Hierdie week se liturgie: 19_augustus_2012
Goeiemôre –
Ons gesels hierdie maand oor die tema: Die God van gister is dieselfde God as vandag is dieselfde God van môre! Ons verstaan en belewing daarvan verander; ons verklaring en vertolking daarvan is anders as ʼn jaar of duisend gelede; ons insig en interpretasie daarvan is verryk deur die wetenskap, filosofie, sosiologie en teologie – MAAR God is steeds dieselfde God. Soos reeds dikwels genoem, sê die woord ‘God’ niks oor God nie maar wel iets van ons ervaring met dit wat ons beskryf as ‘God’ en nie vir twee mense is dit dieselfde nie. Daarvoor het ons respek.
Niemand van ons kan met ons beperkte kennis die omvang of konsep van ‘ewigheid’ begryp nie selfs al besef ons dat ‘tyd’ ʼn mensgemaakte konstruksie is, verdamp die hele idee van tyd en spasie wanneer ons dink aan die begrip ‘infinity’ ... dis nét te groot. En steeds wil ons God geut met logika en gedagtes want dit moet sin maak; ons vang ʼn paar druppels reën oopmond en dink ons ken die Oseaan; as ons sintuie nie instemmend knik nie dan val ons hele god-kaarthuis inmekaar. Dikwels in ʼn gesprek as iemand vra “... wat/wie is God?” sal ek vra — “soek jy ʼn definisie (vorm, verklaring) van God of soek jy God?” Ons sê dis iets wat jy voel maar ons weet dit is méér as dit. Ons kan sê dis iets wat jy net wéét (ervaar), wetende ons staan eintlik in verwondering oor die groot misterie daarvan.
Ons gebruik woorde soos ‘lig’ en ‘lewe’ – en as ons regtig slim wil voorkom, dan praat ons van ‘kwantum’ net om op die ou einde van die dag skaam en stotterend te erken: ons kan dit nie verduidelik nie. Dit IS net! Soos water in die Oseaan, soos ʼn kind in sy moeder, soos suurstof in water – weet ons dit is daar maar wat en hoe, weet ons nie. Ons ervaar dit wel in die liefde wat ons gee en ontvang; ons hoor dit in die lag van die een wat ons liefhet; ons sien dit in die liefde wat ons deel en waar ons liefhet, daar sien die wêreld God.
Vir elkeen wat glo daar is refleksies van die Goddelike in elke ligspatsel; vir elkeen wat die Lewe in ons voel en weet dit is nie van ons nie; vir elkeen wat deur die kwantum en atome blaai en weerkaatsings van die Goddelike vind – kom deel Sondag saam met ons “A CELEBRATION OF REMEMBERING” Bring jou spanning en bekommernis; jou teleurstellings en twyfel; jou verwydering en verwildering; jou ekstase en dankbaarheid en kom onthou saam met ons dat die seëninge (blessings) van God is altyd en oral as ons dit net wil besef.
Hoe om die seëninge van God te SIEN:
i. ons sal sien as ons OË oopgaan (inkeer)
ii. ons sal sien as ons ORE oopgaan (uitkeer)
iii. ons sal sien as ons HARTE oopgaan (bekeer)
iv. ons sal sien as ons VERSTAND oopgaan (omkeer)
v. ons sal sien as ons SIEL oopgaan (terugkeer)
As jy wil weet hoe om by die Kolping Sentrum uit te kom, is daar ʼn kaart op www.neo-spektrum.com en jy kan ook elke vorige week se gesprek en liturgie aflaai by TEMA ARGIEF.
Die laaste twee maande reën dit omtrent elke Sondag – ook dít is ʼn blessing – maar Sondag kan jy vir ons sonskyn bring vir ʼn uur.
Ons volgende ACIM (A Course in Miracles) byeenkoms 16 Augustus by die Kolping Sentrum om 7pm. Kontak my as jy belangstel om saam te kom reis deur hierdie amazing boek.
Gedagte vir die Week:
“We cannot change anything unless we accept it. Condemnation does not liberate, it oppresses.”— Carl Gustav Jung