Hierdie week se liturgie: 14_april_2013
Ons het laas Sondag lekker saamgeëet nadat ons gesels het oor Leonard Cohen se bekende “Hallelujah” en eerskomende Sondag gaan ons U2 se “I still haven’t found what I’m looking for” bespreek. Miskien is dit net ek, maar party liedere roer elke sel in my liggaam. My water word geroer deur ʼn melodie wat eenvoudig maar slim is terwyl lirieke elke letter in my alfabet ontknoop. Trouens, baie lirieke van baie songs het my al geïnspireer vir Sondae se temas om nie te praat van die blaaie in my dagboek nie. Soms met trane, soms ʼn breë glimlag, soms ʼn warm herinnering aan vriende en plekke en geure en kleure asof dit alles weer voor my staan ... en soms (net soms) bring ʼn lied ʼn skitterende kwaad om die vol spektrum van emosies te dek.
“I still haven’t found what I’m looking for” — is een van daardie songs wat mens voel elke woord het betekenis en om te dink hoe jonk U2 was toe Bono die lirieke geskryf het en The Edge die musiek bygeweef het, wonder ek of hul besef het hoe hierdie lied vir miljoene ʼn identifikasie sou word van ons eie soeke en vertwyfeling. Of ʼn mens van U2 hou of nie, bly hierdie lied se musiek en liriek iets waarmee almal vereenselwig. Bono self het eenmaal oor dié song gesê: "it is an anthem of doubt more than faith." Die musiekvideo is in Fremont Street in Las Vegas geskiet. Die band members loop deur strate en in casino’s. Ons sien mense tussen dobbelmasjiene sit wat hul hoop weg dobbel met die hoop om met geld te vind “... what they looking for”...
I have climbed highest mountains; I have run through the fields
Only to be with you, only to be with you
I have run, I have crawled, I have scaled these city walls
These city walls, only to be with you
Baie mense dink die lied gaan oor iemand wat na ʼn beminde soek en nog nie gekry het waarna hy soek nie, intussen gaan dit oor ʼn soek na spirituele liefde – ʼn tema wat in baie van U2 se liedere voorkom. Bono het eenkeer in ʼn TV onderhoud gesê: “I lie all the time. I only tell the truth in my songs.” Vir seuns van Ierland was die skeiding van mure tussen Protestant en Katoliek ʼn harde (wrede) realiteit om te sien hoe mense van dieselfde geloof, dieselfde Jesus, mekaar uitmoor. Die eerste vers vra of daar in die skeiding tussen ‘hier-en-daar’ en ‘ons-en hulle’ ʼn antwoord lê, of sal ons aanhou hardloop? Ons ken die emosionele berge waarteen ons uitklim; ons ken die verlatenheid van die vlaktes waar ons ongemaklik en weerloos uitasem asem. Ons soek vervulling op die pieke van illusies en in die velde van persepsies; ons hardloop en kruip en roep van die stadsmure na iets wat ons dink ons nie het nie ...
But I still haven't found what I'm looking for
Ironies, toe hul in 1987 die Grammy toekenning ontvang het vir die beste Rock Performance by a Group, was die bas-speler (Adam Clayton) in die badkamer toe die res van die groep op die verhoog stap en hy het die presentasie gemis. Ons kry nie wat ons soek nie want al staan dit voor ons is ons te besig met iets anders ... êrens elders. As die berge en vlaktes en stadsliggies dit nie vir ons gee nie, gaan soek ons dit in ʼn ander persoon. Hoe dikwels moet ‘earthly desires’ die gat aan die binnekant stop? Die tweede vers gaan oor die soek na vervulling in als en almal behalwe om na die plek te gaan waar ons vandaan kom en waar liefde die naelstring is tussen ons en die EEN wat ons nooit verwerp nie ...
I have kissed honey lips; felt the healing in her fingertips
It burned like a fire this burning desire
I have spoken with the tongue of angels; I have held the hand of a devil
It was warm in the night; I was cold as a stone
Dié vers klink soos die kanale op DSTV: op een kanaal bid iemand maar die hele gebed gaan oor die ‘bose’ wat ons wil verslind; op ʼn ander kanaal rand ʼn vou en man aan met SNLV in die hoek; op een van die nuuskanale praat ʼn priester wat deurweek van ʼn primitiewe premoderne wêreldbeskouing steeds hakkel en stotter oor die gebruik van kondome om VIGS te voorkom. Ja, ons soek na liefde in die soene van ʼn minnaarres; ons glo die hande van ʼn lover sal die soek wegvat; ons glo engele sal vir ons doen wat ons nie kans sien om self te doen nie; ons maak ʼn deal met die duiwel (ego) maar binne bly dit koud ...
But I still haven't found what I'm looking for
In die Rolling Stone Magazine verwys Bono na hierdie lied as “a kind of gospel song with a restless spirit” -- en as ons malle gejaag na berge en dale; mure en heinings ons op die ashoop van gebroke beloftes laat beland waar ons liefde soek in nóg ʼn lyf, nog ʼn belofte van iemand wat jou gaan fix, nog ʼn lover wat jy glo sal die vrees vir alleen-wees wegvat ... die laaste vers vind ʼn skrefie lig na ʼn erkenning (belydenis) waarna eintlik gesoek word ...
I believe in the Kingdom Come, then all the colours will bleed into one
Bleed into one but yes I'm still running
You broke the bonds and you loosed the chains
Carried the cross of my shame, oh my shame, you know I believe it
Baie gelowiges bely dat Jesus die ‘antwoord’ is maar buig dit om my eie vrae te pas. Dikwels roep ons die naam van Jesus in ons nood en moedeloosheid maar ons hoor nie dieselfde Jesus wat jou op die naam roep om verantwoordelikheid te neem; op gereken te kan word om met toewyding en dissipline jou spirituele GPS te volg want dié strofe sug steeds na alles wat geglo en gesien is ... “but yes I’m still running” asof hy wil sê – hou op hardloop na Jesus toe want hy is nie dáár nie, hy is HIER – by jou, met jou, in jou!
GESOEK EN GEVIND
Berge, valleie, mure wat antwoorde soek
Lywe, tonge, ʼn selfgemaakte duiwel wat verlei
Kleure van geloof, hoop en liefde wat bevry.
In 'n tyd waar min mense kon lees, is die Bybelverhale vertel in loodglasvensters as die lig daardeur val. Die eerste movie teaters was ou katedrale.
Maak Sondag ʼn afspraak om ʼn skrefie lig te kom haal sodat jy kan sien en weet: jy het gevind!
Ons volgende blok vir ACIM begin 18 April by die Kolping Sentrum en daarna ons ander groepe.
Besoek ons FACEBOOK: http://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.
Gedagte vir die Week:
“The life of a true believer is one of a more uphill struggle...where things are illuminated along the way.” (Bono: U2)