Potgooi:
Podcast:
“Kindness is the light that dissolves all walls between souls, families, and nations.”
― Paramahansa Yogananda —Hierdie maand gesels ons oor die waarheid en wysheid van Mistici wat ʼn brug kon bou tussen die Ooste en die Weste. Ons het reeds gesels oor Rumi en Kahlil Gibran en vandag gaan oor Paramahansa Yogananda.
Voor jy skrik vir die naam en ophou lees, wil ek vra jy moet net diep asemhaal en dan luister waarom hierdie man so groot invloed op my spirituele lewe gehad het en steeds het.
Ons is tog só bang vir enige iets vanuit die ‘Ooste’ asof die manne met hul goud, wierook, en mirre ʼn bedreiging was vir Jesus se Joodse tradisie.
Yogananda is gebore as Mukunda Lal Ghosh op 5 Januarie 1893 in Gorakhpur in Indië. Sedert ʼn baie jong ouderdom was hy geïnteresseerd in spiritualiteit en yoga.
In 1917 stig hy die Yogoda Satsanga Society in Indië wat ʼn spirituele en opvoedkundige organisasie was.
In 1920 verhuis hy na Boston in Amerika en kort daarna vestig hy homself in Los Angeles, California, waar hy die Self-Realization Fellowship (SRF) stig. Die res van sy lewe sou hy in Amerika spandeer om lesings te gee oor yoga, meditasie, en “spiritual awakening”.
Sy bekendste boek is “Autobiography of a Yogi” (1946) wat ʼn oorsig gee van sy lewe, spirituele praktyke, en ontmoetings met verskeie spirituele leiers uit verskillende godsdiens-tradisies.
Maar dit is sy “The Second Coming of Christ: The Resurrection of the Christ Within You” wat ʼn blywende indruk op my lewe en Christenskap sou hê.
Hoe is dit dat ʼn Indiese Hindoe-monnik vir my soveel kon leer oor Jesus van Nasaret?
Hierdie monumentale boek wat in twee volumes gedruk is en 1,600 bladsye beslaan, dek die vier Evangelies waar hy die leer en lewe van Jesus bespreek uit ʼn Yogi perspektief met die klem op die universele spirituele waarhede wat gevind word in die Christendom.
Met besonderheid behandel hy die vier Evangelies en bespreek in detail die relevansie van Jesus se invloed op ons elkeen se individuele spirituele reis.
Sy kommentaar en analise oor elke aspek van Jesus se lewe, sy insig oor Jesus as ‘teacher and healer’, en uitleg van die gelykenisse en wonders van Jesus laat ʼn mens in verwondering oor die diepte van sy teologiese wysheid en verstaan.
In hierdie omvattende werk stel Yogananda voor dat baie van Jesus se leringe ʼn dieper spirituele betekenis het wat veel dieper gaan as die letterlike interpretasie wat in tradisionele Christendom gevind word. Vir hom was dit duidelik dat Jesus se woorde universele en tydlose waarhede vervat.
Hy maak ook ʼn onderskeid tussen Jesus (die historiese mens) en die Christus (Jesus se refleksie van die Goddelike). Dit is asof hy die Pauliniese teologie goed verstaan.
In Richard Rohr se boek ‘The Universal Christ’ (wat in 2019 gepubliseer is) maak hy ook die punt dat die Christus (die gesalfde) ʼn vergestalting is van die ganse kosmos — “Everything is sacred, everything is anointed!” eggo Rohr dwarsdeur sy boek.
Yogananda maak ʼn onderskeid tussen ons ‘Human Consciousness’ (ons menswees), ‘Christ Consciousness’ (ons in God), ‘Divine Consciousness’ (God in ons), en ‘Cosmic Consciousness’ (God in alles).
Hier is ʼn handvol gedeeltes uit hierdie formidabele boek wat die moeite werd is om te onthou —
“The soul needs nothing but to remember the Divine wealth it already possesses.”
— Paramahansa Yogananda —Op ʼn roerende mooi manier beskryf hy Jesus wat deur die ‘beperkinge’ van mensgemaakte reëls breek om vir ʼn Samaritaanse vrou te vra vir water. Haar ‘spiritual healing’ loop oor na haar dorpie en so word sy ʼn getuienis van ʼn reis IN Christus.
“Change yourself and you have done your part in changing the world.”
— Paramahansa Yogananda —Hy verwys na Jesus se woorde in Matteus 18:10 as hy parafraseer: “Wees versigtig wat jul met hierdie kinders doen want hulle engele is in die teenwoordigheid van God.”
Hy praat oor die onskuld van kinders, die ontvanklikheid, die vermoë om te vergewe, en die entoesiasme om te leer en te ervaar. Alles attributes wat ons van kinders kan leer.
“It is spiritual poverty, not material lack, that lies at the core of all human suffering.”
— Paramahansa Yogananda —Die les wat hy onderstreep, is om die goed te gaan verkoop wat JÓÚ besit. Om eerlik te wees met jouself want die wêreld verstik aan ‘skynheiligheid’ — as jy eerlik is met jouself sal jy die pad na innerlike vrede vind.
“Be afraid of nothing. Hating none, giving love to all, feeling the love of God, seeing His presence in everyone, and having but one desire – for His constant presence in the temple of your consciousness – that is the way to live in this world.”
— Paramahansa Yogananda —In die konteks van die hele Bergpredikasie plaas Yogananda hierdie gebed sentraal en pleit hy dat daar veel meer erns moet wees met ons gebedslewe. Gebed is nie “God on demand” nie maar eerder gefokusde gedagtes en intensies.
“When we die we become, again, one with the Great Light of the universe. That is the Light of the Infinite Christ, the God-essence and substance of all creation.”
— Paramahansa Yogananda —Die ‘opstanding’ is ʼn manifestasie van Lewe wat nie gebind is aan vlees en bloed nie. Dit is nie ʼn resussitasie van ʼn liggaam nie maar ʼn herlewing, renaissance, vernuwing in die Teenwoordigheid van God. Wat die dissipels ervaar het van Jesus na sy dood was ‘insig’ meer as ‘sig’ en so is hulle wedergebore IN Christus.
Hy sterf op 7 Maart 1952 — hy was 59 jaar oud.
Ons gaan Sondag in meer detail na hierdie VYF momente in Jesus se lewe kyk en hoe hy dit soos ʼn lemoen oopbreek sodat ons dit saam kan eet en van die water kan drink wat ʼn ewige dors sal les.
Mag ons as Christene die Liefde van God in elke aksie en reaksie reflekteer want soos Yogananda sê, “Love is the song of the soul singing to God.”
Soos altyd
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.