20 Maart 2016

Liturgie: 20_maart_2016

Die laaste paar dae krabbel ek ʼn paar gedagtes in my dagboek om idees te hengel vir vandag se epos — die uitkoms is nie altyd in ons hande nie, die uitsig is wel; as jy nie weet waarna jy soek nie gaan jy dit nooit vind nie; hoekom sê ons, “dit is moeilik” eerder as om te sê, “dit is moontlik” want die eerste bly gesluit en die ander een maak oop; waarom eers rock-bottom slaan voor ons ʼn geleenthede soek, sien, doen?

Geleenthede maak deure oop, maar dis vir jou en my om in te gaan. Dis een ding om te sê, “ek wag vir my boot om in te kom” en ʼn ander om te sê, “ek gaan ʼn boot bou” want sit en wag het nog nooit ʼn nuwe vasteland ontdek nie. Leer om te luister, die klop is soms sag. Onthou om nie te vergeet nie — die deur is nooit gesluit nie. Herinner ek myself weer aan bekende teks in ʼn boek wat só misverstaan word — “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My.” (Openbaring 3:20) Hoe hartseer is dit nie dat so baie Christene steeds die Bybel met ʼn fundamentalistiese bril lees — i.e. met ʼn raam van alleen-waarheid deur glase wat als letterlik interpreteer. So mis ons die skakerings van ʼn antieke taal wat gevleg is in simbole en metafore deur ʼn prisma wat al die kleure insluit. Dit het egter tyd geword om God nie langer te verpersonifiseer nie en ‘God’ te sien as ʼn metafoor van dit wat ons beskryf as die ‘Skeppende Energie’ wat die Lewe self is en ervaar word in ons liefhê, en waar ons ʼn ekstensie word van die groter Liefhê maak ons die wêreld waarin ons leef, heel.

Hier is my gevoel oor ‘God’ en jy mag totaal van my verskil want nie twee mense beleef dit dieselfde nie — God is nie ʼn man of ʼn vrou nie maar die Asem wat in ons asem. God is nie bo of onder nie maar IN ons. God het nie ʼn ego wat kwaad of teleurgesteld kan word nie want in die Cosmic Consciousness is alles in perfekte balans en presies hoe dit IS. God het nie ʼn humeur wat ons moet vrees en nog minder ʼn veroordeling nie omdat alles wat is, en alles wat sal wees in harmonie is met die Divine Consciousness wat nie net in die makro-kosmos manifesteer nie maar ook in die mikro-kosmos van ons selle en atome reflekteer.

Dis eers toe ek die bril van my vooroordele en agterdog afhaal waarmee ek die boeke van die Bybel lees dat daar ʼn groter waarheid vir my ontsluit is. Eers toe ek besef dat die verhale van mense, oor mense, in mensetaal wat vertel word in die geskiedenis van ʼn Joodse milieu (tyd, plek, en omstandighede) kon ek begin assosieer met ʼn reis deur ʼn woestyn van my eie twyfel en die manna eet van my eie versugting. Die dae toe ek met weersin my eie pad wou kies en opgeëindig het in die pens van ʼn vis en eers toe ek die laaste walvis spoeg van my gesig kon vee, besef het wat my doel en waarde is. Hoe dikwels het my selfopgelegde ballingskap my in ʼn leeukuil laat beland vanwaar ek verantwoordelikheid moes aanvaar vir die ashoop van verlore drome wat gedink het dat iets of iemand anders vir my die vrede en vreugde moes gee omdat ek dit nie in myself kon vind nie. Ek moes kies of ek getrou gaan wees aan die Stem aan die binnekant en of ek eerder die applous en confetti van ander wil ontvang. Hoeveel geleenthede by my sien verbygaan omdat ek selfbehep soos ʼn kind ʼn tantrum gegooi het omdat ek nie my sin kry nie. Kwaad omdat ek dom is oor die tradisie waarin ek gebore is en met mening dit wou ontken, net om opnuut gebore te word met respek en waardering vir die verhouding waarin ek staan met dit wat ek beskryf en ervaar as God binne die stroom van geslagte en geslagte mense voor my wat beddings en boorde geplant het met moeite en pyn sodat ek vandag versadig kan eet aan die vrugte uit hul tuin.

Miskien het ek dié vers vermy omrede ek gedink het as ek die deur oopmaak gaan die bietjie wat ek het van my weggeneem word of omrede ek geglo het dat om Christen te wees is om geassosieer te word met dit wat disfunksioneel is en van God ʼn kruk en stoplap maak. Ongeërg het ek my skouers opgetrek en my neus gelig met die verskoning dat ek beter na myself kan kyk en meer as okay is met  menu vir my eie ‘feesmaal’ want in my wêreld was mý troon die middelpunt van die heelal. Hoe arm, blind, en kaal was ek nie. As dinge goedgegaan het, was dit deur my eie toedoen en as dinge sleg gegaan het, was dit iemand anders se skuld en net ʼn verdere bewys dat ‘God’ regtig nie omgee nie.

Nooit het die klop opgehou nie. Op geen tydstip het die Stem weggedraai van die deur nie ... en toe maak ek oop. Wat sou ontvou in my lewe het ek nie besef nie — dit was asof ek op ʼn koekemakranka plantjie afkom in die middel van die Kalahari, vir die eerste keer vars water drink en die verskil proe van die brakwater wat ek altyd gedink het, dis hoe water proe. Op ʼn nag in September 2010 het ek besef dat dit net die dood is wat onaangekondig jou deur afslaan en ongenooid jou lewe instorm. My verskoning van ‘te besig’ om oop te maak, was nie langer goed genoeg nie. Die rede dat ‘te ver van die deur was om die klop te hoor’, is die verskoning van ʼn lafaard.

Die Talmud leer — vier dinge kom nooit weer terug nie: ʼn woord wat gesê is, die pyl wat geskiet is, ʼn lewe wat verby is, en die geleentheid wat verbeur is. ʼn Enkel sin sou my ‘openbaring’ (enlightenment) word toe ek besef dat die gesig van Jesus is die visie van God waarin ek my eie gesig (insig en uitsig) vind. Die “klop” is nie in wette nie maar met nette ... not in commandments but in commitments. ʼn “Klop” teen die deur is ʼn uitnodiging tot vryheid en nie ʼn begrensing wat wil beperk nie. Die oopmaak is gelyktydig ʼn “a letting go and a learn to receive gracefully” en die feesmaal is ʼn restourasie en rehabilitasie wat nie net dinge in perspektief plaas nie maar sin en betekenis gee aan my lewe in al sy kleure, geure en skakerings.

  • “Kyk!” is ʼn openbare klop wat almal kan hoor en sien as ons net sal luister en kyk
  • “Ek ...” is ʼn persoonlike klop wat nie kerk, dogma, of ʼn predikant is nie maar die Asem van Lewe self
  • “Staan ...” is ʼn oortuigende klop wat staan vir iets en die dissipline van toewyding daarvan ken
  • “Oopmaak ...” is ʼn interafhanklike klop want ʼn geleentheid vra dat iets sal gebeur (verander)
  • “Ingaan ...” is ʼn ontvanklike klop wat die mure en heinings laat sak vir die leivoor na die beddings
  • “Feesmaal ...” is ʼn verrykende klop wat aansit aan die tafel van ‘A Celebration of Life’
  • “Saam ...” is ʼn vereenselwigende klop wat insluitend, inklusief is met plek vir almal

Waarlik, my beker loop van goedheid oor! Die geleentheid is ʼn nuwe (neo) spektrum van lig en verligting. Ek sal nooit die woorde van Fr. Roland vergeet wat die Kapel by Kolping aan my toevertrou het met net twee versoeke, “Honour the sacred space of the chapel, and be gentle in your criticism about Christianity when you stand underneath the cross.” — en daarmee die ‘sleutels’ van ʼn geleentheid aan my oorhandig het. ʼn Geleentheid wat geboorte sou gee aan Neo-Spektrum waar daar plek is vir almal ... selfs vir my!

ACIM — 4 April in die STAD 19h30 en 14 April by Kolping 19h00 — Chapter 11: GOD OR THE EGO

Besoek ons Facebook

Gedagte vir die Week:
“The door of opportunity is always open, but nobody bothers to push the door open. They just get tired out by knocking and then they leave.” ― Debasish Mridha

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights