Hierdie week se liturgie: 12_augustus_2012
Die hele land is ʼn yskas terwyl jakkals elke dag met wolf trou in die Kaap – dan storm dit, dan reën dit terwyl die son skyn, dan wind-ruk-son-skyn-storm-reën dit net om die volgende oomblik te gaan lê asof niks gebeur het nie.
Toe dit gister begin sneeu in Bloemfontein was dit kiekie na kiekie en oproep na oproep wat inkom, vir die meeste kinders was dit die eerste keer in hul lewe dat hul sneeu sien. Die knars-geluid as jy daarin trap en diep genoeg om sneeuballe te maak. Soos ek hulle hoor lag in die agtergrond het ek met my hele hart gewens ek was daar want ek onthou soos gister toe ek dit vir die eerste keer in my lewe gesien het – dit was simply awesome en wat ek die beste onthou, was die stilte asof alles in verwondering was. Dit het gesneeu nie OMDAT dit koud is nie maar SODAT alles dieselfde mooi kon wees.
Alles in wit getooi. Niks was mooier of beter nie. Vir ʼn oomblik was almal kinders (onnies en ouers) wat uitbundig lag. Niks méér belangrik as net die oomblik nie. Vir dae en weke lank (miskien ʼn leeftyd vir sommiges) sal die stories van die eerste sneeu oorvertel word as die dag toe dit wolke gereën het en die hemel aan die aarde geraak het.
Waar het ons as ‘grootmense’ ons ‘kindwees’ verloor? Wanneer het ons begin dink ons is belangriker as kinders? Was dit die oomblik toe die eerste sneeubal in ons hand gesmelt het? Wie het ons geleer om met klippe te gooi, was dit grootmense?
Kan jy jou die verbasing op die spul dissipels se gesigte voorstel as hulle met ʼn ernstig teologiese vraag na Jesus kom — “Wie is die belangrikste?” en hy antwoord: “'n Kind!” want ons het vergeet wat dit is om Afhanklik en Ontvanklik te wees voor God.
Die dag toe my kind gebore is, het ek myself voorgeneem (i) om hom te leer waaroor die lewe gaan — toe leer hy my dat jy die lewe leef en al wat hy vra is, wees ʼn voorbeeld en wees konsekwent; (ii) om hom te leer dat God altyd in sy hart is — toe leer hy my dat ek altyd in die hart van God is; (iii) ek wou vir hom alles gee en doen wat hy nodig het — toe leer hy my dat dit nie is wat ek gee wat belangrik is nie maar hoe hy voel as hy by my is wat hy onthou!
Nou vra ons mekaar vandag: Onthou jy nog jou ‘bewondering van die wonderlike’ soos toe jy ʼn kind was? Weet jy nog wat dit is om liefhê te vertrou soos ʼn kind? As jy sien hoe maklik kinders vergewe en nie met ʼn wrok loop nie, besef jy hoe swaar ons dra aan alles wat ons nie wil laat los nie? Droom jy nog soos ʼn kind of het jy lankal opgegee op jou drome? Waarom sal die evangelies soveel klem lê op die feit dat ons soos kinders moet word as ons die Koninkryk wil sien (nie kinderagtig nie maar kinderlik opreg). Waarom ruk Jesus se woorde ons nie uit ons slaap nie as hy sê dat as jy kinders laat struikel, is dit beter om met ʼn meulsteen om jou nek in die see te verdrink (Matteus 18:6)?
Miskien sal jy dink: maar ek het nie kinders nie; of my kinders is al groot; of ek is nie meer ʼn kind nie — dit gaan nie oor een van hierdie drie nie maar oor die enkel sin van wat dit beteken om te sê: jy is ʼn ‘kind’ van God!
Tien Gebooie vir Kinders van God:
i. Doen aan kinders wat jy aan jouself gedoen wil hê
ii. Leer hulle om liefde te wees sodat hulle liefde word
iii. Luister na mekaar sodat ons mekaar sal hoor
iv. Wys hulle wat beteken onvoorwaardelikheid
v. Herinner kinders wat respek is en wees konsekwent
vi. Leer hulle dat daar meer as genoeg is en hoe om te deel
vii. Wys hulle hoe om konflik op te los en wees ʼn voorbeeld
viii. Vertel hulle dat ons altyd ʼn keuse het hoe ons gaan reageer
ix. Maak van kinders fakkels wat brand en nie kruike om te vul nie
x. Leer hulle dat hulle één is met God net soos ons één is met mekaar
Dit geld vir elke verhouding waarin ons staan. Tien beginsels om die Koninkryk van God te reflekteer want as ons nie hierdie tien beloftes verstaan en uitleef nie, sal elke ander verhouding onder ons voete smelt soos sneeu.
Of dit Sondag sneeu of reën; sonskyn of stormwind – ek belowe om 10h00 by die deur te wag vir elke sneeuvlok, druppel, en sonstraal.
Ons volgende ACIM (A Course in Miracles) byeenkoms 16 Augustus by die Kolping Sentrum om 7pm. Kontak my as jy belangstel om saam te kom reis deur hierdie amazing boek.
Gedagte vir die Week:
“A tulip doesn’t strive to impress anyone. It doesn’t struggle to be different than a rose. It doesn’t have to. It is different. And there’s room in the garden for every flower”— Marianne Williamson