Hierdie week se liturgie: 17_februarie_2013
Die laaste paar dae ry ek vroegoggend Simonstad se kant toe. Soos wat ʼn mens ry, is daar ʼn duisend gedagtes in jou kop. “Mooi kar. Hou van die kleur. Wonder hoeveel kos hulle? My kar moet gaan vir ʼn diens. Sal volgende week afspraak maak. Hier is êrens ʼn kamera? Is dit 80km/h of 100km/h? 7h43 [sê GPS]. Wonder hoekom laai die battery nie? Vergeet om my foon te laai. Sal iemand vra as ek daar aankom ...” rammel die stem in my kop. Soos ek deur die ingangsportaal van die kantore stap, val dit my by dat ek gister gehoor het dat die een ontvangsdame is vêrlangs familie van die meisie wat laas week in Bredasdorp verkrag en vermoor is en skielik is die stem in my kop boos — “Bring terug die doodstraf! Raak van hierdie siekte ontslae! Verkragters het nie menseregte nie. As dit my kind was, sal ek jou vermoor.” Soos ek loop en dink, wonder ek met wie het ek hierdie gesprek? Logies is dit tog met myself maar wie is hierdie ‘self’ met wie ek praat, én my antwoord? Uit watter gedeelte van die brein kom die stem wat soms grom en brom; soms ʼn nederige herinnering is van my eie foute en tekortkominge; soms laf lig lag vir die silliness waarmee ek myself besig hou? Soms is die tweegesprek met ʼn ander mens en dan antwoord ek in dieselfde gedagtes sommer vir daardie persoon.
Laas Sondag het ons gepraat oor SIMPLISITEIT en onsself afgevra: waarom het ons alles so ingewikkeld gemaak? Hoe meer gekompliseerd, hoe meer projeksies en persepsies (prejudice) is daar in ons koppe. Selfs as ons die vrugte van die Gees (liefde, vreugde, vrede, geduld ... ens) in ons geheue oproep as ʼn opregte intensie na wat regtig belangrik is en waarna ons verlang, bly die brein sê: it is not always as simple as it seems! Daarom, as ons dit eerlik wil antwoord gaan ons die antwoord êrens anders moet soek as ʼn diskussie met jouself. Miskien help dit om na die experts van psigologie en filosofie te luister of die woorde van geëerde teoloë te bestudeer. Ons kan delf in die rykdom van boeke oor Spiritualiteit en notisie neem van ander mense se opinies maar op die ou einde van die dag word ons weer en weer, keer op keer gekonfronteer met die één bron wat direkte ervaring en kennis het van dié monoloog. Daar is net één expert wat elke oomblik van die dag, selfs snags in ons drome, ons gedagtes in woorde omsit en daardie expert is JY! Ek en jy leef met onsself. Al ons gedagtes en ervaringe is spieëls van onsself en al wat dit vra is ʼn eerlikheid met jouself sodat jy jou Self (twee woorde, hoofletter S) kan ontdek, wees, en uitleef. Jy sou nou kon vra: waarvan praat die man, wie is my Self?
Soms, as ons stil raak, dan kry die ware Self ʼn kans om met jou ʼn dialoog te hê. Soms in gebed of meditasie, partykeer sommer net spontaan hoor ons ʼn stem aan die binnekant wat in ons is maar nie van ons nie. Psalm 139:17-18 sê: “Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, O God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem — hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.” In die wêreld van gemak en kitsoplossings is die Christendom seker die enigste geloof waarvan ek weet wat onder die indruk verkeer (vreemde woord: IN-druk) dat ons beter vir onsself kan sorg as enige iemand anders. Ek is die god van my eie bestaan. Ek vra en ék sal antwoord. Tog hoor ons dikwels mense sê: “ek probeer myself vind” of “ek probeer hoor wat God sê” — Is dit regtig waar? Het jy jouself of jou Self verloor? Is dit opdragte aan ʼn God-on-demand wat nie gehoor word nie omdat ons eie stem nét TE hard skree?
Die sleutel tot voorspoed en sukses lê in die stem van die hart en nie die stem in die kop nie. Kom deel Sondag saam met ons ʼn OOPGESPREK oor —
GOD SE STEM IN GEDAGTES:
ʼn Herinnering van ons oorloop, oorvloed, oorgenoeg
ʼn Ervaring van voorspoed, vreugde, en verligting ... hoe??
“As jy bid [opreg vra], gaan na jou kamer toe [gaan waar dit stil is], maak die deur toe [maak gedagtes stil] en bid tot
jou Vader [fokus intensies] wat jy nie kan sien nie [maak sintuie stil] en jou Vader wat sien wat verborge is [Goddelike
in- en uitsig], sal jou beloon [sal dat jy die seëninge sien]” (Matteus 6:6)
ACIM sê: “things represent the thoughts that made them” en gaan dan verder om te sê: “only my thoughts can hurt me” Ons leef in ʼn tyd wat gelaai is met angstigheid — nie net in onsself nie maar ook ʼn kollektiewe angstigheid wat vra: waarheen is alles besig om te kantel? Ons interne kompas spin in die rondte en ons wonder waar is Noord? Watter stem praat die hardste: jou klein egosentriese self, of die stem van God wat vir jou Self sê: I am the face where you see yourself. I am the place where you don’t need anything else.
Dan word elke gedagte ʼn gebed: “Ek is bereid om te verander en dit anders te doen as tevore. Asseblief, wys my hoe!”
Onthou ACIM in Stad vanaand en môre by Kolping Sentrum!!
Gedagte vir die Week:
There is no mistake you've ever made that can't be divinely corrected, as long as you acknowledge whatever mistaken thoughts led to the error and surrender them to God. ― Marianne Williamson