Liturgie: 28_februarie_2016
Henry David Thoreau — was ʼn Amerikaanse skrywer, digter, filosoof wat geleef het tussen 1817 en 1862. Mense soos Tolstoy, Gandhi en Zerzan was diep beïnvloed deur Thoreau. Sowat 20 jaar gelede het ʼn vriend ʼn boek in my hand gestop en gesê, “Lees dit!” en dit was die dagboek van Thoreau getitel ‘I to Myself’ en daar sou die saadjie geplant word om self dagboek te begin hou. My dagboeke is voetspore van die wêreld agter my oë ... gedagtes wat voetpaadjies trap tussen herinneringe en geheue. As daar een of twee dinge is wat my joernale my geleer het, is dit die volgende — dinge verander wanneer ek verander; ek kan nie my gedagtes sien of hoor nie maar gedagtes laat my sien en hoor; die energie tussen gedagtes en pen het soms sy eie betekenis en met die herlees van inskrywings kom daar ʼn Godgegewe perspektief om dinge in konteks te sien en waar ons dinge in konteks sien, verstaan ons beter.
Latere jare sou ek ook sy ‘Life in the Woods’ lees waarin ek tot ʼn groter insig sou kom dat ek soms moes verdwaal om uit te kom waar ek moet uitkom. Een of ander stadium loop ʼn pad jou raak al moet ons op ons spore terugstap om te sien hoe ons daar gekom. Wat belangrik is, is om nie op te gee nie; nie moed te verloor nie; nie onder die waan te verkeer dat ‘verdwaal’ is wie ek is nie maar waar ek is ... dis net ʼn seisoen. So ontdek ek dié aanhaling van Thoreau in ʼn ou dagboek: “A single footstep will not make a path on the earth, so a single thought will not make a pathway in the mind. To make a deep physical path, we walk again and again. To make a deep mental path, we must think over and over the kind of thoughts we wish to dominate our lives.”
Daar is sigbare voetspore (ons doen en late) en dan is daar onsigbare voetspore (gedagtes en intensies). Die voetpaaie van die lewe is almal aan mekaar verbind (an interconnectedness) en dis eers as ons die mantra, LIVE LIFE ALIVE begin glo en toepas dat ons die betekenis en doel van ons lewe begin herken, erken, ken. Positiewe voetspore van die lewe is waar ons die les in elke ervaring en die kompensasie in elke teleurstelling sien en daaruit leer. Negatiewe voetspore van die lewe is waar ons die betekenis en inhoud van ons lewe verwaarloos en moed opgee dat enige iets positief kan kom van my lewe in die algemeen en my rol daarin spesifiek. Maar dis die woord mediocre waarteen ek my hele lewe lank protesteer. Die Franse praat van, souffler le chaud et le froid — wat beteken: jy blaas warm én koue lug. Dis die gesindheid wat glo dit help nie om te probeer nie want die lewe loop tog uit op die dood; die ingestelheid van wil hê maar niks wil doen nie; soveel meer te vat as wat ons gee en wat ons vat, vat ons vanselfsprekend.
In Thoreau se herinnering, “Most men lead lives of quiet desperation and go to the grave with the song still in them” skaam ek myself soms hoe tevrede ons is met middelmatigheid. Hoe vêr ons ons doel mis (die Griekse woord vir ‘sonde’ beteken ‘om jou doel te mis’) as dit kom by ONS voetspore op die voetpad van die lewe. Hoe ons warm-en-koue-lug-asem as dit kom by spirituele toewyding, dissipline, en verantwoordelikheid. Die flou-koue verskoning, “I don’t need a church to be spiritual” is wel waar, maar waarheen gaan jy om spiritueel gevoed en versterk te word? Die minagting teenoor die Christendom se geskiedenis asof dit net ʼn verhaal van veroordeling, vernedering, en verwerping is, wat só ver van die waarheid verwyderd is soos ʼn mens wat in die Sahara woestyn staan en ontken dat daar reënwoude in Brasilië is. Die kritiek teen Christene is soms geregverdig as ons daaraan dink dat ons ons wekkers stel om 6 uur op te staan om 8 uur by die werk te wees maar 10 uur Sondae is te vroeg; hoe klein my eie tekortkominge is maar hoe groot iemand anders sin is; hoe God genade moet hê met my kruppel pogings maar regverdig moet oordeel teenoor iemand wat my te nagekom het; hoe ons elke skinderstorie onthou en koerantberigte kan resiteer maar nie ʼn enkele teks se inspirasie uit die Bybel onthou nie; ʼn vreemdeling kan vra vir aanwysings en hom blindelings vertrou maar nie God vertrou vir die rigtingwysers en padtekens van die lewe nie; hoe maklik ons God blameer vir goed wat skeefloop maar vergeet om dankie te sê vir alles wat goed en mooi is; en maklik uitroep “Here, hoekom ek?!” as iets verkeerd loop maar as dinge goed gaan sê ons, “Ek is so fantasties!”
Weereens — dis nie waarna ons kyk wat belangrik is nie, dis wat ons sien. Dis betekenisvol om te weet waarheen ons op pad is maar dis nog meer belangrik om te weet hoe ons daar gaan kom. Dit is belangrik om jou woorde te tel maar nog meer belangrik om ons gedagtes in toom te hou veral, veral, as dit kom by die voetspore van die LEWE. Henry David Thoreau stel dit mooi — “You must live in the present, launch yourself on every wave, find your eternity in each moment. Fools stand on their island of opportunities and look toward another land. There is no other land; there is no other life but this.” Kom ons verken Sondag ʼn paar gedagtes oor die voetpaaie van dié Lewe wat in ons lewe ʼn Spirituele GPS is.
Die warm en koue lug wat ons gelyktydig in- en uitasem waarvan die brief van Jakobus praat as hy sê, “Ons struikel almal in baie opsigte. As iemand nooit struikel in wat hy sê nie, is hy volmaak, by magte om ook sy hele liggaam in toom te hou.” (Jakobus 3:2) en gaan dan verder in 3:9-12 “Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as beeld van God gemaak is. Uit dieselfde mond kom lof en vloek. So moet dit nie wees nie. ʼn Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en brak water opborrel nie. ʼn Vyeboom kan tog nie olywe dra of ʼn druiwestok vye nie”
Die Kaapse Bruinmense het ʼn sê-ding, “ʼn Bek is ʼn ding wat afdraand praat!” As ʼn ding eers gesê is, kan jy hom nie soos ʼn spaghetti strooitjie inslurp nie. Gister sit ek met iemand in ʼn beradingsessie en die naam kom op van iemand uit my verlede. Daar word vir my gevra wat ek van haar dink waarop ek antwoord, ek dink sy is baie intelligent, welberese en welbelese, ʼn goeie spreker en iemand met ʼn skerp oorredingsvermoë. Na ʼn oomblik se stilte kom die opmerking, “Hoe kan jy dit van iemand sê wat jou soveel kwaad aangedoen het?” waarop ek eerlik kon antwoord, “Want jy het my gevra wat ek van haar dink en nie wat sy van my dink nie.” Miskien het ek geleer dat ek nog nooit seergekry het deur iets wat ek nie gesê het nie. Dis die goed wat ons wel sê wat kwets en skade maak.
My spirituele nuuskierigheid en nomadiese soeke, het van my ʼn geestelike mystic gemaak wat nie terugdeins vir die bysteke om by die heuning uit te kom nie. Ja ek erken, my lewe is geweef met nostalgie en heimwee. Dit het my jare en baie littekens gevat om nie meer daarteen te baklei nie en om dit te omarm. My dagboeke is kleurryke verhale van ʼn man wat vir te lank geleef het as ʼn outsider en opnuut moes leer om te luister, want in die stemme van ander het ek my eie stem gevind, in die verhale van ander het ek my eie spoor opgespoor en dat ek met dankbaarheid en grasie moes leer om te ontvang want daarin lê die dans van Zorba en die kerfwerk van Rodin, die seile van Columbus en die taalraam van Krog en Breytenbach se gedigte.
Ons gesels Sondag oor die voetspore van ons lewe wat die voetpaaie van die Lewe (hoofletter) vind en waarom dit nodig is om soms stil te staan sodat ons kan sien waar ons vandaan kom en of ons nie dalk in sirkels loop nie.
ACIM — 25 Februarie by KOLPING en 29 Februarie STAD 19h30 — Chapter 11: GOD OR THE EGO
Besoek ons Facebook
Gedagte vir die Week:
“How vain it is to sit down to write when you have not stood up to live.” ― Henry David Thoreau