Liturgie: 26_maart_2017
Weet nie van jou nie maar ek is op van die hitte en bid vir winter en dat dit 11 weke en 5 dae lank sal reën. Nie net ons damme en leivore smag daarna nie, maar selfs die Berg en elke wingerd, elke dassie en tortelduif roep daarna. Dié tyd van ons kerklike jaar, is ʼn tyd van diep spirituele, emosionele, en intellektuele TRANSFORMASIE. Soos laas week genoem, is dit ʼn tyd van oordenking en herrangskik, ʼn tyd vir uitpak en laat los wat nie meer betekenis het of waarde toevoeg nie. ʼn Tyd vir restourasie en rehabilitasie. Dit is ook ʼn tyd vir ‘ontwaking’ en ‘verligting’ om onsself spiritueel te anker in die beginsels en inhoud van wat dit beteken om onsself Christene noem.
Ons sluit eerskomende Sondag af met ons maand se tema/vraag — WAAROM NOEM ONS ONSSELF CHRISTENE?— en gaan gesels oor die TIEN elemente van TRANSFORMASIE in ons voorbereiding vir Paasnaweek. Wat is hierdie TIEN elemente ...?
- Integriteit — Jesus se etiek lê nie net in sy getuienis en gelykenisse nie maar veral in sy optrede: die broodjies wat kosgee; die oproep om klippe neer te sit; die Samaritaanse vrou by die put en die genesing van hulle wat spiritueel blind, kreupel, en dood is. Jesus hou hom nie besig met ideologie of teologie nie — dis liefde in AKSIE! Vir hom was al die wette en kodes net stepping-stones na ʼn spirituele integriteit.
- Solidariteit — tot nou onlangs het mense net gemeng en geassosieer met hulle wat dieselfde taal, politiek, godsdiens, kultuur en lewensbeskouing het. Ons samelewing vandag het mense uit verskillende agtergronde, kulture en oortuigings bymekaar. Ons werk, eet, trou, kuier, en aanbid saam met mense wat totaal, geheel-en-al anders is as ons en die grootste skok van als is dat niks afdop, niks oplos, en niks verwelk of meegee nie. Ons vier ons andersheid en verskeidenheid.
- Interafhanklikheid — die beginsels van Ubuntu as ʼn interkonneksie tussen elke vorm van lewe ... ʼn mistieke bewussyn (consciousness) wat ons ‘eenheid’ bevestig. Dit geld nie net op vir die mikrokosmos van selle en atome nie maar ook die makrokosmos van planete en sonnestelsels. Elke vlak van realiteit (waarheid) is met mekaar gekonnekteer. Die wêreld van kwantumfisika leer vir ons dat alles met mekaar verbind is en elke sisteem is gevleg in ʼn ander sisteem. Die wonder van lewe!
- Nederigheid — ʼn spirituele lewe is onmoontlik sonder die deug van nederigheid wat ʼn skat van die hart is omrede dit ʼn mens eerlik met jouself maak en alle vorme van illusies en selfmisleiding vervang met ʼn nuwe bewussyn/perspektief van wie ons is, waar ons vandaan kom, waarheen ons op pad is. Ons bydrae en geskenk om die wêreld ʼn klein bietjie beter agter te los as wat ons dit ontvang het. Dit vra ʼn outentieke beskeidenheid, dit vra ʼn begrip van selfwaarde wat nie arrogant is nie.
- Toewyding — dit begin by ons intensies en vloei na ons gedagtes wat vandaar stroom na ons ervaringe. Om ʼn ander ervaring te hê, moet ons ʼn tree terug gee om te vra wat ons intensies is sodat ons ʼn skuif tussen ons ore kan maak. Transformasie gaan hand-aan-hand met die proses van leer, verstaan, ervaar, toepassing. Dit gaan saam met die vermoë om informasie te verwerk na inspirasie. Om te kyk en luister met die hart. Meer nog dit gaan oor die dissipline en toewyding van stilte en berusting.
- Verantwoordelikheid — hoe min mense leef hul waarheid omrede ons people-pleasers is wat tog net nie aanstoot wil gee of verwerp wil word nie. Ons vat onsself so damn serious dat ons verantwoordelikheid verwar met verpligting. Ons lag nie meer nie en het ons sin vir humor (wat ons sewende sintuig is) verloor. Kinderlik is nie kinderagtig nie, en volwassenheid leef op die grens van verantwoordelikheid en vryheid. Transformasie begin altyd met die oproep: “Grow up!”
- Simplisiteit — ʼn lewe van simplisiteit word nie gedryf deur wat jy HET nie, maar wat jy IS. Dit is ʼn lewe wat nie angs aanvalle het oor goed wat verval en verander nie. Dit is ʼn lewe van diep vertroue in dit wat waarde en betekenis het en hou hom/haarself nie besig met onsin nie. ʼn Lewe van simplisiteit pendel nie met gedagtes van “nie genoeg ...” en “wat as ...” nie want ʼn lewe van simplisiteit het geleer om te deel in die oorvloed waaruit ons leef. ʼn Lewe van simplisiteit weet hoe om dankbaar met waardering te leef. Simplisiteit maak jou vry van skuldgevoelens en vrees, en verlos jou uit die boeie van verwyt en woede. Transformasie maak jou vry van kompleksiteit.
- Diensbaarheid — niks versnel transformasie so vinnig soos diensbaarheid nie. Waar ons tot diens is van mekaar, ons moue oprol en hande uitsteek, gebeur daar iets magies met ons binnekant ... die metamorfose van gedagtes en gevoelens gee aanleiding tot ʼn verdieping in ons geloof, ʼn vernuwing in ons hoop, en ʼn verfyning in ons liefhê. Om mekaar se diensknegte te wees, het niks met onderdanig- of minderwaardigheid te doen nie. Dit sê iets van jou karakter en medemenslikheid.
- Geloofwaardigheid — meer as ooit het ons samelewing ʼn honger en ʼn dors na manne en vroue wat hulself verwittig van sosiale en maatskaplike ongeregtigheid. Dit gaan ook om ʼn stem te gee aan hulle wat nie gehoor word nie ... minderbevoorregtes, hulle wat uitgebuit word; hulle wat verwond en verneder agtergelos is — byname vir ons bejaardes en kinders. Dit gaan ook oor ʼn relevante stem teen die misbruik van ons natuur en sosio-ekonomiese toestande wat plunder ter wille van materiële welvaart.
- Wedergeboorte — ʼn mens kan nie oor transformasie praat sonder om nie te praat oor ons elkeen, persoonlik op die naam, se eie ‘wedergeboorte’ nie. Dis nie ʼn datum op ʼn almanak nie maar lewensproses wat daagliks met die son opkom en snags in die sterre en maan manifesteer. Dit is ʼn vernuwing/verandering van gedagtes en ʼn verhouding tussen jou en God (hoe jy ook al die Goddelike ervaar en beskryf). Almal van ons het ʼn aangebore normbesef — ons weet wat is reg en wat is verkeerd, wat is goed en wat is sleg — en het nie ʼn godsdiens nodig om dit te leer of onthou nie alhoewel dit verseker help. Paasfees is inderdaad dié tyd van die jaar waar ons vlerke deur die spleet van die kokon breek, om as ʼn nuwe mens op te staan uit ons dood.
Almal wil gelukkig wees — liefhê en liefgehê word. Almal verlang na harmonie en balans in hul lewe, vry van finansiële bekommernis en emosionele pyn. Ons bid vir gemoedsrus en vrede. Dit is die basiese behoeftes van elke mense maar hoeveel is bereid om enige iets op te offer daarvoor? Wie sal ʼn BraveHeart wees, dapper genoeg om die eerste tree te gee vir ʼn radikale, lewensveranderende transformasie? Of verwag ons dat iemand dit vir ons sal gee of dit klaargemaak by die winkels sal koop op ʼn ‘winskopie’ wat jy oor 24 maande kan afbetaal, of kan gaan omruil as dit nie meer pas nie?
Die romantiek van spiritualiteit lê in ʼn oopheid vir die avontuur van lewe in al haar vorme en fasette. Transformasie hou haarself nie besig met retoriek en clichés nie maar eerder met ʼn eerlike ontvanklikheid om te WÍL verander. Na die somer kom die herfs. Daar is net soveel prag in die storm as skoonheid in die reën. Die lewe is ʼn oneindige potensiaal van moontlikhede wat ons met vrymoedigheid tegemoed gaan. Ons is almal skoenlappers, die aarde is ons tuin. Hier spit ons ons uitdagings in die bedding van ons Christelike tradisie, en hier pluk ons die vrugte van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.
ACIM — Stad 3 April 19h30; Kolping 23 Maart 19h30 — Chapter 12: The Holy Spirit’s Curriculum (p215)
Besoek ons Facebook
Gedagte vir die Week:
“How does one become butterfly?' Pooh asked pensively.
'You must want to fly so much that you are willing to give up being a caterpillar,' Piglet replied.
'You mean to die?' asked Pooh.
'Yes and no,' he answered. 'What looks like you will die, but what's really you will live on.”
― A.A. Milne