Wysheid in Lewenslesse IV

Potgooi:

 

“Chase your passion,
not your pension.”
— Denis Waitley —

Ons sluit ons maand se tema af oor die wysheid wat ons ontvang as ons leer uit die lewenslesse wat oor ons pad kom.

Vandag gaan dit oor: in elke les wat ons leer, is daar 'n keuse om te maak — en in elke keuse wat ons maak, is daar 'n les te leer.

Ons lewensreis is ʼn tapisserie waar elke besluit, elke keuse wat gemaak word, ʼn draad verteenwoordig waar ons ʼn pad gekies het wat ons gelei het na ʼn dieper begrip van wie ons is en ons plek in die wêreld.

Elke oomblik van die dag word daar keuses gemaak. Sommige is onbeduidend en gewoon — wat om aan te trek, wat om te eet — maar ander het ʼn monumentale invloed op ons lewe. Dit is keuses wat die verloop van jou lewe gaan bepaal — ons verhoudings, ons loopbane, kinders se toekoms, en alles wat 'n direkte invloed op ons fisiese en geestelike gesondheid het.

My pa het altyd gesê, “Die keuses wat ons maak, teken die prentjies van wie ons werklik is.” Ons keuses definieer wie ons is en hoe ons ons lewens leef.

Dit is die keuses wat ons maak wat wys wie ons werklik is, en nie ons vermoë om netjies om die keuses van die lewe te navigeer nie… nog minder ons bekwaamheid om weg te kom met die maskers wat ons dra of die rolle wat ons speel nie.

Wanneer ons met opregte intensies en duidelikheid kies, word ons besluite instrumente vir groei. Dit bring vir ons kennis, begrip, en wysheid. Hierdie wysheid is nie bloot ʼn intellektuele vermoë nie, maar “a deep, resonant knowing that comes from lived experience,” soos Brené Brown daarna verwys.

Sy praat baie in haar boeke oor ‘Vulnerability’ en  ‘Authenticity’ — elke keuse wat ons maak wat ʼn diepgaande invloed op ons lewe gaan hê, laat ons weerloos en kwesbaar voel.

Min mense wil na daardie plek aan die binnekant gaan uit vrees vir wat die gevolge gaan wees.

So stagneer ons in die same-old-same geut waar ons net water herlei van dak na drein sonder om ooit ʼn leivoor te wees na ʼn vrugteboord van vervulling en beddings van ʼn betekenisvolle lewe.

As ons nie bereid is om weerloos te wees nie, hoe op dees aarde gaan ons ooit die moed en dapperheid hê om enige iets sinvol by te dra, of ooit ons doel bereik nie?

Sonder ‘authenticity’ leef ons gewoon in die skaduwees van ander. Deur eerlik met onsself te wees, en daardie waarheid uit te leef, is seker die grootste inspirasie vir goeie keuses in ons lewe. So kan ons besluite neem wat getrou is aan onsself, selfs as die moeilik is. Dit kweek selfvertroue en selfwaarde.

Ons kan tog nie deur die lewe gaan en onseker voel oor elke liewe keuse wat gemaak moet word nie — en onthou, om NIE te kies nie, is ook 'n keuse!

Soos laas week ook gesê, ons vrees vir mislukking en teleurstelling maak dat ons niks leer nie, niks groei nie, altyd voel dat ons tekortskiet, en nooit dit waag om ʼn keuse te maak vir dit wat ons siel voed en ons laat voel dat ons ons potensiaal bereik nie.

Natuurlik maak ons almal van tyd tot tyd ʼn keuse wat in die oomblik na die regte besluit lyk maar kort daarna weet ons dit was ʼn fout. Dan kom die spyt en selfverwyt waarin die ego floreer. Die skuldgevoelens bekruip ons en die vrees oorweldig ons.

Die eerste vraag wat jy dan jouself moet vra, is: wat het ek hieruit geleer; hoe gaan ek anders hierop reageer?

“You build on failure. You use it as a stepping stone. Close the door on the past. You don't try to forget the mistakes, but you don't dwell on it. You don't let it have any of your energy, or any of your time, or any of your space.” — Johnny Cash

As ek werklik eerlik is met myself, dan is die grootste teleurstellings in my lewe nie oor die goed wat ek gedoen het nie, maar juis dit wat ek NIE gedoen het nie. Dis die kanse wat ek gehad het en te bang was om dit te vat waaroor ek die meeste spyt is.

Wat is dit wat jy wil hê? Wat wil jy bereik? Wat is jou intensies? Wat sou jy anders wil doen? Waarna verlang jy?

Dit is die vrae wat ek myself vra as ek voel ek is in ʼn doodloopstraat, of as goed nie uitwerk soos ek gehoop het dit sal nie.

Dan maak ek ʼn keuse vir dit wat my entoesiasties en opgewonde maak, vir dit wat my lewe diepte en dimensie gee, vir dit wat waarde toevoeg tot my lewe en my laat oorloop om waarde toe te voeg tot ander se lewe.

Onthou jy nog hoe dit gevoel het om verlief te wees op iemand? Daardie energie wat vanuit die binneste oorborrel en jy geglo het dat niks en niemand gaan jou stuit om te kry wat jy glo jou lewe gaan verander en verryk nie.

Waar het jy dit verloor? Wie het jou eenmaal net te min liefgehad dat jy opgegee het om te droom en sandkastele te bou? Wat was die bedrag op daardie pay-check toe jy jou siel verloën het en jy gedink het geld sal daai gat aan die binnekant heelmaak?

Kom ons sluit Sondag ons maand se tema oor die LESSE van die lewe af met ʼn handvol maniere hoe om te leer om die regte besluite en keuses in die lewe te maak.

JA, ons kan uitstel. Ons kan wag vir later wat ons hoop nooit sal kom nie, maar op die ou einde van die dag gaan ons ʼn keuse moet maak, want die siel gaan aanhou klop.

You have a chance to make a choice for change!

Doen dit met liefde.

Soos altyd.

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“Life is about choices. Some we regret, some we’re proud of. Some will haunt us forever. The message: we are what we chose to be.” 
― Graham Brown ―

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights