LITURGIE: 18_februarie_2018
Ons gesels die maand oor — MY WARE IDENTITEIT -- en het laas Sondag dit onderstreep dat ons is nie ʼn ID nommer nie. Om geklassifiseer te word as man of vrou, klas en ras, is nie ons ware identiteit nie. Dit gaan oor wat onder ons vel lê en oor ʼn kollektiewe identiteit waar ons as mensdom deel uitmaak van ʼn inklusiewe sirkel waarvan ons almal deel is. Die waterdruppel mag op die oppervlakte lyk na ʼn eiesoortige karakter in vorm en aard maar dit is onlosmaaklik deel van die Oseaan. Die saadkorrel mag lyk of dit eie is maar is nét so onlosmaaklik deel van die stam en blare, vrugte en blomme as sy wortels met die grond, en sy takke met die voëls van die hemel. Wat ons sê is dat ons ooreenstemming en eendersheid die leivore en fonteine is na ons ware identiteit.
Die eerste sleutel om ons ware identiteit te ontsluit, is GEBED en ons het (weer) gesels oor gebed as gefokusde gedagtes en intensies. Dat gebed die wortels is van ons Tree-of-Life wat ons soos in die film Avatar verbind met alles wat lewe — en dat gebed ʼn naelstring is van lig, lewe, en liefde wat geheel en al manifesteer op ʼn spirituele domein en hoegenaamd nie gaan oor ʼn verlustiging in materiële behoeftes en verwagtinge nie ... of altans, om vir ons ʼn spirituele insig te gee oor ons materiële (vorm, definisie, dimensie) bestaan! Soos belowe sluit ek die brief van Ben de Toit in wat gaan oor Angus en ‘bid vir reën’ ...
Die Teoloog Dr. Ben du Toit skryf:
Hierdie spel met God en gebed oor reën in die Kaap, waaraan Die Burger hartlik meedoen (beriggewing oor Angus se onsinnige aansprake en Hanekom se ewe onsinnig gekwalifiseerde aansprake oor die sogenaamde godheid se motiewe en vermoëns) wreek sigself op enige geloofwaardige aanname dat daar iewers 'n metafisiese, (al)magtige wese is wat die lot van mens en natuur beheer en (kan) beïnvloed. 'n Paar punte:
1. Hoe werk hierdie sonde-en-straf ding? Wie se sonde? Die gelowiges s'n? Of die ongelowiges s'n?
2. Indien dit die ongelowiges s'n is, hoe gaan die gelowiges se gebid en verootmoediging (die NGK het ook saam met ander kerke amptelik gevra vir verootmoediging, wat in wese niks verskil van Angus se aanduiding van al die sondes van Kaapstad nie - selle ding, die een net meer gesofistikeerd geformuleer as die ander) die godheid se hart vermurwe om... om... om reën (!) te gee?
3. Indien dit die gelowiges se sondes is, hoe verstaan Christene dan hulle eie teologie, wat leer dat Jesus vir hulle sondes aan die kruis gesterf het. Eenmaal vir altyd! Was dit toe nie genoeg nie? En waar is die onvoorwaardelike liefde en genade van “God” dan?
4. Eintlik is Hanekom se weergawe en verduideliking van die toedrag van sake 'n groter probleem vir die integriteit van enige aansprake op die intervensie van 'n godheid, want alhoewel “Hy” kan reën gee, kan hy darem nou nie van die Kaap 'n “subtropiese streek” maak nie. Hoekom nie? Oor die natuurmatige aard van seisoene en/of geografiese streke? Is God verhewe of onderhewig aan sy eie skepping? Verwarrend, om die minste te sê.
5. Dis al dikwels elders gesê dat dit 'n copout strategie met hierdie belaglikhede gegewe is: reën dit wel na hierdie gebede/verootmoediging, bewys dit die krag van God/gebed. Reën dit nie, dan is die rede daarvoor die voortdurende sonde van “die mense” (wie is hulle, as dit nie meer vandag soos in die Ou Testament 'n homogene groep - die Volk van God - is nie, punte hierbo?).
6. En les bes, het ons hier óók nog te make met die misterieuse “wil van God” waaraan die ganse mensdom van hier tot in New York, Nieu-Seeland en Neu Delhi, asook Timbuktu en Ulundi uitgelewer is.
Die konsep van bemiddeling deur gebed van 'n godheid skep meer probleme as oplossings.
7. Die redes vir die watertekort in die Kaap (en immanent in die hele land) is glashelder duidelik. Ondervoorsiening deur swak beplanning en bestuur en minagting van waarskuwings van meer as 'n dekade gelede deur wetenskaplike navorsing, deur die regering op al drie vlakke van regering, aan die eenkant, en die bevolkingsaanwas, demografiese skuiwe en ontwikkeling in SA aan die anderkant.
Dat “geestelike leiers” nou op opportunistiese wyse die redders van die land wil wees, is nie alleen 'n bedenklike refleksie op hulle self nie, maar óók op die massas wat aan hulle gehoorsaam is.
Toe het ons gesels oor AFSONDERING (solitude) en hoe belangrik stiltetyd is. Hoe ons nie ons beddings van waarheid en boord van wysheid kan spit en snoei as dit onder die kakofonie van lawaai en malle gejaag deur die dag is nie. Ons het nodig om stil te word en bek-te-hou sodat ons kan sinchroniseer met die groot Melodie en ons balans en harmonie sal vind met die groot Simfonie.
Eerskomende Sondag gaan ons die derde sleutel verken naamlik: LET OP (pay attention). Ware Identiteit gaan oor betekenis (meaningfulness), bydrae (contribution), begrip (understanding), roeping (calling), en doel (purpose). Mý lewe is nie die middelpunt van die skepping nie en ek leef in relasie tot alles om my. Ek het die water uit die strome en die vrugte van die grond nét so nodig om te oorleef as enige ander vorm van lewe op dié planeet. Die boublokke (waterstof, suurstof, koolstof en stikstof) wat in die verste planete en sterre, maar ook in elke plant, klip, sandkorrel en dier is, is ook die hoekstene van jou en my liggaam. Die oomblik as ons dít besef word ons ganse lewe ʼn viering van Lewe (i.e. God). Dit vra ʼn kopskuif. Dit vra vir die ontvanklikheid en onskuld van ʼn kind. Dit vra vir die entoesiasme en dapperheid van ʼn jong adolessent. Dit vra vir die deursettingsvermoë en volharding van ʼn volwassene. Dit vra vir die wysheid en geduld van ʼn bejaarde.
Kom ons ontsluit Sondag nog ʼn deur na ons Ware Identiteit — let us pay attention to the technicolour dreamcoat of God’s grace, compassion and unconditional love!
🌺 ACIM — Stad 19h30: 19 Februarie — en Kolping 19h30: 15 Februarie — Lessons 51-61 (which is a REVIEW on everything we’ve been reading the last 3 years!)
Gedagte vir die Week:
“And be not conformed to the perpetuity of time, but be transformed by the renewing of your mind, for your proving what is the will (splendour, desire, delight) of God — the good, and acceptable, and perfect.” ― Romans 12:2 (direct translation)