13 November 2016

Liturgie: 13_november_2016

Toe ons kinders was, het ons ouers vir ons klere gekoop wat te groot is en gesê, “Jy sal in dit groei” — die tyd wat dit gevat het om ‘in dit te groei’ was gewoonlik veel langer as die rukkie wat dit wel gepas het soos dit moet omdat kinders net só vinnig grootword. Ons groei in ons siel in net soos in ons klere in. Dit is ʼn lewenslange proses, elke dag, elke oomblik ... mindful and aware — nie net met ons fisiese sintuie nie maar veral met ons spirituele sintuie!

Uit die aard van my werk kry ek baie boodskappe waarin mense advies vra en veral omrede al die kommunikasie-middele (epos, sms, whatsapp, en veral FB messages) dit maklik maak om in kontak te kom. Mense voel gemaklik om van ʼn afstand hul gedagtes en gevoelens te deel. Daar is gewoonlik twee tipes vrae — die een is ʼn vraag oor WAT om te doen, te kies, of te besluit ... dit is moeilik om te antwoord. Die ander vraag is HOE om te reageer, uit ʼn situasie te kom, anders te voel, en met besluite saam te leef ... hier kan ʼn mens na die beste van jou vermoë ʼn eerlike riglyn gee wat help om perspektief te kry sodat elkeen by hul eie antwoord uitkom. Ek kan nie vír iemand besluit nie, kan nie vir jou sê wat jy moet doen nie want as ek doen is dit mý lewe en nie langer hulle sin nie.

Soos al dikwels gesê, teken die besluite/keuses wat ons maak die prentjies van wie ons werklik is. Dit is ook waar van ons aksies/reaksies en soos vroeër die jaar vir ʼn maand lank bespreek is, bepaal ons gedagtes ons realiteit. Ons skep met ander woorde met ons gedagtes die ‘realiteit’ wat ons ervaar. Dis ʼn enorme verantwoordelikheid om sinvol met onsself om te gaan sodat ons in balans en harmonie met ons Self sal wees omdat dit in essensie die plek is waar ons God ontmoet.

Wat ek wel besef, na jare se werk met mense se pynpunte en vrae (ook my eie) is dit die feit dat elke krisis / spanning / vrees, is ten diepste ʼn spirituele probleem en elke oplossing op hierdie vrae is ʼn spirituele antwoord. Met ‘spiritueel’ word bedoel: ʼn lewende, deurleefde verhouding tussen jou en wat jy ervaar en beskryf as God. ʼn Spiritualiteit wat gebore word uit ʼn outentieke aanvoeling van wie en wat ons ten diepste is — ons waarde en betekenis, ons doel en bydrae. Om te praat oor — GROW INTO YOUR SOUL — het nie te doen met godsdienstige reëls en teologiese interpretasie nie al sou dit ʼn riglyn kon wees en moet dit altyd ondergeskik wees aan die ritme en asem van die Goddelike wat in my beskeie mening net gevind word in ons geestesdenke (mindfulness) waar ál ons spanning en bekommernis oplos in ʼn rusplek wat ons ervaar as God se liefde.

Ons het grootgeword in ʼn milieu met baie ‘moets en moenies’ waar ʼn mens se spiritualiteit gemeet is aan Godsdienste reëls — op fakulteit was ons verbied om ʼn kortbroek te dra, lang hare was van die bose, vrouens het nie broeke gedra nie en die grimering moes gepas wees en kort hare vir vroue was taboe. Dit was alles aangevul met verbode lysies soos TV kyk en films Sondae, geen dans, geen dobbel, geen rook, geen drank en beslis geen seks voor die huwelik nie. Dit was alles voorgehou as ʼn lewe van ‘heiligheid’ wat gepas het by iemand wat hom/haarself ʼn Christen noem en ʼn baie definitiewe voorwaarde van wie hemel toe gaan en wie nie. Toe ek op ʼn keer vra of God regtig omgee oor hierdie mensgemaakte goed is daar baie duidelik aan my gestel dat “God laat nie met hom spot nie!” en daarmee was die gesprek afgehandel.

Ek blaai deur ʼn boek op my rak opsoek na ʼn aanhaling en vind langs een paragraaf in pen gekrabbel, “That which is sacred or divine originates in God of being awe-inspiring and transcendent” — het geen idee hoekom ek dit in 2008 juis langs dié paragraaf sou skryf of waar ek daaraan kom nie — maar dit vra om vir oomblik weer te dink oor die woord ‘heilig’ (sacred) en dat Grow-into-you-Soul het dit doen met wat dit beteken om geheilig en gewyd ʼn intimiteit met God te ontdek en te ontgin. ʼn Vrou wat met kanker gediagnoseer is, bel my die week en ek vra “Hoe voel jy?” bedoelende fisies en sy antwoord, “Vir die eerste keer in my lewe dink ek oor die goed wat ek al die tyd oor moes gedink het!” Vir ʼn oomblik is daar ʼn stilte oor die foon terwyl ek dink aan haar antwoord toe sy verder verduidelik, “Asof ek my hele lewe ʼn stuk graniet was en skielik het dié siekte alles wat onnodig en oortollig is weg gebeitel en skielik sien ek wie ek werklik is.” Vir tien minute sit ek en luister hoe sy praat oor haar liefde vir haar man en kinders, haar ervaring van die teenwoordigheid van God, haar lewenslus om berge te klim en oor ʼn oseaan te seil, haar liefde vir kos en wyn en die geknetter van vriende om ʼn etenstafel, haar passie om te wil skilder en ʼn roman te skryf alhoewel sy nog nooit ʼn kwas vasgehou het nie ... “Dis asof my siel ʼn stem gekry het!” sê sy met ʼn kinderlike opgewondenheid.

Kom ons gesels Sondag oor — OM JOU SIEL ‘N STEM TE GEE! — en ons kan die volgende paar fasette verken:

  1. Suiwer ons gedagtes: let op dit wat ons energie gee en vervang die onsin en illusies met suiwer intensies
  2. Kultiveer emosionele en spirituele wysheid: skei die kaf van die koring en spit die bedding vir blomme
  3. Sit vrees en skuld op hul plek: raak onstae van toksiese verhoudinge, bely en vergewe wat blameer word
  4. Raak betrokke by mense: die weg na heiligheid en suiwerheid loop deur ons diensbaarheid aan ander

Stephen Covey skryf in sy boek “First Things First” — “People expect us to be busy. It’s become a status symbol in our society – if we’re busy, we’re important; if we’re not busy, we’re embarrassed to admit it. Busyness is where we get our security. It’s validating, popular and pleasing. It’s also a good excuse for not dealing with the first things in our lives.” Laat my dink aan die verhaal van Marta wat by Jesus kla oor haar suster Maria wat nie help in die kombuis nie en Jesus wat haar vra waarom sy so besorg is oor goed wat nie regtig belangrik is nie. (Lukas 10:38-42) Kom ons gee vir ʼn slag aandag aan wat regtig belangrik is — ʼn liefde wat tasbaar en prakties is en ʼn vrede wat die spanning verlig met ʼn vreugde en dankbaarheid in die dampkring van ons heiligheid ...

🌺 ACIM — Maandag 14 November Stad: 19h30 — Donderdag 17November Kolping 19h30 — Manual for Teachers 4. What are the Characteristics of God’s Teachers? [p9 agter in die boek]
Besoek ons Facebook ​​

Gedagte vir die Week:
“For physical training is of some value, but godliness has value for all things, holding promise for both the present life and the life to come.” — 1 Timothy 4:8

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights