Baie keer het mense (veral my professore) al gevra, “Hoekom het jy Teologie gaan studeer?” Dikwels het ek gewonder of die Here nie dalk Geologie of Astrologie gesê het en ek net verkeerd gehoor het nie. Die eerlikste antwoord was natuurlik dat dit my nuuskierigheid en weetgierigheid was wat my gedryf het om Teologie te gaan swot. Ek wou weet van die sterre en kosmos, die God van die skepping en die mens se plek in die heelal want op Hoërskool was ek beïnvloed deur die Televisiereeks, COSMOS waarin Carl Sagan se woorde die refrein sou word wat my gedryf het om Teologie te gaan studeer — “The Cosmos is all that is or was or ever will be. Our feeblest contemplations of the Cosmos stir us — there is a tingling in the spine, a catch in the voice, a faint sensation, as if a distant memory, of falling from a height. We know we are approaching the greatest of mysteries.”
Met ʼn duisend vrae in my knapsak het ek die fakulteit bestorm, opsoek na antwoorde. Helaas, het ek gou leer, dat dit nie die plek is vir vrae nie. Jy leer die antwoorde op vrae wat jy nie gevra het nie terwyl jy heimlik aan die binnekant wens om ook so seker te wees oor alles soos jou leermeesters. Na sewe jaar van hoor, “Ons kom later daarby ...” was my laaste vraag op die laaste dag van studies, “Is dit nóú, ‘later’?” Daarmee wou ek sê, elke antwoord op elke vraag is simpel – die misterie lê in die afstand tussen die twee.
Een ding het egter nooit gekwyn nie — my onwrikbare geloof in God; my verwondering in die misterie van Lewe (i.e. God); my ontsag vir ons plek en rol in die verstaan van die begrip ‘Infinity’; my verbasing hoe die pad van Goddelike Liefde my keer op keer vind. Nee, ek het nie ophou vrae vra nie. Wat wel anders is, is dat dit makliker geword het om te sê, “Ek weet nie” en geleer het dat om te weet dat jy nie weet nie is die eerste tree om iets te leer.
Albert Einstein maak in sy boek, ‘The World as I see it’ die volgende opmerking, “The most beautiful experience we can have is the mysterious.” Om ʼn sekere kennis en insig oor iets te hê, maak nie die misterie oor iets minder nie. Daar is, en moet, altyd ʼn sekere misterie oor goed wees want misterie is die baarmoeder van geloof. Die ware misterie lê in die sigbare, nie die onsigbare nie. In die maand waarin ons gesels oor DIE MISTERIE VAN LEWE gaan ons eerskomende Sondag stilstaan by die begrip — GENADE. Die Engelse woord is GRACE wat van die Latynse woord gratia afstam. Dit beteken: to look upon favourable; charm; thanks. Die woord gratia kom natuurlik van die Latynse stamwoord, gratus wat beteken: pleasing, grateful, appreciation, en dit is gratis!
Miskien is geloof die manier waarop die mens sy liefde vir God verklaar en genade (grace) die manier waarop God sy liefde aan die mens openbaar.
Interessant dat die Griekse woord musterion afgelei word van die woord muo wat beteken: to shut the mouth! Die Griekse verstaan van die woord is: exciting wonder, curiosity, or surprise while baffling efforts to comprehend or identify! Dit sê soveel meer as die Afrikaans wat dit vertaal met – geheim. Die Hebreeus het twee woorde vir misterie – amook (dit wat dieper as die oppervlakte lê) en ratz (versag, verdun) en interessant dat die twee woorde net voorkom in Job en Daniel wat beide boeke is wat uit die Babiloniese tydperk kom. Die ‘Misterie oor God’ was diep geënt in die Babiloniese Wysheidsliteratuur. Máár, daar is ʼn ander baie belangrike en bekende gedeelte in die Bybel wat ook sy oorsprong het in Babilonië en dit is Exodus 20. Die van julle wat al die ‘Geskiedenis van die Bybel’ werkswinkel bygewoon het, sal weet van die direkte ooreenkomste tussen die ‘Law Code of Hammurabi’ (1800BC), die ‘Treaties imposed by Hittite’ in Egipte (1400BC) en wat ons vandag ken as die TIEN GEBOOIE (900BC – 600BC).
Min mense weet dat daar 3 verskillende weergawes van die TIEN GEBOOIE is wat deur 3 outeurs oor ʼn tydperk van 300 jaar geskryf is (Ex 20, Ex 34, Deut 5) en nie met mekaar ooreenstem nie. Elke outeur (groep priesters) het hul eie interpretasie aan die Egiptiese en Babiloniese teks gegee om ʼn bepaalde milieu en kultus-gebruike van die JHWH godsdiens te pas. Konserwatiewe en fundamentalistiese Jode en Christene glo dat die TIEN GEBOOIE (spesifiek Exodus 20) mondelings deur God, in God se eie handskrif, op twee kliptafels, op die berg Sinai aan Moses gegee is. Nie ʼn enkele moderne Bybelkenner erken die oorsprong hiervan op so histories feitlike manier nie maar herken wel die misterie (verdun en dieper as die oppervlakte) daarvan. Kom ons gesels Sondag oor die GENADE van God in die lig van die TIEN GEBOOIE. Ek het ʼn gedeelte uit Neale Donald Walsch se boek, Conversations with God (Book 1), vertaal en verwerk om as raamwerk te gebruik. Dit lees as volg --
Julle sal weet dat julle die ‘weg’ van God gekies het, julle sal weet dat julle dit gevind het, want hierdie is die tekens, hierdie is die bewyse dat julle verander het:
Hierdie is jul vryheid nie jul beperkinge nie. Hierdie is jul belofte en nie jul wette nie. Want God beveel nie oor dit wat Hy geskep het nie – God sê gewoon aan sy kinders: as julle dit doen, sal julle weet dat julle tuis gekom het.
Kom ons gesels Sondag oor die Misterie van God se liefde vir ons en ons antwoord daarop!
ACIM: Kolping: 1 Oktober 19h00. Stad: 28 September 19h30 — Chapter 6: The Lessons of Love — P91 Hardeband Boek
Besoek ons Facebook
Gedagte vir die Week:
“Love is an endless mystery, because there is no reasonable cause that could explain it.” ― Rabindranath Tagore