Wat ʼn wonderlike reis was dit sover die laaste maand in ons gesprekke oor ʼn BELYDENIS VAN GELOOF. Ons het reeds gesels oor — Belydenis is ʼn Verklaring; Belydenis is ʼn Getuienis; Belydenis is ʼn Oortuiging; en eerskomende Sondag sluit ons af en gaan gesels oor Belydenis is ʼn Bereidwilligheid.
Vir te lank was ons opgesluit in die denkpatroon dat ons geloof gebaseer is op vrees en nie op liefhê nie ... vir te lank was ons vasgevang in ʼn geloof van sleg, skaam, skuldig, straf in plaas van ʼn geloof in goedheid, self-waarde, vergiffenis, versoening ... vir te lank het ons ʼn groter geloof gehad dat iets fout sal gaan en ons gaan dit nie maak nie as wat ons ʼn geloof het in die beste van ons potensiaal, vermoë en moontlikhede ... vir ‘hopeloos’ (pun intended) te lank was geloof iets abstrak wat eers intellektueel verstaan moet word voor ons dit met die hart kan voel en ervaar!
Geloof is nie godsdiens nie maar ʼn diens aan God. Nie ʼn diens soos iemand wat jou motor diens of iets vir jou moet doen anders kry jy nie ʼn beloning nie, maar ʼn ‘diens’ soos om met verantwoordelik ‘beeld van God’ te wees ... ambassadeurs, gemaak van God. Met ander woorde — God se beeld in my lewe, dít is geloof! Nie die teorie van geloof nie maar geloof in praktyk. Ons gaan eerskomende Sondag na twee baie bekende verhale kyk:
· ... die kroniek van Abraham se ‘offer’ van sy seun en waarom Abraham bekend staan as die ‘vader van geloof’ in die Judaïsme, Islam en Christendom. Wat was dit in die geskiedenis van Abraham wat sy onwrikbare geloof in ʼn belydenis met net drie woorde sou verwoord — God sal voorsien! (Genesis 22:1-14)
· ... en dan na die bekende belydenis van Habakuk, “Al sou die vyeboom nie bot nie, en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ʼn ribbok, op hoë plekke laat hy my veilig loop.” (Habakuk 3:17-19)
Albei hierdie persone se belydenis staan in die refleksie (getuienis) van ʼn BEREIDWILLIGHEID ... to change your mind! Geloof is tog altyd die energie wat ons intensies, gedagtes, wil, ervaring toets aan die hand van ons handel & wandel, aksies & reaksies, oorsake & gevolge. Geloof het alles te doen met devotion, dedication, discipline ... en voor ons nie hiervan ʼn deurleefde ervaring het nie, bly ‘geloof’ slegs ʼn intellektuele geroesemoes op die trapmeul van semantiek en dogmatiek.
Habakuk was ʼn kind van sy tyd wat begin met die vraag: Is daar ʼn God en as daar is, gee God regtig om, waarom voel God so ver en waarom is bedrog, oorlog, onregverdigheid en skynheiligheid aan die orde van die dag? Dít is die vrae wat hy na God slinger. In al ons verhale oor ‘geloof’ en alles wat ons die laaste maand bespreek het, is daar ʼn paar beginsels oor BELYDENIS in die algemeen en GELOOF spesifiek wat belangrik is om te onthou — [1] geloof is nie ‘blinde geloof’ nie: dit is ʼn weet waarvan ons deel is; ʼn versekering en oortuiging dat ons sal uitkom waar ons moet wees; ʼn toewyding tot ʼn groter perspektief [2] geloof is veel meer as so ‘nou en dan’: dit is ʼn way of life belydenis; om wakker en nugter te wees in ons besluite [3] geloof is meer as net ‘nood leer bid’: ja, geloof maak alles moontlik en liefde maak dit maklik; dit vra soms opoffering en die bereidwilligheid to change our mind oor omstandighede en situasies; want geloof is God se beeld in ons lewe.
Ons vrae het nie altyd netjies antwoorde wat in mooi herkenbare pakkies kom nie. Sommige mense verkies om met hul vrae saam te leef, ander ignoreer hulle vrae want dit bring net onsekerheid en ongemaklikheid, sommiges word hard en sinies oor die belangrike lewensvrae, maar daar is altyd diegene wat op reis gaan met hul vrae opsoek na antwoorde — Habakuk was ʼn man wat na antwoorde gesoek het. Hierdie ‘soeke’ was nie filosofiese oefeninge of intellektuele klagtes nie maar ʼn opregte soeke na morele/etiese integriteit en dít is/moet altyd die oorweging wees van ons belydenis — ʼn herinnering en getuienis van ons verhouding net God, onsself, ons ewemens, die natuur, struktuur, en die kultuur waarin ons leef.
Jean Oosthuizen het met Prof Izak Spangenberg ʼn onderhoud gevoer oor “Die noodsaaklikheid van 'n totaal ‘ander’ teologie” wat gister op Litnet verskyn het. Prof Sakkie sê daarin, “Die hoofstroom kerke werk nog steeds met die Augustiniaanse teologiese model van sondeval-verlossing-eindoordeel. Hierdie model hou voor dat alle mense “in sonde ontvang en gebore word en onder God die Vader se toorn leef”. Voorts, dat mense sterf omdat dit God se straf op die oersonde van Adam en Eva is. Mense moet dus van die dood gered word en in die “oorspronklike staat” van ewige lewe herstel word.” Hy gaan dan verder deur voor te stel, “Die “ander” teologie is ’n teologie van omgee, empaties meeleef met ander; die koestering en versorging van mense, diere en plante. Dit verkondig nie ’n sondeval nie; vertel mense nie dat dood die gevolg van sonde is nie; reken nie dat die aarde eendag moet vergaan en met ’n nuwe vervang gaan word waar alles net rooskleurig sal wees nie. Dis ’n teologie wat radikaal anders is as die huidige een. Dis ’n teologie wat fokus op lewe en die onderlinge afhanklikheid van alles wat lewe. Die digter Lina Spies vang iets van die nuwe vas in haar gedig met die titel “Geloofsbelydenis van ’n afvallige”. ’n Gedeelte daarvan lees soos volg:
Ek glo dat omdat ek lewe // ek aan alle lewendes // sorg en deernis verskuldig is.
Ons kan die “ander” teologie dus tipeer as ’n teologie van eerbied, respek, meeleef en omgee. Dis ook ’n teologie wat nie uitsluitlik op mense fokus nie, maar op alles wat op aarde leef en beef.”
Jy kan gerus die volledige artikel lees http://huisbou.litnet.co.za/die-noodsaaklikheid-van-n-totaal-ander-teologie/ — ons kan Sondag ook hieroor gesels omdat dit betekenisvol is tot ons verstaan en verduideliking oor hoe ons ʼn moderne Belydenis formuleer.
Nou-ja-toe, tussen Nuusbrief, epos, en artikel is daar sommer lekker leesgoed vir die volgende paar dae. Warm-winter-groete.
ACIM: Hervat weer na die winter skoolvakansie.
Besoek ons Facebook https://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651?fref=ts
Gedagte vir die Week:
“Faith is like WiFi. It’s invisible but it has the power to connect you to what you need” ― Anonymous