LITURGIE: 14_januarie_2018
Ons tema vir die maand is — MY WARE IDENTITEIT -- wat beteken ‘ware identiteit’? Is ek ʼn pa, eggenoot, vriend, onderwyser, passasier, of pasiënt? Al hierdie verwysings is relatief tot iets/iemand anders: ek is ʼn pa omdat ek ʼn kind het; ʼn eggenoot omdat ek ʼn vrou het; ʼn vriend tussen vriende; ʼn onderwyser voor kinders; ʼn passasier omdat ek in ʼn trein of vliegtuig sit; en ʼn pasiënt want ek is by ʼn dokter. Die vraag is dan, wie is ek binne die sfeer van al hierdie identiteite? Is ek die somtotaal van als wat ek glo ek is of is daar iets meer as dit wat as die fondasie of hoeksteen beskou kan word?
Die dilemma van die moderne mens, vanweë ʼn verskeidenheid faktore, is die feit dat ons so oordonder word met sisteme en informasie dat ons elke ander dag ʼn ander identiteit aanneem ... en met identiteit praat ons nie van klas, naam, geslag, karakter, ras, of nasionaliteit nie — ons praat van iets wat groter, dieper, wyer is as al hierdie bordjies en etikette. So wat is hierdie ‘ware identiteit’ dan? Die woorde van Pierre Teilhard de Chardin gee die antwoord, “We are not human beings having a spiritual experience. We are spiritual beings having a human experience.”
Ons raak maklik verdwaal in wat ander mense van ons dink en verloën onsself uit vrees vir verwerping. Ons dra ons maskers en speel ons rolle en doen dit so goed dat ons later nie eers meer weet wie ons is sonder die kostuum en weg van die teater nie. ʼn Man sit gister op my bank, al die pad van Mpumalanga. Hy is op die oomblik in die Kaap om te kyk na die moontlikheid om van beroep te verander. “Dis braaf!” begin ek die gesprek. Hy is leraar in die NGK en maak sy hart oop dat hy weens verskeie redes nie meer die “leuen” kan leef nie. Hy voel dat hy Sondae goed sê wat hyself nie meer glo nie en dat hy meer as gereeld voel om sy kollega met sy “vroomheid en gatkruiperige nederigheid oor ʼn tafel te slinger.” Hy kan nie bedank voor hy nie ander werk het nie, sug hy. “Wie is jy as jy nie op die kansel staan of ʼn toga aan het nie?” vra ek versigtig met my oog op die tafel agter my. Hy staan op en stap na die skuifdeur met ʼn uitsig oor die stad ... “Ek het geen idee meer nie, ek het iets geword wat ek my hele lewe lank verag!” en sy stem breek. Ek laat hom begaan en vyf minute word tien waar ʼn vreemde man voor ʼn ruit staan en snik in sy soeke na mens, na suiwerheid, na God.
Laas Sondag het ons oor die eerste sleutel gesels wat die sluier lig na ons ware identiteit naamlik: GEBED. Ons het gesels oor die belangrikheid van gebed wat vir jou ʼn uitsig gee, en uitsig bring altyd insig. Dat gebed nie ʼn inkopielys van behoeftes en verwagtinge is nie maar ʼn oomblik waar hemel aan aarde raak; ʼn intieme oomblik van naaktheid voor God; om in kontak te kom met ons ware Self en dan met nuwe perspektief ons lewe en al sy nuanses in konteks te sien. Eerskomende Sondag gaan ons oor die tweede sleutel gesels, naamlik: AFSONDERING (solitude).
Miskien was dit die feit dat ek grootgeword het in verafgeleë plekke waar ek as kind van kleinsaf moes leer om myself besig te hou, of dalk die feit dat ek Graad 1 na ʼn koshuis is waar als en almal aardsvreemd was en ek geleer het om okay te wees met (net) myself. My metgeselle was die hemel met sy sterre en die maan, maar meestal net my eie onbeduidende self. Ek het niks en niemand nodig gehad om te wees nie en ek hoef nêrens te gewees het om gelukkig te wees nie. Dis daarom nie vreemd dat ek later met die strukture sou bots wat wou hê ek moes konformeer en toe uitgesluit is omdat ek nie ʼn kudde-of-kraal-mens is nie.
My totale bediening, binne en buite georganiseerde kerk, was nog altyd om mense te bemagtig om hierdie moeilike vrae te vra en aan te hou vra tot die Antwoord kom waarvan die vrae met drie opgesom kan word: Who am I ...? Where am I going ...? What will sustain me ...?
Hierdie vrae het te doen met betekenis (meaningfulness), bydrae (contribution), begrip (understanding), roeping(calling), en doel (purpose) è en DÍT het te doen met identiteit, ware identiteit. As GEBED die een vlerk is dan is AFSONDERING die ander vlerk maar die meeste mense vermy afsondering soos pes want ons dink aan ‘afsondering’ as ‘alleen’ en al|een is ʼn konfrontasie met eensaamheid. Dit het hoegenaamd nie met mekaar te doen nie! Ons weet nie net hoe om stil te word nie, ons het geen begrip wat afsondering beteken nie en in elk geval klink dit vir die meeste mense na ʼn plek waar jy met jou wonde, pyn, seer, verlange, en vrese gekonfronteer gaan word en tog asseblief net nie dit nie. Ons is ʼn samelewing wat gesofistikeerd dit regkry om alle pyn te vermy, verdoof, of te ontken. Veral my eie verdwaal en vervreemding.
Kom ons praat Sondag oor (i) eensaamheid — from loneliness to solitude (ii) entiteit — from entity to identity (iii) kreatiwiteit — from insecurity to creativity.
Die besoeker vra of ek vir hom ʼn gebed sal doen voor hy loop en ek sê, “Net as jy ook vir mý ʼn gebed sal doen ...” — en so gaan twee groot mans op hul knieë en sluit hul oë. Die oomblik is heilig. Die Teenwoordigheid aanvoelbaar. Tussen ons is net die Asem. Ons sê ‘Amen’ en hy vra of hy net nog so rukkie hier kan sit en na die berg kyk. Ons sê niks. Vyf minute word tien. Ons sê niks ... dit was die mees sinvolste 10 minute in ʼn lang tyd.
🌺 ACIM — Stad 19h30: 19 Februarie — en Kolping 19h30: 15 Februarie — Lessons 51-61 (which is a REVIEW on everything we’ve been reading the last 3 years!)
Gedagte vir die Week:
“Many people suffer from the fear of finding oneself alone, and so they don't find themselves at all.” ― Rollo May, ‘Man's Search for Himself’