Hierdie week se liturgie: 28_desember_2014
Net weer ʼn herinnering dat ons in Desember ons EMMER-projek het. Kersdag en eerskomende Sondag se ‘pakkies’ gaan na MES-aksie (Metro Evangeliese Sorg) in Bellville ( http://www.mes.org.za/mes-cape-town-0 ). Jy kan kos, toiletries, iets vir ʼn soettand, klere of enige iets gee wat hawelose mense kan gebruik. Kom ons gee met vrymoedigheid in die gees van die feesseisoen.
Môre is Kersdag en ons diens is om 9am – almal is welkom in ons Wysheidsirkel. Ons tema vir dié maand is GESKENKE VIR KERSFEES en ons sluit die jaar af en gaan gesels oor BEMOEDIGING (encouragement). Eerskomende Sondag gaan ons klein kersies uitdeel en dit in die middel van die Kapel in sirkels pak en daarmee ons wense, drome, intensies vir die nuwe jaar opdra aan God en belowe om mekaar daarmee te help.
Dit is so dat Kerstyd – en alles wat daarmee saamgaan – staan in die gees van liefde en vreugde, blydskap en feesviering wat vriendskappe en familie vir ons bring. Dit is ʼn tyd vir meer geduld met mekaar en uitbundig lag, ʼn tyd vir lekker eet en heildronke (sonder te veel ‘dronke’), ʼn tyd vir saamwees, geskenke en alles wat saamgaan met die laaste week van ʼn jaar. Dit is ook ʼn tyd van laat los (let go) aan alles wat die jaar gebeur het wat minder lekker was. ʼn Tyd vir bepeinsing en besinning oor die jaar wat verby is en wat die beste is wat ons saamneem vir ons reis in 2015. Saam met alles wat ons gee en ontvang in dié tyd van die jaar is daar een geskenk wat uitstaan en dit is BEMOEDIGING. In elke klingel van glase, elke gebed voor ʼn maaltyd, elke drukkie en soen, elke goeie wens vir die nuwe jaar, lê daar die geskenk van encouragement — ondersteuning, opbeuring, versterking, inspirasie, motivering, vertroosting en aanmoediging.
Die laaste ruk vra ek dikwels vir mense waarom hulle Kersfees vier en behalwe vir die Christelik-korrekte antwoord is daar by almal die gevoel van “we need something to lift our spirits” na die jaar wat verby is. Almal het van tyd tot tyd ʼn woord van bemoediging en ʼn gebaar van ondersteuning nodig en teen die einde van die jaar doen ons dit met ʼn “Geseënde Kersfees en ʼn Voorspoedige Nuwe Jaar!” Daar het so BAIE die laaste jaar gebeur wat ons nie in ons wildste drome aan die begin van dié jaar kon voorsien het nie. Vir party was dit ʼn jaar van voorspoed — nuwe werk; getroud; ʼn baba ryker; nuwe vriendskappe; geestelike verdieping; finansiële uitkoms en vele ander gebeure wat ons nie eers vermoed het toe ons laas jaar die tyd ons glase gelig het nie. Vir ander was dit ʼn jaar wat liefs vergeet wil word — jy moes iemand groet wat oorlede is; ʼn huwelik of verhouding het geskeur; daardie droom loopbaan het toe nie gematerialiseer nie; en finansieel weet jy nie hoe jy deur die jaar gekom het nie. Maak nie saak waar jy op die oomblik in jou lewe is nie, almal van ons wil van geweet wees en voel ons word raakgesien en waardeer. Maak nie saak waardeur ons is en wat vir ons voorlê nie, ons het mekaar nodig vir die volgende jaar se dans.
Kersdag vier ons ʼn ‘Kind’ se geboorte wat ons herinner het dat ook ons ‘kind van God’ is en dan verken ons Dorothy Law Nolte se Children Learn What They Live —
Niemand het nog ooit enige iets bereik op sy/haar eie nie. Dit is wel edel om te kan sê, “ek het dit alles alleen op my eie gedoen” maar dis gewoon nie waar nie. Almal van ons het iemand êrens gehad wat ons opgetel het. Niemand kom aan die beweeg, begin te vlieg, bereik goue hoogtes sonder dat iemand nie êrens ʼn helpende hand of ʼn woord van bemoediging en besieling vir ons gees as geskenk gegee het nie. Die motivering van ander is enersyds ons inspirasie om die lewe voluit te omarm met entoesiasme, moed, en liefde maar andersyds om te besef dat vandag sal nooit ooit weer in dié geskenkpakkie na ons toe kom om dit te eet, te proe, drink, ruik, en te voel. Die son sal nooit weer skyn presies soos vandag nie, die wolke sal nooit weer dieselfde wees nie, die melodie wat jy hoor en die kos wat jy eet, sal nie weer wees soos vandag nie. Daarin sing ons ons eie lied en doen dit na die beste van ons vermoë sodat ons ander kan nooi vir die dans.
Dis waar wat die Skrif sê, “die mens leef nie van brood alleen nie” (there goes Tim Noakes!) want soms het ons ook ʼn bietjie botter, ʼn lepel konfyt en ʼn stukkie kaas nodig. Ons het woorde van bemoediging nodig wat ons herinner aan die beste wat ons kan wees. Ons ‘natuur’ (geaardheid, karakter) is nie die probleem nie. Die probleem is dat ons vervreemd en verwyder geraak het van ons (ware) ‘natuur’ — from our Power Source — kom ons maak môre ʼn dag om te onthou WIE ons is, WAT ons vir mekaar kan bied, HOE ons dit gaan doen as ons vir mekaar sê, “Geseënde Kersfees!” en Sondag vat ons die jaar saam met ʼn woord van bemoediging en sirkel-kersies en dan sê ons vir mekaar, “Voorspoedige Nuwe Jaar!”
Gedagte vir die Week:
“If you always attach positive emotions to the things you want, and never attach negative emotions to the things you don't, then that which you desire most will invariably come your way.” ― Matt D. Miller