Interpersoonlike verhoudings - 5 Julie 2023

“I've learned that people will forget what you said, people will forget what you did, but people will never forget how you made them feel.”― Maya Angelou —

Ons is verby die halfpadmerk van hierdie jaar. Dit is my geboortemaand en omrede hierdie jaar ʼn grote is, is daar by my 'n besinning oor alles waarvoor ek dankbaar is, 'n terugblik oor alles wat die laaste ses dekades geleer is, asook 'n besonderse evaluering wat ek saamvat vir die volgende seisoen van my lewe.

Daar was nog altyd by my ʼn soek (en vind) na dit wat betekenis gee in my lewe. Selfs in die onsin van sekere omstandighede kan daar sin gevind word as jy daarna vra. Miskien is dit dan ook die rede hoekom ek elke dag iets NUUT wil ervaar, daar moet beweging en groei wees. Die lewe is nie staties nie en ek wil deel wees van daardie vloei — altyd iets om te leer en te verfyn om ʼn beter weergawe van myself te wees.

Vir my persoonlik mis ʼn mens jou doel as jy stagneer. Om in ʼn geut te leef — the very definition of mediocrity  lei tot ʼn lewe wat onvervuld en leeg voel.r.  Die gevoel dat geleenthede deur jou vingers glip met onvervulde potensiaal wat ly onder spyt en selfverwyt.

Dit alles het ʼn enorme impak op ons interpersoonlike verhoudings, wat die eerste van die lewenslesse is wat ons hierdie maand gaan bespreek oor die vraag — WAT GEE BETEKENIS IN JOU LEWE?

“The quality of your life ultimately depends on the quality of your relationships ... which are basically a reflection of your sense of decency, your ability to think of others, your generosity.” ― Esther Perel

Verhoudings gaan oor konneksie wat die bron van alle vervulling is. Dit staan sentraal in ons menswees en dra by tot ons algehele intellektuele, spirituele, en emosionele welstand.

Die kwaliteit van ons verhoudings lei tot emosionele intimiteit en ʼn deurleefde gevoel van egtheid (authenticity). Binne sulke verhoudings kan ʼn mens volkome jouself wees sonder vrees vir veroordeling of verwerping. Daar is ook die vryheid om jou eie individualiteit te behou en steeds naby ander te wees wat in elke opsig lei tot ʼn meer vervullende lewenservaring.

Die afgelope naweek het ek die voorreg gehad om my sussie se dogter te trou. Daar is gekuier saam met my moeder en ander familie om vreugdevolle tafels in die genoeglikheid van mense wat mekaar mildelik liefhet. Keer op keer, en nóg ʼn keer, het ek besef hoe geseënd ek is om deel van ʼn familie te wees waar daar onvoorwaardelike liefde is.

Omrede ek in so 'n huis grootgeword het, het ek altyd gedink dit is hoe dit vir almal is — min het ek geweet hoe skaars dit is waar ouers teenoor mekaar en elke ouer individueel teenoor elke kind ʼn liefde inspireer waarin ʼn mens geborge en veilig voel. Nog nie een enkele keer in my lewe het my twee ouers my geweeg en te lig bevind nie, nog nie ʼn enkele keer my veroordeel of uitgestoot nie en dit ten spyte van vele teleurstellings, hartseer, en foute wat gemaak is in my lewe.

Uiteraard is my pa inniglik gemis die naweek en sou sy humor, persoonlikheid, en verfynde aanvoeling ʼn groot bydrae gemaak het tot die toegeneentheid van so 'n wonderlike samekoms en tog het ons almal sy teenwoordigheid gevoel. Daardie band kan nooit deur die dood gebreek word nie. Dit bly by en in en om ons.

Soos ek die pad terugvat Kaap toe, ry ons deur die groen van die landerye wat weelderig spog ná die heerlike winterreën. Oral is dit mooi met elke spruit en rivier wat tot aan sy oewers vol water is. Al langs die berge langs met die seewolke wat inrol soos wat ʼn mens nader aan die Kaap kom.

Skielik is ʼn mens bewus van die daardie Groot Verhouding waarin ons staan. Ons soek na doel en betekenis en vervulling in ons reis deur hierdie wêreld. Ons smag na ʼn lewe wat nie net bestaan nie, maar een wat werklik betekenisvol is.

Onverhoeds oorweldig die emosie my dat die LIEFDE van hierdie Groot Verhouding is die liefde wat in my ouers oorgeloop het na ons as kinders, en nou op my leeftyd besef ek hoe daardie liefde ook in my oorloop na my seun.

Die loopbaan wat my gekies het, is om in diens van hierdie LIEFDE te staan en ʼn positiewe verskil te maak in ander se lewe en dat dit ʼn geskenk is wat ek ontvang het en met vrymoedigheid en verniet aan ander gee.

Instinktief weet ek hoe ons verhouding met die natuur, ons verhouding met vriende en familie, en ons verhouding met die een wat jou hartkamers deel, geweef is in ons verhouding met dit wat ons beskryf en ervaar as GOD.

Ons gaan Sondag na ʼn paar vrae kyk wat vra oor wat betekenis het in jou lewe en hoe dit ons verhoudings met ander skoei en snoei.

  • Watter ervarings bring werklik vreugde en 'n sin van vervulling in jou lewe?
  • Wat is die waardes wat ons aksies en reaksies rigting en betekenis gee?
  • Wat is die verhoudings in jou lewe wat waarde toevoeg en waarin ons gedy?
  • Wanneer voel jy verbind (connected), geïnspireerd, en deel van die Lewe se vloei?

Mag die res van die week op ʼn duisend plekke, in ʼn duisend stemme, op ʼn duisend maniere vir jou wys wat het werklik betekenis in jou lewe. Sit die goed wat jou terughou neer, laat los die goed wat jou gevange hou, en laat gaan die besittings wat JOU besit.

Met liefde

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“You can talk with someone for years, everyday, and still, it won't mean as much as what you can have when you sit in front of someone, not saying a word, yet you feel that person with your heart, you feel like you have known the person for forever.... connections are made with the heart, not the tongue.”― C. JoyBell C 

SONDAGBYEENKOMSTE

Om ons weeklikse "Broodjie vir die Week" per e-pos te ontvang, voltooi asseblief:

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights