16 April 2017

Hierdie week se liturgie: 16_april_2017

Paasnaweek 2017 ... is geen rede of verskoning om as net nóg ʼn langnaweek ongesiens verby te gaan nie. Dit verdien meer. Dit maak aanspraak op ons toewyding en oortuiging. Dit vra ʼn oomblik se stilte, ʼn asemteug in verwondering oor die membraan tussen lewe en dood. Dit staan stil by die kosmiese tragedie tussen kruis en graf, tussen kop en hart, tussen mens en siel, tussen duisternis en lig, tussen vrees en liefde en in al die stiltes waarin God lewe stort sonder om ʼn druppel te mors. Dit is die herdenking en viering van ons eie dood en opstanding in en deur die geboorte, lewe, leer, lyding, sterwe en opstanding van Jesus wat die Christus genoem word.

Vir ons gesprek oor — MEANINGFULNESS gaan ons Sondag stilstaan by die verhaal van Pilatus en sy vraag, “Wat is waarheid?” Dit is onmoontlik om in een epos naastenby die invloed, betekenis, aspirasies, ambisies, gebeure, en invloed van Pilatus oor te dra, wat nog te sê sy gesprek met Jesus sinvol saam te vat ... maar ons gaan probeer sodat Paassondag in die lig van dié agtergrond ʼn relevante en betekenisvolle boodskap vir ons elkeen het.

Dit sou twee generasies neem om in die Evangelie van Markus, wat tien-teen-een in Rome geskryf is, 42 jaar ná die kruisiging, die eerste keer sy naam te hoor. Nóg 20 jaar later sou Lukas die byvoegsel van ‘Pontius’ tot sy naam maak. Matteus Evangelie wat nóg later geskryf is, bring Pilatus se vrou in die verhaal wat ʼn droom gehad het waarin sy vermaan, “Moet niks met dié regverdige man te doen hê nie!” Dit is duidelik dat soos tyd verbygegaan het, het dié verhaal uitgebrei om dit meer gewig te gee. Teen die tyd wat die Evangelie van Johannes tot skrif kom, het nóg ʼn 40+ jaar verbygegaan. Soos die vorige weke geïllustreer is, skep Johannes sekere figure om sy persoonlike, letterkundige en mitologiese behoeftes te pas. Ek wonder of Pilatus ooit sou kon raai dat sy naam elke Sondag deur feitlik elke Christenkerk genoem word in die Apostoliese Geloofsbelydenis — “... wat gely het onder Pontius Pilatus”

Pontius Pilatus sal vir altyd onthou word as die regter wat Jesus onskuldig bevind en steeds ter dood veroordeel het. Dit het nie vir hom gegaan oor reg nie maar oor eiebelang ... iemand wat met gesag wou optree maar die Jode se guns soek. Wat op beginsels wou staan maar sy eie skuld van sy hande afwas. Hy was dieselfde ouderdom as Jesus wat geen onbekende vir hom was nie. Pilatus was 'n egte Romein, trots en outokraties;  driftig en kortgebonde; 'n man wat geen weerstand en teenspraak kon verdra nie en hy kon kinderagtig opvlieënd word as hy nie sy sin kry nie.  Hy was deur en deur ʼn militaris soos sy naam ook aandui PONTIUS: die man met die spies!

Die Griekse skrywer Philo praat van Pontius se korrupsie en vertel van sy dade van onbeskaamdheid, uitbuiting, sy manier om mense te beledig, sy wreedhede, moorde en onmenslikheid. Bo alles was hy 'n man wat die Jode nie geken het en in sy Romeinse hoogmoed nie verstaan het nie. Hulle godsdiens was vir hom superstisie. Kort na sy aankoms reeds het hy die Jode verfoei en begin haat. Hy sou hulle terugbetaal vir die feit dat hy so agterlike land gekry het om goewerneur van te wees. Sy setel was in Caesarea maar tydens Joodse feeste het hy na Jerusalem verhuis om moontlike opstande te monitor en in besonder tydens PAASFEES as al wat leef en beef in Jerusalem was. Hy was getroud met Claudia Procula, 'n afstammeling van die keiserlike huis. Sy was 'n blou-bloed aristokraat; hoog geskool en sensitief vir die godsdienste en geestelike strome van haar dag. Na alle waarskynlikheid is Pontius bevorder tot goewerneur deur haar invloed omrede sy saam hom uitgeplaas is na Palestina wat glad nie die gebruik was nie.

Tot sy verbasing moes hy met sy aankoms agterkom dat Jerusalem die enigste stad in die Romeinse Ryk is wat geen afbeelding van die keiser het nie. Sonder om sy raadgewers te raadpleeg, het hy beelde van die keiser laat maak en dit oral in die stad laat opsit. Hy kon nie 'n groter fout gemaak het nie. Vir mense wat in 'n veelvoud van gode geglo het, kon dit nie skeel as daar nog 'n beeld opgerig word nie maar vir die Jode wat net een God aanbid het, was dit een te veel om te sluk. Hiervan het Pilatus niks begryp nie en het hy die oproer wat aan die broei was gesien as 'n uitdaging. Hy plaas 'n massiewe beeld van die keiser op die burg Antonia wat oor die mure van die ou stad troon. Enige verset sou aan hom die mag gee om van 'n paar moeilikheidmakers ontslae te raak.

Hy het hom misreken want onder bevel van Kajafas (Hoofpriester) het die Jode in hulle duisende uit die stad gestroom en saamgedrom om Pilatus se paleis in Caesarea. Kort voor lank was die paleis omsingel met 7000 protes-betogers. Met woeste krete het hulle Pilatus gedreig om die beelde af te haal. Na ses dae het hy, omsingel deur soldate om hom te beskerm, uitgestap op sy balkon om aan die skare te verduidelik dat die beelde daar is om te bly en dat enige een wat iets te sê het opgesluit en verhoor sou word op aanklag van verset teen die keiser. “Dit is beter om te sterf as om 'n vreemde god se beeld te aanskou” het die massa hom uitgejou. “Ek gaan die soldate op julle loslaat as julle nie nou huis toe gaan nie” het hy woedend teruggeskree. Die Jode het hulle nekke ontbloot en gewys dat die soldate maar kan kom om hulle sonder weerstand te vermoor. Pilatus het geweet dat hy so massamoord moeilik gaan verduidelik by die keiser. Die enigste uitweg was om die beelde te verwyder.

Sy tweede flater was net so groot — hy het 'n plan gehad om Jerusalem met vars water te voorsien. 'n Mooi gedagte en prysenswaardige onderneming maar toe die fondse opraak het hy eenvoudig sy hande op die tempelskatte gelê. Kajafas moes onder dwang toegee maar het gewaarsku dat hy nie verantwoordelik gaan wees as die volk dit uitvind nie. Weereens onrus en opstand. Pilatus het soldate met siviele klere onder die skare ingestuur en hulle met stokke geslaan. Die reaksie het paniek tot gevolg gehad en 'n aantal mense is dood toe hulle mekaar in die strate vertrap het. Pilatus word geroep na Rome om te verduidelik wat de’hel gaan aan in sy provinsie?

Vroeg een Vrydagoggend, om en by 6 uur, het die owerpriesters en Fariseërs Jesus by die paleis aangebring. Hulle het so lawaai dat Pilatus wakker geword het en gehoor dat die Jode eis dat Jesus onmiddellik verhoor moes word. Deur die slaap en geïrriteerd stap hy die regsaal in om te hoor wat was nou weer so dringend ... en tot sy skok sien hy niemand nie! Al die Jode het buite op die ‘plaveisel’ gestaan en wag want om in die huis van 'n "HEIDEN" te gaan was verontreiniging vir die tyd van Paasfees. Vir Pilatus was dit 'n belediging en het hy moontlik besluit dat óf die beskuldigde óf die aanklaers dit sou ontgeld.

Die paleis was geleë in die suidweste op die heuwel waarop die tempel gebou is. Dit was die grootste en kosbaarste gebou wat in voorkoms met die tempel vergelyk kon word. Dit was so groot dat dit 'n klein leër kon huisves. Twee groot vleuels het van die hoofgebou uitgeloop en tussen die twee vleuels was 'n marmervloer. Die voorste gedeelte het op massiewe pilare gerus. Reg rondom die paleis was tuine met fonteine. Honderde mak duiwe was om die waterbakke en op hierdie herfsoggend, vroeg in September staan Jesus van Nasaret voor die regter. Met onwil en antagonisme het hy die Jode te woord gestaan wat met minagting en haat Jesus voor hom gebring het. Hulle eis was eenvoudig: hierdie godslasteraar moes sterwe. Vir Pilatus was Jesus niemand anders as net nóg 'n eenvoudige Jood wie se lot hom nie veel sou raak nie.

Soos verwag het die vuurvonke onmiddellik begin spat. Aan die een kant staan Pilatus en aan die anderkant die Jode met hul opgesweepte gemoedere. In die middel staan ʼn man met sy hoof gebuig, in stilte terwyl hy die aanklagte toehoor. Die koningskap van Christus interesseer Pilatus net op een manier en dit is wat hierdie ‘koning’ vir hom kan doen – wat se “deal” kan hy maak, waar kan hy “score” – daarom vra hy sinies, sarkasties, “Is jy die Koning van die Jode?” Drie keer verduidelik Jesus. Drie keer voel Pilatus iets beweeg in hom. Drie keer vind hy hom onskuldig. Die Jode skree: “Laat sy bloed (jou skuld ook Pilatus) op ons en ons kinders kom!” Hy soek nie na die ‘reg’ nie, hy soek ʼn kompromie, hy soek ʼn verskoning en bevind homself waar hy sý skuld moet verdedig voor die onskuldige. Die verhaal beweeg aan maar ek stel my voor hoe hy terugstap in die paleis en sy vrou hom voorkeer: “Is die man vrygespreek?” vra sy. “Ek wou maar die koppige Jode ...” stotter hy. “Wat het jy gedoen my man? Is dit te laat? Gaan keer hulle!!”

In die jaar 36AC word Pilatus vervang deur Vitellius die goewerneur van Sirië. Hy word na Rome geroep om verslag te doen aan die keiser hoe hy dit reggekry het om soveel mense om die lewe te bring? Daarna verloor ons sy spoor. Volgens oorlewering het Pontius Pilatus sy eie lewe geneem. Bo in die berge van Switserland vind ons die meer van Lusern en hierdie meer staan bekend as die meer van Pilatus. Daar word vertel dat Pilatus se gees op 'n maanlig aand daar gesien kan word ... steeds besig om sy hande in die meer te was, al kermende, “Hierdie man is onskuldig!”

Die verhaal eindig maar die invloed nog lank nie. In drie woorde, ‘Wat is WAARHEID?’ gaan ons Sondag stilstaan as ons saam Paassondag vier. Wat beteken dit om in die Waarheid te leef; deur die Waarheid geïnspireer en verander te word? Hoe maak die Waarheid ons vry om ons skuld te bring na ʼn altaar en op te kyk na ʼn blou-kruis en vir onsself die vraag te antwoord wat Pilatus vra, “WAT SAL EK DOEN MET JESUS WAT DIE CHRISTUS GENOEM WORD!?”

ACIM — Stad 24 April 19h30; Kolping 20 April 19h30 — Chapter 12: The Holy Spirit’s Curriculum (p215)

Besoek ons Facebook ​​​​​

Gedagte vir die Week:
“We are the Easter people and Hallelujah is our song.” ― Pope John Paul II

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights