Woordeskat vir Emosies II

Potgooi:

 

“When you do things from your soul, you feel a river moving in you, with joy.”
— Rumi —

Stel jou voor dat ons emosies is soos ʼn rivier — soms kalm, soms wild, met stroomversnellings en watervalle oor skerp rotspunte, dan weer rustig met ʼn breë oewer waar als welig en vrugbaar groei.

Oral waar die rivier vloei, bring dit lewe. Dit bevrug die grond en bring vernuwing vir mens, plant, en dier.

Wanneer jy jou emosies onderdruk, is dit soos om ʼn dam te bou. Aanvanklik lyk dit asof die dam rustigheid bring. Die water word teruggehou, en op die oppervlakte lyk alles kalm en onder beheer, maar onder dit als bou die druk op.

Hoe meer negatiewe emosies onderdruk word — hartseer, woede, vrees, frustrasie, en verwyte — hoe meer spanning bou dit op.

Uiteindelik gebeur een van twee dinge —

As water nie beweeg nie word dit troebel, toksies, en leweloos. Dit verteenwoordig emosionele gevoelloosheid. Ons voel ‘numb’ en kronies depressief. Ons voel vol maar leeg tegelyk. Ons loop oor met als wat ons móét-doen maar bly onvervuld in dit wat ons lewensdoel is.

As die druk aanhou toeneem, gaan daai damwal breek — wat lei tot emosionele uitbarstings en ineenstortings, met self-destruktiewe gedrag wat elke verhouding waarin ons staan verspoel tot ʼn vloed van opdrifsels.

In plaas van om die rivier te blok, kan ons leer hoe om kanale en leivore te maak. Dit beteken ons gee uiting aan ons emosies op ʼn gesonde manier — daar is vloei en herkenning. Op so manier word emosies ʼn bron van wysheid wat lei tot diep, betekenisvolle verhoudings.

Soos laas week genoem, kan ons nie selektief sekere emosies onderdruk of ontken nie — as ons negatiewe emosies onderdruk, doen ons dit ook met positiewe emosies.

Gaan jy deur spanning by die werk is dit onmoontlik om jou kinders se vreugde en entoesiasme te deel. As daar ʼn krisis tuis is, beïnvloed dit jou produktiwiteit by die werk. Wanneer daar irritasie is tussen man en vrou, is daar geen intimiteit of liefde nie.

Dieselfde met die damwal metafoor —

As ons spyt en verwyte onderdruk, bars dit skielik uit in woede of stil-stuipe wat lei tot bitterheid, maar as daar oop kommunikasie is, kan die ‘rivier’ vloei.

Wanneer ons hartseer en twyfel ontken, mis ons uit op ʼn dieper geloof en transformasie. Egte spiritualiteit omarm die volle spektrum van emosies.

Dit is my beskeie mening dat mense wat nie met vrymoedigheid die landskap van hul gedagtes en gevoelens met ander kan deel nie, kan nooit werklik hulself wees nie. Dit lei daartoe dat ons die hele tyd agter maskers leef, in ʼn wêreld van voorgee net sodat ander nie sal sien hoe sielsongelukkig ons aan die binnekant is nie.

Op die ou einde van die dag is ook dít ʼn keuse — jy kan sê, “Dit is donker!” of jy kan sê, “Kyk die sterre.” Jy kan sê, “Te veel dorings!” of jy kan sê, “Kyk hoe mooi is die rose.” Jy kan sê, “Die golwe is gevaarlik!” of “Bou vir my 'n sandkasteel.”

Die vraag is: HOE kweek, koester, en kultiveer ons die vermoë om te kan praat oor die dinge in en van die hart?

Ons almal het tog gesprekke met onsself. Solank ons wakker is, hou daai interne dialoog nooit op nie, en selfs as ons slaap, droom ons in metafore.

As jy enigsins bewustelik lewe sal jy daai stil-stem aan die binnekant herken. Die fluistering wat vir jou die groen lig gee op ʼn besluit wat jy moet neem, of die rooi vlaggie om jou te waarsku as iets nie goed is vir jou menswees nie.

Ek praat van iets veel dieper as jou GEWETE.

GEWETE word gevorm deur eksterne faktore en invloede — kultuur, sosiale norme, opvoeding, godsdiens, en ervarings uit jou verlede. Die Stem van die Siel is dieper, meer authentic, en die essensie van wie ons is as beeld draers van God.

GEWETE oordeel maklik wat ons in skuldgevoelens en vrees dompel. Die STEM van die SIEL lei ons na “groen weivelde en waters van rus” of soos Richard Rohr dit mooi verwoord —

“The soul’s voice is not judgmental; it is invitational. It whispers truth and calls us toward wholeness.”

GEWETE kan gemanipuleer word. Die geskiedenis het ons gewys hoe mense se ‘gewete’ gekondisioneer kan word om oorlog en diskriminasie te regverdig. Die Stem van die Siel kan nie gemanipuleer word nie en is die fluister van die Stem van God (i.e. Heilige Gees).

GEWETE is vrees-gedrewe en die Stem van die Siel praat uit ʼn plek van liefde. Die gewete verval maklik in vrees vir straf en verwerping. Die Stem van die Siel wil altyd die liefde meer maak, uitbrei en verdiep. Dit forseer niks nie — dit nooi uit, inspireer, en roep ons na binne waar dit oorloop van vreugde en vrede.

GEWETE gaan oor reëls. Die Stem van die Siel gaan oor waarheid, en bemagtig jou om jouself te belyn met wie jy geroep is om te wees. As ons net vir ʼn oomblik stil genoeg wil raak om te luister en te hoor, te kyk en te sien.

GEWETE is belangrik, maar dit is NIE die Stem van die Siel nie. Dit is maklik om met ander te praat oor wat ‘reg’ en ‘verkeerd’ is, wat gedoen en nie gedoen moet word nie, wat van jou verwag word en wat jy anders en beter moet doen — maar wat VOEL jy, en is jou hart oop?

Ons gaan Sondag gesels oor die redes en maniere wat ons damwalle bou en hoe om leivore te maak na ʼn tuin waar die beddings van ons gevoel welig blom, en na ʼn boord van vrugte wat ons siel voed.

Met liefde

Soos altyd

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“You can’t heal
what you refuse to feel.”  

― Gabor Maté ―

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights