LITURGIE: 4_februarie_2018
ONCE IN A BLUE MOON — eenkeer per maand gaan die son en die maan op ʼn ‘date’ ... vader son en moeder maan gaan staan teenoor mekaar en baai die Aarde in hul lig. Die kinders van dié planeet raak bonkers as die son met die maan kotiljons. Des te meer as dit tweemaal in een maand gebeur asof ons eie water eb en vloed en daar net nie genoeg strande in ons gemoed is om die golwe tot bedaring te bring nie.
Die maan ... die stil wit ballon wat die Aarde ken laaaank voor enige iets of iemand ʼn teken van lewe getoon het op dié planeet. Sy was ʼn getuie van elke storm en vulkaan, elke meteoriet aanslag, elke verskroeiing en verysing. Sy het gesien hoe een spesie dit regkry om mekaar te verknetter met bomme en konsentrasiekampe asook die moeite van dieselfde spesie om plantasies en woude tot op hul bodem te vernietig en die strome lewende water te vergiftig met als wat toksies en dodend is. Tog sê sy niks in haar stil teenwoordigheid nie. Wie kan die hart van die maan ontsluit?
Dit is totaal te verstane dat antieke beskawings hierdie fenomeen aanbid het vir die krag wat sy het dat selfs die magtige oseane voor haar krag moet buig. Vroue, in hul maan/stondes verstaan die ritme van vrugbaarheid tussen nuwe- en volmaan. Digters en skrywers, in alle kulture en oor eeue beskryf die liefde in die metafore van ‘son, maan, en sterre’ waarvan ons almal die strofe ken: The sun loved the moon so much he died every night to let her breathe.
Ons soek simbole waarmee ons kan assosieer en rituele wat ons herinner aan God se aanwesigheid in ons donker-, sekel-, en volmaan ritmes. Die mens het ʼn behoefte om te sien, hoor, ruik, proe en voel. Trouens, ons totale verstaan van waarheid en realiteit is gekoppel aan ons sintuie. Daarom moet ook God bevatlik, tasbaar deel van ons bestaanswerklikheid wees. Ons wil geken en geliefd wees deur God en bewus wees van God se leiding en riglyne in ons lewe. Ons spyker die Tien Gebooie teen ons kerke se kosyne en glo dat as ons dit doen, sal ons bemin en gekoester word deur God ... maar,
ONCE IN A BLUE MOON — moet onsself vra: who is this God that we cannot even begin to fathom his/her/its presence or ever grasped the omnipresence of his/her/its existence? Nog belangriker is die eerlikheid om te kan bely dat al sou ek nie gravitasie verstaan nie, ervaar ek dit; al besef ek nie altyd van waar of hoe die liefde se stroom my vind nie, voel ek dit; al weet ek God het geen vorm, definisie of dimensie nie, (h)erken ek die Bron van inspirasie; al het ek nie die woorde of begrip om die wisselwerking tussen dié Lewe en mý lewe te verduidelik nie, ken ek dit. So seker as wat die volmaan vanaand oor die Hottentots-Holland berge sal verskyn, glo ek in die inwonende teenwoordigheid van dié God wat ons op die naam roep met die belofte, “As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie” (Jesaja 43:2) want “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (Romeine 8:38-39) ... daarom,
ONCE IN A BLUE MOON — is dit tyd om ʼn antwoord te soek: hoe sal ons reageer as dié Lig my gedagtes vind en dié Liefde my hart verhelder in ʼn heilige ritme soos ʼn liefdesdans tussen twee bemindes wat weer en weer, keer op keer belowe, “To have and to hold” sodat ons ‘centre of gravity’ kan skuif na ons ware identiteit? Om dit te doen, moet ons stil raak. Stiller, stilte, stiltetyd ... en dit is hier waar GEBED ʼn kardinale rol speel om insig, perspektief, konteks, en betekenis te vind. Kom ons praat Sondag oor gebed — hoe moet ons bid; kan ons bid vir reën, werk, sukses; hoor en verhoor God ons gebede; waarom is gebed ons volmaan-oomblikke as dit donker is?
In die ‘Klein Prinsie’ sê die Jakkals, “ʼn Mens het rites nodig” waarop die Prinsie vra, “Wat is ʼn rite?” en die Jakkals antwoord, “Dis wat een dag anders maak as die ander. Een oomblik anders as ander oomblikke.” Kom ons gesels Sondag oor GEBED as ʼn heilige ritueel wat die Lig van Lewe met Liefde in ons sien, ruik, proe, hoor, en voel laat skyn!
🌺 ACIM — Stad 19h30: 4 Februarie — en Kolping 19h30: 1 Februarie — Lessons 51-61 (which is a REVIEW on everything we’ve been reading the last 3 years!)
Gedagte vir die Week:
“The moon is a loyal companion. It never leaves. It’s always there, watching, steadfast, knowing us in our light and dark moments, changing forever just as we do. Every day it’s a different version of itself. Sometimes weak and wan, sometimes strong and full of light. The moon understands what it means to be human. Uncertain. Alone. Cratered by imperfections.” ― Tahereh Mafi, ‘Shatter Me’