van God’ – maar ...
· Wat leer die verhaal ons oor verraad en gewaande veroordeling?
· Wat is die groter Waarheid rondom selfwaarde en selfrespek?
· Wat leer dié boek ons van ons plek in die Koninkryk van God?
Daar is veelmeer in dié storie as net ʼn verhaal van ʼn edele prinses. Die gaan oor die feit dat ons elkeen moet abdikeer van die troon van ons klein koninkryk wat ons om ons gebou het. Ons moet van MAG geëmansipeer word en nie van mans of vroue nie ... beide Rut en Ester was twee vroue uit ʼn nederige agtergrond wat die voortbestaan van ʼn volk sou verseker! Wanneer ons plek maak vir só ʼn nuwe verstaan aan wie die troon behoort, sal ons saam Psalm 139:44 bely --
“Ek dank U vir die wonder van myself. Wonderlik is U werke en my siel weet dit goed!”
Besoek ons FACEBOOK: http://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.
Gedagte vir die Week:
Do not let loyalty and faithfulness forsake you; bind them around your neck, write them on the tablet of your heart. (Proverbs 3:3)