ʼn Week gelede het Antjie Krog die Hertzogprys vir haar bundel ‘Mede-Wete’ ontvang. In haar toespraak tydens die ontvangs daarvan sê sy, “My grootste dankie gaan egter aan die poësieliefhebbers in Afrikaans, of hulle self ook skryf, pryse toeken of onderrig gee, of net ʼn gedig lees en vir ʼn oomblik hulle oë toemaak asof hulle iets bowe-werkliks ervaar het, mense wat glo dat poësie die slagaar van ʼn taal is, die diepste vorm van filosofie. Wat weet dat poësiedie gevoelige ervaring van menswees verleng; wat aan iemand wat sigself aan die einde van wanhoop bevind, ʼn opening bied, ʼn asem, ʼn oomblik van insig — verblindend van die onsegbare. Poësie is die groot Ongekontamineerde. Dit is seëvierend omdat dit die mens in ʼn verhoogde staat van bewussyn plaas, altyd met verhelderende gevolge. Asof jy op die drumpel van asem staan. Asof jy suurstof uit koel bome kry en skielik vorentoe gaan. En dis waarom digters skryf. Dis waarom lesers lees. Om die verheldering, die intensifisering, om iets van die sterflike te ontruk. ʼn Goeie gedig is ʼn versneller van die bewussyn. Indien jy ooit eenmaal hierdie versnelling meegemaak het, smag jy daarna en raak volslae afhanklik.”
Nog voor ek by die betaalpunt kom om die bundel te betaal, het ek reeds sewe, agt gedigte verorber. By die huis soek ek die winterson op voor ʼn venster en maak oortjies op die bladsye waar ʼn gedig “ʼn opening bied, ʼn asem, ʼn oomblik van insig” en maak notas onderaan om my “verheldering” te verwoord. Haar woordvaardigheid laat my hart warm klop vir ons taal asook haar vermoë om woorde te skep wat ʼn ongesegde gevoel beskryf. Sy laat my opnuut besef hoekom ek nog altyd hartstoglik aangetrokke is tot die poësiekuns. Waarom digters my priesters, profete, en prinsipale is en hoe ʼn handvol gebroke sinne dieper en inniger tot my siel spreek as ʼn stapel romans.
Gisteraand, toe die langarm op die korte lê (middernag) probeer ek in my dagboek betekenis gee aan dié ervaring. Wat is dit wat so tot my siel spreek en hoe sal ek dit definieer: poësie bring ʼn insig, ʼn onmiddellike verstaan sonder enige besef waarom of hoe jy skielik iets net ‘weet’; daar is diep waardering vir dié gevoel, die oortuiging van iets wat meer sê as net die woorde; die krag van ʼn fakulteit in ons menswees sonder enige rasionele gedagtes of ingrype van iets of iemand buite ons ...
Wag so bietjie, sê ek vir myself, waarvan jy hier praat is INTUÏSIE! Poësie, of ek dit self skryf of lees, word gebore uit die taal van die siel en dit spreek tot die woordeskat van die hart. Poësie is met ander woorde die kwas van ons intuïsie, die patois van ons onbewuste aanvoeling. Dit gee betekenis aan woorde wat die onderbewussyn beweeg om iets te voel en te doen sonder dat ons weet van waar of hoekom. Sophy Burnham skryf in haar boek ‘The Art of Intuition’ die volgende, “I define intuition as the subtle knowing without ever having any idea why you know it. It’s different from thinking, it’s different from logic or analysis ... it’s knowing without knowing.”
Kan dit wees waarom ek die stem van God die duidelikste hoor in poësie? Of dit Antjie Krog of Breytenbach, Cummings of Eliot, Job of Jesaja is, iets roer my water op ʼn indringende manier met die lees van digters se gawe om iets so ontvlugtend en ongedefinieer soos liefde raak te vat in lettergrepe en rym. Die brandende passie van ʼn digteres wat in die spasie tussen twee woorde elke emosie van verlange verwoord. Dis meer as net weet, dis ʼn voel soos geen ander gevoel kan beskryf nie. Intuïsie is, soos dit gekoester en gekultiveer word, om te sien met die siel.
Kom ons gesels Julie-maand oor — VERSNELLERS VAN DIE BEWUSSYN -- en skop eerskomende Sondag af met ʼn gesprek oor INTUÏSIE. Steve Jobs, van alle mense, noem intuïsie “more powerful than intellect” en dit is eers as mens dit waag om die stadsliggies van ons gemaksone agter te los vir die woude van jou intuïsie dat ons iets groter sal ontdek van onsself, iets dieper as ons oppervlakkige gedagtes, iets ruimer as net emosies (reaksies). “Call it intuition, a hunch, or a gut feeling - if we followed it, we just might be happier. Cease trying to work everything out with your minds. It will get you nowhere. Live by intuition and inspiration and let your whole life be a Revelation.” skryf Eileen Caddy in haar wonderlike boek ‘Footprints on the Path’ — want intuïsie, soos Krog se beskrywing van poësie, is om “iets bowe-werkliks te ervaar”; “dit bied ʼn opening, ʼn asem, ʼn oomblik van insig” en “dit is ongekontamineerd ... wat die mens in ʼn verhoogde staat van bewussyn plaas!”
As ons sê dat intuïsie is om te sien met die siel dan is intuïsie tog die naelstring tussen die emosionele en spirituele dimensie van menswees. Ons fisiese sintuie — voel, ruik, proe, sien, hoor — gee die liggaam ʼn bepaalde ervaring van dit wat vorm, definisie, en dimensie het maar wat van ons spirituele sintuie — intuïsie, aanvoeling, insig, waarneming, onderskeiding? Is iets soos compassion en empatie nie ʼn aksie wat gebore word uit ʼn intuïtiewe aanvoeling nie? Dis tog nie iets wat jy by jouself dink, “ek moet nou compassion wys” of ʼn keuse maak tussen apaties of empaties nie? Ons ken die uiterlike sintuie maar wat weet en ervaar ons van die spirituele sintuie?
Wat het digters en intuïsie in gemeen? Hulle luister na die innerlike stem; hul vat tyd vir afsondering en stilte; hulle is skeppend; hulle beoefen mindfulness & awareness; hulle neem waar; hulle luister met hul oë (visie); hulle maak kontak met ander op ʼn diep, tasbare manier; hulle let op hul drome; hul laat gaan aan negatiewe emosies deur dit te verwoord; hul skram nie weg van weerlose oomblikke nie.
Miskien het dit tyd geword om die spirituele konneksie tussen intuïsie en insig, tussen voel en weet te verken en in die gedig van Job 38:36-37 vir onsself te vra, “Who has put wisdom in the innermost being or given understanding to the mind?” Hoe verfyn moes Jesus se intuïsie gewees het met die Samaritaanse vrou by die put, die belastingdief in die boom, die intensies van politici en priesters met klippe in hul hande om ʼn vrou te stenig, die moordenaar aan die kruis? Intuïsie is opeens ʼn duidelike perspektief van die totale geheel. Daarom verwys ‘A Course in Miracles’ na die Heilige Gees as ‘The Voice FOR God’ — daardie stil stem aan die binnekant wat ons lei en begelei, vir ons fluister en soms luister, ons dra en verdra, en die gawe van onderskeiding (discernment) aan ons gee. Waar ons oop en ontvanklik is vir hierdie Stem, raak ons intuïsie verfyn. Kom daar ʼn sensitiewe bewussyn. Sien en hoor, voel en proe en ruik ons die aroma van God se teenwoordigheid in ons alledaagse bestaan en dien intuïsie as ‘affirmations of the soul.’
“Faith requires following the power of a whisper.” het Shannon L. Alder gesê. Kom word Sondag saam ons stil vir ʼn uur ... gee jouself oop tyd vir ʼn “verhoogde staat van bewussyn, met verhelderende gevolge!”
ACIM — Ons kom weer bymekaar na die skoolvakansie en sal laat weet per WhatsApp.
Besoek ons Facebook
Gedagte vir die Week:
“You will never follow your own inner voice until you clear up the noise in your head.” ― Roy T. Bennett
Liturgie: 2_julie_2017